Sodat my huis vol kan word

Ons tafel ʼn poort na Christus en sy gemeente

Deur Prof. Flip Buys

Om saam aan tafel te sit, is in die Bybel dikwels ʼn metafoor van God se oop uitnodiging van redding en verlossing soos Jesus self dit uitdruk in Matt. 8:11: “Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel.”

Jesus het ook ʼn punt daarvan gemaak om saam met mense wat as buitestaanders beskou word, te eet. In Matt. 9:10-13 lees ons dat baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels kom eet het. Toe die Fariseërs daaroor mor, het Jesus gesê: “Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is… Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”

Het jy al ooit spesifiek iemand wat nie ʼn kerklidmaat is nie, uitgenooi om saam met jou en jou gesin, of saam met ʼn groep kerkvriende, te eet?

Gasvryheid is ʼn duidelike opdrag aan gelowiges.

Ek begelei op die oomblik ʼn gereformeerde dominee uit Brasilië met sy proefskrif waarin hy die gebruik van kleingroepe as instrument om buitekerklikes te bereik, bespreek. Hy het in die omgewing van Rio de Janeiro dominee geword van ʼn kwynende gemeente. Hulle strategie was om ʼn bediening te vestig waar gemeentelede elke week in kleingroepe vergader het om die vorige Sondag se preek te bespreek en veral te praat oor hoe om die preek konkreet verder toe te pas en uit te leef en ook bly te wees saam met die wat bly is en te huil saam met die wat huil en so die opdrag in Rom. 12 prakties toe te pas.

Maar, een maal per maand moes die kleingroep ʼn vleisbraai of pizza-aand reël en buitekerklikes in hulle buurt nooi om saam te kom eet. Wanneer hulle gereed is, het hulle deel van die kleingroep geword en uiteindelik by die gemeente aangesluit. Hulle gemeente het oor ʼn periode van nege jaar gegroei van tagtig lidmate tot meer as seshonderd met vier en dertig aktiewe kleingroepe. Hy is nou besig om die Bybelse en teologiese begronding van so ʼn bediening sedert die tyd van die Reformasie te ondersoek en te beskryf.

Ek kon hom wys op Totius se oproep aan Gereformeerde Kerke in Suid Afrika reeds in 1911 toe hy gesê het: “Die dienaar spreek die leerrede uit, daar word gebid, gesing, die seën ontvang en dan stilte. Van die preek word byna niks goeds of niks kwaad meer gehoor nie! Die preek is ʼn skoot in die wye vlakte, sonder weerklank en sonder aanslag! En die gereformeerde gemeente blyk onmondig te wees, ʼn ecclesia audiens, ʼn kerk wat slegs luister en vir ewig moet swyg”. In dié rede het Totius dan gepleit dat kerke op voetspoor van Calvyn preekbespreking moet stimuleer om die profetiese amp by gelowiges te laat ontluik.

Wat van preekbespreking rondom die tafel?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *