Wat is die Reformasie?

Deur Prof. L. Floor

Die Reformasie het in 1517 in Duitsland begin nadat Martin Luther sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het. Die invloed van die Reformasie het vinnig versprei en het reeds in 1520 in Frankryk begin posvat. Dit het tot gevolg gehad dat Johannes Calvyn in 1536 sy institusie geskryf het en Protestantse kerke sedert die 1540’s gestig is.

Verskille in die aard van die Reformasie in Duitsland en Frankryk

In Duitsland, waar Luther die voorloper in die Reformasie was, het Lutherse kerke dwarsoor verskeie state in Duitsland verrys.  Die kerk het onder die regering van die dag geval – sekere sake wat vroeër binne die jurisdiksie van die biskop geval het, is nou aan die staatshoof oorgedra. Die voordeel in Duitsland was dat die kerk binne ʼn beskermde atmosfeer kon reformeer.  Maar die nadeel was dat die kerk in Duitsland onlosmaaklik verbonde was aan die staat en haar nie heeltemal kon losmaak van die inspraak van die staat in kerksake nie.

Die Reformasie in Frankryk wat onder leiding van Calvyn begin het, het ontstaan uit ʼn klein minderheidsgroep wat geen beskerming geniet het deur die regering of die plaaslike owerhede nie. Daar was min tyd op hande om dinge stelselmatig te kon verander – die kerklike lewe moes dadelik van nuuts af georganiseer word en dit nog onder erge druk van vervolging. Die voordeel hiervan was dat die kerklike lewe radikaal en voluit gereformeer (hervorm) moes word. In hierdie opsig kan ons sê dat die Franse Reformasie meer radikaal was as die Duitse Reformasie.

Calvyn moes inderwaarheid huisvesting bied aan die kerklike “dakloses”. Kerke was onder sy leiding tot stand gekom het in verskeie lande het die ontmoetingsplek vir vlugtelinge geword.  Daar was vlugtelinggemeentes in Strassburg, Frankfurt, Genève, London en Emden. So weet ons dan ook in Suid-Afrika van die Franse Hugenote wat hierheen uitgewyk het.

Weelde versus eenvoud

Besoek ʼn mens die Rooms Katolieke katedrale vandag nog in Frankryk, word jy beïndruk deur die imposante geboue, die massiewe orrels en die massakore. Sodra jy egter dan instap by een van die eenvoudige kerkgeboue van die Kerke van die Reformasie tref die eenvoud jou onmiddellik. Dan wil ʼn mens sê die Reformasie was soos ʼn verhuising!

Huisskoonmaak

Maar die Reformasie was in wese nie ʼn verhuising nie, eerder ʼn huisskoonmaak-aksie:

  • Die Bybel is “afgestof”: Die stof van die Roomse tradisies is van die Bybel afgestof. Die onbybelse gebruike van die sakramente waardeur die werking van die Heilige Gees versmoor is, is verwyder.
  • Die ware katolieke (algemene) kerk het weer te voorskyn gekom: Die ware algemene (ander woord daarvoor is katolieke) kerk van Jesus Christus, soos wat ons dit in die eerste eeu na Christus gesien groei het, het weer tevoorskyn gekom. Die Bybel staan weer sentraal in die erediens en die ouderlinge (herders) van die gemeente het weer hulle regeeramp opgeneem.

Nou is die kerk nie meer Rooms-katoliek nie, maar Gereformeerde katoliek. Deur die terugdraai na die Woord het die kerk van die Reformasie weer sy algemene karakter opgeneem.

Wanneer ons bely “ons glo in ʼn heilige, algemene Christelike kerk, beteken dit nie dat alle mense op aarde outomaties ingesluit is by die kerk nie, maar dié gelowiges wat hulle eenheid in die openbaring van die Woord vind (volgens Augustinus).

Ons bely die kerk is algemeen, omdat die kerk dwarsoor die wêreld bestaan en omdat sy die boodskap van verlossing (slegs in en deur Jesus Christus!) verkondig.

  • Die kerk het weer haar katolieke (algemene) karakter in die volheid van Jesus Christus gevind: “Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef. 1:23).  Jesus Christus is die enigste weg tot verlossing, Hy is die enigste Hoof van die kerk. Christus se heerskappy oor alles en almal word wêreldwyd in die kerk gesien. Wat nog onsigbaar is vir die wêreld, word sigbaar in die kerk: Jesus Christus regeer koppe, harte en hande. Gelowiges lê hulle met hart en siel neer voor sy heerlike wil – hulle wy hulle hele lewe aan hulle enigste Hoof, Jesus Christus.

Calvyn het baie klem gelê op die katolieke (algemene) karakter van die kerk van Jesus Christus – dit sien ʼn mens in sy Institusie en sy omvangryke kommentaarreeks wat hy oor bykans die hele Bybel geskryf het (met die uitsondering van 2 en 3 Johannes en die boek Openbaring).

Ons katolieke roeping

As Gereformeerde kerke in Suid-Afrika moet ons daarteen waak dat ons nie ons katolieke karakter verloor nie – dit sal neerkom op stelselmatige “verhuising”  sonder dat ons dit eens mooi besef. Ons het ons knus ingewurm in ons eie gemeentes, besig met ons eie tradisies, ons eie mense, ons eie manier van doen – soveel so dat ons ons fokus op die algemene karakter van die kerk verloor het.

Ware visie op die Reformasie moet ons dankbaar maak en bereid tot diens in die kerk. Dankbaar, omdat God die Reformasie bewerk het, bereidwillig tot diens omdat ons ons ʼn groot en belangrike roeping het: om die evangelie in die wêreld te verkondig.  Om te bly dat jy ʼn katolieke gelowige is, beteken dat jy in jou persoonlike lewe Christus se absolute heerskappy oor jou lewe moet erken en daarvolgens lewe; op kerklike terrein beteken dit dat die onderskeie gereformeerde kerke, wat vanweë sondige verskeurdheid verdeeld geraak het, moet uitreik na mekaar en hulle moet beywer vir ware kerklike eenheid in Christus. As jy bely dat jy ʼn gereformeerde, katolieke gelowige is, en jy leef soos wat jou hoof, Christus, dit wil, sal jou lewensgetuienis ook uitgaan op sosiale- en gemeenskapsvlak: mense sal in jou huwelik, gesin, werk, ontspanning, opvoeding, kortom in álles wat jy doen, die heerlikheid van jou Hoof, Jesus Christus, raaksien.  Ook op politieke terrein sal daar van jou ʼn invloed uitgaan – die verhoudings tussen mense van verskillende rasse en klasse sal heel anders daarna uitsien as ons almal bely dat Christus ons Koning is en ons almal geroep is om sy dienaars te wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *