Die rus wat die wêreld nie ken nie

Deur Jo van Rooyen

Moeg-wees  het baie fasette.   As my man destyds moeg gewerk was van brood verdien, was  dit vir hom só lekker om saam met die Voortrekkers te kamp en as leier op ʼn heel ander vlak probleme aan te hoor en op te los. Dáár was allergieë en huisverlange  sy groot probleme.  By die kamp het hy met  ’n gesweet en geswoeg tentpenne met ʼn hamer ingeslaan, waar jy eintlik ʼn drukboor nodig het – die kantoor-moeg  skoon vergete.

Moeg hét baie fasette.

Liggaamlik moegheid kan deur ʼn warm bad en teruglê in jou eie stoel opgelos word, maar sielsmoegheid kan nie deur jou gemakstoel of ʼn koppie koffie opgelos word nie.  Sielsmoegheid dryf sommiges tot drank, depressie en selfs selfmoord.

Sedert die sondeval in die Paradys is die mens gedwing om te werk, sy brood te verdien. Die stres en stryd van die wêreld waarin ons woon, maak mense liggaamlik, maar veral ook geestelik, dodelik moeg.  Ons swoeg en sweet en worstel so deur die lewe dat ons vergeet dat God ook die beginsel van rus reeds daar in die Paradys ingestel het. Juis na die skepping van die mens het God die  sewende dag as gereelde rusdag ingestel en dit geheilig:  “…want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het” (Gen. 2: 3b).  Soos wat fisieke moegheid baie fasette het, en fisieke rus baie fasette het, het geestelike moegheid ook baie fasette, met een volmaakte oplossing: God se beginsel van rus.

God het dag en nag gemaak, ʼn besliste skeiding geskep tussen dagtaak en rustyd, sodat sy skepsel versterk weer verder kan gaan. In Christus het die Sabbatdag oorgegaan in  Sondag, “die dag wat aan Hom toegewy is”, wanneer God wil hê dat ons, sy kinders gereeld, saam met  ander gelowiges die afspraak wat Hy met ons het, sal nakom om te luister wat Hy vir ons wil sê in sy Woord (prediking) en te antwoord deur gebed en sang: “Ons moenie van die samekomste  van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom” (Heb. 10:25).

Tog probeer die mens al hoe meer op sy eie “rus” – selfs deur Sondag laat te slaap om “af te skakel” van die week se stres en so kom ʼn mens nooit tot waarlike geestelike rus nie.  Ons bly snags rondrol en bekommer, ons word siek van stres. Ons lê so nagte om “en skape tel” en geestelike onrus lei uiteindelik tot fisieke uitputting.

In ’n strandhuis van ʼn vriendin staan daar op ʼn kussing: “Moenie skape tel nie, praat met hulle Herder”. Hierdie Herder, Jesus Christus, wat sy lewe afgelê het vir sy skape, nooi ons uit: “Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28). Slegs in Christus vind ons ware rus en vrede.  Met sy offer aan die kruis het Hy ons sondes op Hom geneem. Op die rusdag van God, elke Sondag, herdenk ons  hierdie verlossing en vryspraak.  Hy het in die graf “gerus” en op die derde dag opgestaan om vir ons sy vrede en sy ewige rus te gee.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *