Argula von Stauff von Grumbach – onverskrokke gelowige

Vroue van die Reformasie

Deur Hannatjie Vorster

Ons ontmoet die jong Argula von Stauff vroeg in die 1500’s in die Ehrenfelskasteel naby Beratzhauzen in Bavaria toe haar adellike vader vir haar as tienjarige ʼn pragtig versierde Koberger Bybel as geskenk gee, in “Hoch Deutsch” geskryf. Dit was uitsonderlik vir daardie tyd dat sy, as jong dogtertjie, in staat was om self die Bybel te lees (Stjerna, 2009:73). Soos haar moeder word sy ʼn ywerige student van die Bybel en memoriseer groot dele.

Argula, een van agt kinders, verloor beide haar ouers binne vyf dae aan die pes in 1509 en haar geliefde oom Hieronymus, haar voog, word in 1516 tereggestel nadat hy van ʼn politieke komplot beskuldig is. Sy sou nog twee eggenote en drie van haar vier kinders deur haar lewe aan die dood afstaan. Sy trou in 1516 met Friedrich von Grumbach, ʼn noord-Baviaanse grondeienaar. Hulle verhuis na Lensing naby die Universiteit van Ingolstadt en haar man word administrateur van Dietfurt in Altmühtal (Stjerna, 2009:74).

Ernstig oor haar Protestantse geloof

In die huwelik is sy die een wat na hulle besigheid en geldsake omsien en sy maak haar vier kinders in die Protestantse geloof groot, alhoewel haar man Katoliek bly (Stjerna, 2009:74). In die jare wat volg bestudeer sy al Luther se geskrifte, ook Luther se nuwe vertaling van die Bybel in spreektaal Duits. Sy het persoonlike kontak met Melancton en Spatalin (Tjerna, 2009:74) en die gereelde briewewisseling tussen haar en Luther getuig van hulle vriendskap. Haar simpatie met die hervorming en haar openbare geskrifte bring spanning in hul huwelik, veral nadat haar man afgedank word omdat hy haar nie onder bedwang hou nie. Sy skryf aan haar oom Adam von Thering, dat sy nie weet hoe sy teenoor haar man moet optree nie, en dat hy onder druk is “om Christus in haar te vervolg” (Matheson, 1996:109).

Die eerste Protestantse vroue outeur

In 1923 betree Argula die openbare lewe toe sy vir ʼn agtienjarige student Arsacius Seehofer in die bresse tree. Hy studeer onder Melancton in Wittenberg en daarna in Ingolstadt. Hier veroorsaak sy Lutheraanse idees probleme. In Desember 1922 word Lutheraanse geskrifte by hom gevind. Hy word in hegtenis geneem en spring net die brandstapel vry deur die Lutheraanse leer te verwerp en so sy geloof te versaak. Hy word na ʼn afgeleë klooster verban (Stjerna, 2009:76).

Gedagtig aan Paulus se swyggebod, huiwer Argula lank voor sy skryf, sy sê: “I suppressed my inclinations. Heavy of heart, I did nothing” (Matheson, 1996:101). Arsacius se lot laat Argula egter na die pen gryp en sy skryf ʼn brief aan die Universiteit van Ingolstadt waarin sy hom en ook Luther en Melancton se sieninge verdedig. Sy daag hulle uit om haar skriftelik te antwoord en vir haar aan te toon waar geketter word. Sy beroep haar op die oppergesag van die skrif en fundeer haar redenasies met meer as tagtig aanhalings uit die Skrif. Sy ontvang egter geen antwoord op haar brief nie. Uiteindelik word hierdie brief as ʼn polemiese geskrif uitgegee. Dit beleef binne twee maande 14 herdrukke (Stjerna, 2009:72). Sy word die eerste protestantse vroue outeur (Matheson, 1996: 98).

Hierna skryf sy nog sewe ander briewe aan verskillende belangrike mense wat almal as polemiese geskrifte uitgegee word. Uiteindelik word nagenoeg 30 000 eksemplare van haar briewe versprei (Matheson, 1996:97). As leke teoloog raak sy verskeie geloofsake aan wat sy uit die Bybel fundeer en sy spreek haar sterk uit oor die sensuur op vrye spraak. Dit veroorsaak ʼn opskudding. Nie net is dit ongehoord dat sy as vrou geleerde manne in openbare debatte aanvat nie, maar dit was verbode in Bavaria om die leringe van die Lutherane te verdedig (Stjerna, 2009:78).

Priesterlike roeping om te getuig

Argula se adelstand en invloedryke familie beskerm haar teen inhegtenisneming, maar haar man word afgedank omdat hy haar nie onder bedwang hou nie. Sy word beledig en uitgeskel. Sy is bewus van die gevare wat haar geskrifte en die verdediging van die protestantisme vir haar inhou, maar voel saam met die Lutherane dat alle Christene ʼn priesterlike roeping het om te getuig, en glo in die oppergesag van die Skrif. Hierop grond sy ook haar reg as Christenvrou om haar opinie te lug. In 1524 word alle protestantse geskrifte onwettig verklaar.

Na 1524 verdwyn Argula uit die openbare lewe. Daar word nog eenkeer berig dat sy in 1530 ʼn byeenkoms in Augsburg bygewoon het, waartydens sy probeer het om van Calvyn en Luther se volgelinge bymekaar te bring. Haar man sterf in 1530 en haar tweede man Poppo von Schlick, ʼn hervormingsgesinde, in 1535 na ʼn huwelik van net twee jaar.

Dit is onduidelik wanneer Argula dood is, sommige reken dat sy in 1554 gesterf het, maar in 1563 skryf die Hertog van Bavaria dat hy die ou “Stauferrin” wat vir die tweede keer in die tronk was omdat sy protestantse boeke versprei en dienste gehou het, losgelaat het omdat sy oud en broos is. Dit kon moontlik sy gewees het (Stjerna, 2009:82).

Onverskrokke uitlewing van haar geloof

Argula von Brumbach was ʼn merkwaardige vrou, wat teen onreg en vir die ware evangelie opgestaan het ondanks vervolging, in ʼn tyd wat vroue stemloos was. Luther getuig so oor haar:

That most noble woman, Argula von Stauffer, is there making a valiant fight with great spirit, boldness of speech and knowledge of Christ” (Luther, soos aangehaal uit Matheson, 1995 in Stjerna, 2009).

Hierdie dapper vrou kan vir ons almal ʼn inspirasie wees om ons geloof onverskrokke uit te leef.

Bibliografie

Matheson, P.  1996.  Breaking the Silence: Women, Censorship, and the Reformation.  Sixteenth CenturyJournal, 27(1):109.

Stjerna, Kirsi.  2009.  Chapter 6: Argula von Grumbach, 1492 to 1563/68? – A Bavarian Apologist and a Pamphleteer.  (In Women and the Reformation, Wiley. ProQuest Ebook Central, p. 71-85.  http://ebookcentral.proquest.com/lib/northwu-ebooks/detail.action?docID=437549).  Created from northwu-ebooks on 2017-08-16 04:08:23.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *