U bring vir my die tafel in gereedheid!

Om ’n gas by die Here se tafel te wees

Deur Dr. Albert Coetsee 

Psalm 23 is sekerlik een van die mooiste Psalms in die Bybel. Vir baie van ons is dit die eerste deel in die Bybel wat ons leer ken het, en baie gelowiges regoor die wêreld ken dit uit hulle koppe uit. Dit is woorde wat ons tot in ons diepste wese aangryp. Dit is intiem en persoonlik, en verwoord ons geloofsvertroue soos ons self nie kan doen nie.

Wat ons nie altyd besef nie, is dat hierdie Psalm die Here nie nét ons Herder noem nie. Psalm 23 bevat ʼn tweede beeld wat vir ons beskryf wie die Here is en wat Hy doen. In verse 1 tot 4 hoor ons die bekende beskrywing van die Here as ons Herder. Ons is sy skape wat Hy versorg en lei en beskerm.

Maar verse 5 en 6 beskryf die Here verder as ons Gasheer. Die Here is ʼn Gasheer wat gelowiges in sy huis as gaste ontvang en hulle bedien met oorvloed.

Is dit nie ’n wonderlike beeld nie? Dink net vir ’n oomblik: Hoe spesiaal voel jy as iemand jou as gas in sy huis ontvang? Wat sê dit nie alles van die persoon se liefde en omgee as hy jou so ontvang nie?

’n Gas in die Here se huis

Gaan nou die stappie verder en hoor wat die Here by monde van Dawid in Psalm 23 sê: As jy ʼn gelowige is, ontvang die Here jou as ʼn gas in sy huis. Hy laat jou by sy tafel sit. Hy sit vir jou ʼn maaltyd voor. Hy laat jou vyande tot hulle spyt toekyk hoe Hy jou bedien. Hy salf jou kop met olie (die gebruiklike eerbewys aan ’n spesiale gas by ’n feesmaal). Hy hou jou beker tot oorlopens toe vol… As jy spesiaal voel as ʼn aardse gasheer jou so in sy huis ontvang, hoe spesiaal moet jy nie voel as die hemelse Gasheer jou so ontvang nie? Wat sê dit nie alles van sy liefde en omgee vir jou nie?

Soos by enige Skrifgedeelte, kan ons maklik die klem op die verkeerde plek hier laat val. In hierdie geval kan ons maklik die klem laat val op al die dinge wat die Gasheer vir sy gas gee: die geleentheid om aan te sit; die maaltyd; die teken van eer; die beker wat oorloop. Die klem in Psalm 23 val egter nie op hierdie dinge nie. Al hierdie dinge dra maar by tot die groter boodskap. En dit is: Die hemelse Gasheer gee nie net sekere dinge vir sy gaste nie; Hy gee Homself. Lees weer:

Die hemelse Gasheer gee nie net sekere dinge vir sy gaste nie; Hy gee Homself.

Is dit nie wat enige gasheer laat uitblink bo enige ander nie? Om by ’n tafel te sit met die heerlikste kos en drinkgoed is maar net ’n smaaklike ete. Maar om met dieselfde dinge by ’n tafel te sit met ’n gasheer wat homself gee – wat in jou belangstel en omgee en dit wys – dit verander ʼn maaltyd in ʼn fees. Dit is presies hoe Psalm 23 die Here beskrywe: As ʼn Gasheer wat Homself vir sy gaste gee.

Dít is die kern van die verbond. Die Here verbind Homself aan sy volk. Hy is hulle God, en hulle is sy volk. Dit is waarvan Dawid hier sing. En dit is die evangelie, nie waar nie? Christus wat Homself kom gee vir ons; Hy wat Homself oorgee in ons plek sodat ons by wyse van spreke God se gaste kan wees.

Watter troos is dit nie wanneer ons daagliks gekonfronteer word met die gebrokenheid van die wêreld nie? Te midde van ons omstandighede kan ons weet dat die Here ons as sy gaste ontvang. Ek is sy gas!

Tuis tot in lengte van dae

Ons kan ook nie die woorde van Psalm 23 lees sonder om vorentoe te kyk nie. Die Psalm eindig immers met die versekering dat “ek”, ’n gelowige wat die Here as my Gasheer het, “tuis sal wees in die huis van die Here tot in lengte van dae”. Ek sal nie net in die Here se huis bly as sy gas hier en nou nie, maar tot in der ewigheid. Eendag sal ons Gasheer ons vir ewig in sy teenwoordigheid ontvang.

Openbaring 19 beskryf daardie dag as die bruilofsfees van die Lam. Wat ’n aangrypende beskrywing is dit nie! Johannes sien ’n visioen van die voleinding van alle dinge, en die heerlikheid wat voorlê. En hoe word dit beskryf? As ’n bruilof. ’n Dag van vreugde, feesvier, intimiteit. Wat ’n vooruitsig om deel te mag neem aan daardie bruilofsfees as die gas van die Here! Wat ʼn vooruitsig om ʼn gas te wees aan sy tafel!

Wanneer daardie wonderlike dag is, weet net God alleen. Ons het wel die wonderlike wete dat dit al hoe nader kom (Rom. 13:12; Jak. 5:8). Mag ons daarom elke dag soos gaste van die Here lewe wat waaksaam en nugter ons roeping vervul tot en met sy koms. En mag ons dit doen met die verlange en verskering: “Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is” (Op. 19:9).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *