Gemeenskaplike maaltye

Deur Ds. Abel Steyn 

Om saam te eet, sê vir ons dat daar ’n rede moet wees waarom mense saam eet en dit sê ons dat iets, of iemand hierdie besondere groep mense saambind en saambring.

Vir christene het saam-eet ’n besondere betekenis, want dit gaan oor baie meer as bloot ’n maaltyd. Daar vind ’n ontmoeting plaas tussen medegelowiges wat mekaar in die Here vind en so word die gemeenskap van gelowiges sigbaar. Ons is nie net hier vir ’n blote sosiale verkeer nie, ons wil mekaar waarlik in Jesus Christus ontmoet en vind.

Besonderse eerste gemeenskaplike maaltye

Die gemeenskaplike maaltyd waarvan ons in Hand. 2 lees, was inderdaad iets besonders. Ná die bekering van drieduisend mense is hulle met groot blydskap opgeneem in die gemeenskap van die kerk en werklik deel gemaak van die huisgesin van die Here. Dit maak ’n mens opgewonde om te sien hoe geesdriftig die gelowiges van die vroeë Christelike kerk daar in Jerusalem was. Daar was reaksie op die bediening van die Woord en die sakramente, want die gelowiges het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid , die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. Daar het iets gebeur in die harte van al die gelowiges en daarom was daar ’n baie mooi onderlinge gesindheid wat die gemeente voortgestu het.

Ons moenie dink dat hierdie Jode wat tot bekering gekom het heeltemal met die ander Jode bande verbreek nie. Hulle het nog gereeld na die sinagoge gegaan totdat die verskil oor die opgestane Christus en die Jode se verwagting dat die Messias nog moes kom, té groot geraak het.

Toe was hulle nie meer welkom in die sinagoge nie, daarom het die gelowiges in huise bymekaar gekom en het hulle aangehou om van die Here te leer soos wat hulle gewoond was in die sinagoge, maar nou ’n dieper leer, want Jesus Christus het nie net gesterf nie, Hy het opgestaan en opgevaar na die hemel. Die Godsdiens was ’n lewende gebeure waartydens daar geleer is, maar ook saam geëet is en uiteindelik saam Nagmaal gevier het. ’n mens wil sê dit lyk na ’n kerk wat werklik vars en skoon was. Dit is mos so as iets nuuts in die kerk aan die gebeur is – dan is daar groot entoesiasme en geesdrif en ’n hartlike samewerking en meelewing, maar wanneer die tyd aanstap, verflou die geesdrif en vertroebel verhoudings weer.

’n Breuk in die gemeenskaplikheid

Dit was ook nie anders in die kerke van die Nuwe Testament nie, want in 1 Kor. 11 lees ons dat daar ’n probleem met die liefdesmaaltye was. Daar was nie meer ware eensgesindheid onder die gelowiges in Korinte nie, daar was verdeeldheid. Soos wat dit die gebruik was in daardie tyd het die gelowiges voor die Nagmaal saam geëet. Die bedoeling was dat hulle dit wat hulle gehad het, met mekaar gedeel het. Ryk en arm het saamgeëet as deel van die koinonia, maar die rykes wou nie  meer dit wat hulle gehad het met die armes deel nie. En so het daar verdeeldheid onder die gelowiges ontstaan. Iets wat mooi begin het en vertel het van die onderlinge liefde en die innige gemeenskap met Christus het skeefgetrek en die beeld van die kerk as die bruid van Christus oneindig skade berokken.

Saam-eet met ʼn verskil

Waar gelowiges saamkom moet dit ’n saamkom met ’n verskil wees, want dit gaan oor meer as eet en drink.

Ons is kinders van ons hemelse Vader en deur Christus word ons as broers en susters aan Hom en aan mekaar verbind. Dan kan dit tog nie anders nie. Daar is ’n band, ja, ’n band van liefde wat ons aan Christus en mekaar verbind en dit wat ons doen – ook aan ’n etenstafels as gemeentes – moet van hierdie liefdesbelewing en bediening getuig. Die ouer mense onthou hoe ons baie gehoor het dat ’n mens saamkom om ’n broodjie te breek. Die tafels hoef nie te kreun onder die kos en die drank nie. Die tafels moet met die kos wat daarop is, en die mense wat rondom die tafel sit, getuig van die teenwoordigheid van die lewende Christus – ’n samekoms in die Here.

Dit is vandag weer by baie van ons gemeentes die gebruik om na die erediens waartydens Nagmaal gevier is, ons gemeenskap van gelowiges voort te sit deur saam te eet. Tydens so ʼn saam-eet na Nagmaal moet ons almal insluit – ryk en arm – by ’n ete wat getuig van hartlike liefde vir die Here en vir mekaar.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *