Die alleenvrou in die gemeente

Deur Hannatjie Vorster

Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28)

Ons is “kerkvriende”. Ons werk saam by funksies en gesels dikwels Sondae by die tee. Ons deel in mekaar se wel en weë, maar kuier nie by mekaar nie. Skielik is hulle nie Sondae by die kerk nie. Terwyl ons weg was, is haar man oorlede…

 

Ek stuur ’n sms wat sy op haar eie tyd kan lees. Haar naby mense ondersteun haar in die eerste weke na haar man se dood. Ek loop haar by die kerk raak, en skielik is ek ongemaklik. Alle woorde voel vir my na clichés. Ek gee haar ’n drukkie, onmagtig om wat ek voel aan haar oor te dra. Toe ek daaroor nadink besef ek dat baie van ons sosiaal lomp is rondom iemand wat smart beleef.

Weke word maande. Ek sien haar so dan-en-wan Sondae, maar sy kom al hoe minder saam tee drink. By die gemeentefunksie kom lewer sy kos af, maar ry dan weer. Haar plek in die kerk is egter selde leeg. By God voel sy tuis.

Ek begin die alleenvroue in die gemeente raaksien. Daar is baie. Sommige se mans is lankal oorlede, ander meer onlangs. Sommige het die moeisame pad van ’n egskeiding geloop. Ander is gewoon alleenlopend. Party se geskiedenisse ken ek nie.

My gedagtes bly by die weduwees. Stap ons gemeentes ’n lang genoeg pad saam met hierdie vroue? Ondersteun ons hulle genoeg na die eerste weke verby is? Help ons hulle om hulle pad te vind as alleenvroue in die gemeenskap van gelowiges? Ek kom agter my man se deelgenootskap aan ons geloof is soos ’n skild om my selfs wanneer ek iets alleen bywoon.

Ek het nie antwoorde nie, want ek is nog nie self deur die meule nie. So word die gedagte gebore om twee vroue wat ’n paar jaar gelede hulle eggenote verloor het te vra om ’n paar gedagtes neer te skryf. Terwyl ek hulle bydraes lees, besef ek hoe swaar hierdie pelgrimstog na die verlede vir hulle was. Die hartseer en swaarkry bly vlak lê.

Ek raak net enkele gedagtes wat hulle met my gedeel het, aan:

  • Ons beleef die wonder daarvan dat die Here twee mense tot een saamvoeg in die huwelik. Die dood, wat deur die mens se gebrokenheid die wêreld binne gekom het, ruk dan eintlik ’n deel van jouself weg. Dit laat ook die gelowige gewond agter. Tog beleef ’n gelowige ook die troos van die Heilige Gees.
  • Tydens die helingsproses is daar gelyktes, hoogtes en dieptes. Ons moet verstaan dat ʼn weduwee soms moet kan huil en hartseer wees sonder dat mense haar laat voel sy verwerk nie die dood van haar eggenoot goed nie. Die verlies is intens, sommige dae meer as ander dae. Tegelykertyd moet mense dit ook aanvaar as sy soms sê dat dit met haar goed gaan. Midde in haar smart ervaar sy die troos van die Heilige Gees en die liefde van die mense om haar. Terwyl sy verskeurd is, kan sy ook vrede hê, en vind sy rus by die Here. Ons moet respekteer waar die persoon op daardie oomblik is. Wanneer sy sê: “Dit gaan goed met my,” moet ons nie reageer met: “Sê my nou regtig hoe dit met jou gaan” en so die persoon eintlik dwing om die seer in haar hart te besoek nie.
  • As ons weens die ongemaklikheid wat ons voel wanneer iemand diep beproef word draaie om hulle loop, maak juis dít seer. Die beproefde voel dit aan en verloor uiteindelik vrymoedigheid om tussen mense te kom en onttrek dan.
  • “Dit is nie nodig om iets ‘gepas’ te sê nie. Help die persoon om net saam te gaan met die normale lewensgang deur byvoorbeeld eenvoudig na kerk te sê: “Dis vreeslik koud vandag, kom ons gaan kry lekker warm tee.” Of gesels gewoon oor voorhandliggende dinge. Vermy eerder die (droewige) saak wat jy huiwerig is om aan te spreek, as wat jy die persoon vermy.
  • Wees ook versigtig om mense wat swaarkry nie emosioneel bloot te stel tussen ander mense deur onverwagte onversigtige vrae of opmerkings nie. Dis altyd goed bedoel, maar vir ’n weerlose gemoed nie maklik hanteerbaar nie.
  • Een moeilike aanpassing is om weer in ’n groep te beweeg. Dit neem ’n tyd voor ʼn weduwee weer sosiaal kan verkeer. Vir sommiges voel dit byna soos verraad teenoor die man wat sy lief gehad het om vrolik en gesellig saam te kuier. Maar ook omdat Dit tyd neem om jouself werklik as ‘alleen’ te leer ken en ervaar. Vir party langer as ander.
  • Gee dus ruimte daarvoor en moenie probeer om mense te dwing om aan aksies deel te neem of hulle in groepe betrek as hulle nie reg is daarvoor nie. Omdat ons verskil, is daar die wat juis omring wil wees van mense, maar ons moet sensitief wees vir hoe die persoon voel.
  • Dit is duidelik dat ons spasie en tyd moet gee vir die persoon om te rou en aan te pas, maar tog is liefde en vriendskap uiters nodig: Gewone opregte vriendskap help ’n persoon om op te kom vir suurstof!
  • Op die praktiese vlak is die versorging van die gemeentes rondom die begrafnis kosbaar. Tog reken ek ons moet ook op die uitkyk moet wees vir ander praktiese dinge waarmee gehelp kan word. Een so ’n saak is die ingewikkelde prosesse rondom finansies en die afhandeling van die boedel. As ’n weduwee nie iemand naby aan haar het wat haar hiermee kan by te staan nie, sou dit waardevol wees as iemand met die regte kennis bystand verleen.

Ek sien baie van die alleenvroue wat (weer) hulle plek in die gemeente gevind het. Ek sien hoe hulle ander inspireer by Bybelstudies, gevorm en gelouter deur hulle swaarkry. Ek sien hulle as diakens; by die sopkombuise; by die tronkbediening, oral waar hulle diensbaar kan wees. En ek weet hierdie vroue is ’n krag in die gemeente – hulle waarde meer as korale.

Kom ons bid diep en ernstig dat die alleenvroue onder ons rus by God kan vind, en dat die gemeente vir hulle die verpersoonliking van God se liefde en warmte kan wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *