Nalatenskap

Deur Griet Swanepoel

10 Junie 2017. Dis ʼn gewone Saterdagoggend. Ek dink aan my skoonma en bel haar, wag vir haar opgewonde stem aan die anderkant.

Haar buurman antwoord die foon. My eerste gedagte is dat ek ʼn verkeerde nommer geskakel het. In die agtergrond hoor ek woorde soos… “Sy het nie meer ʼn pols nie!”

Daar is duidelik ʼn benoude geskarrel in haar meenthuis langs die kerk op Nylstroom.

“Hier is moeilikheid by jou ma!” sê haar buurman toe hy my stem erken.

Dié tyding is so onverwags. Te skielik en sonder enige waarskuwing. Die harde werklikheid hang in ons huis en niemand van ons was reg daarvoor nie.

Só is ons hartverskeurend gewond op ʼn gewone Saterdagoggend.  Ek wat so baie ander mense se harte moet dokter was nie daar toe sy iemand nodig gehad het nie. Ek sou so graag nog vir oulaas wou dankie sê… Die gedagte steek soos ʼn swaard in my.

Ons begin stadig pak om die begrafnis te gaan reël. Ek en my man ry die hele pad in stilte – té bang dat die wal van ons hartseerdam gaan breek.

Ons stop soos gewoonlik voor haar huis. Sy kom nie uit om te groet nie. Haar vriende in die kompleks kom hartseer nader toe hulle ons sien.

Sy maak nie daardie groot wit teepot vol tee sodat ek drie koppies kan drink nie. Ná drie koppies tee was my hart uitgepraat. Nou is die huis is stil.  Dis finaal en so finaal. Alles van haar is daar. Sy is nie meer daar nie. Sy gaan ook nie weer terugkom nie.

“Ek het nie meer ʼn ma nie,” sê my man met seuntjie-oë toe hy van die begrafnisondernemer afkom.

Ek is twee volle dae in haar huis op Nylstroom. Alles is so pynlik georganiseerd soos ek haar ken. Haar aardse goed – so mooi opgepas. Stylvolle klere hang in rye, alles self ontwerp en gemaak. Bypassende skoene, baadjies, juweliersware.

Ek sou nog so graag by haar wou leer klere maak, dink ek. En wat van daardie geheime hoenderresep van haar? En daardie klapper-en-appelkaaskoek? So maal dit in my kop.

Haar vriende kom simpatiseer en vertel van wat sy alles vir hulle gedoen en beteken het.  Sy was ʼn op-en-wakker vrou. ʼn Sterk vrou wat altyd gesê het sy bly tussen die “oumense”, vertel hulle.

Ander vertel weer hoe verontwaardig sy was as susters nie diensbaar wil wees in die kerk nie: “Kan jy glo hier is vrouens wat dink ʼn mens kan aftree vir die Here se kerk? Nee! Dit werk nie so nie… Jy moet aantree!” het sy dan gesê.

Sy het gesorg dat die kerk se kombuis op gladde wiele loop. Sy het “aan diens” gebly tot haar laaste asem, dink ek.

Dit maak die pyn sagter, al beleef ek hoe haar aardse lewe van bykans tagtig jaar opgevou word soos ʼn tentdoek.

Gelowige lote – vol vrugte –  se getuienis bly, al is hulle nie meer daar nie. Op die ou end is dit al wat ewigheidswaarde het. Al wat oorbly is die groen loot van haar geloofsvrugte wat ʼn erekrans vorm tot verheerliking van haar hemelse Vader.  Dit is haar ware nalatenskap aan al haar geliefdes wat agterbly!

Ek wou bel om te hoor hoe dit gaan, op ʼn gewone Saterdagoggend.

Sy het vir ons ’n afskeidsboodskap gelos. Die boekmerk in haar Bybel sê: “Die Meester is hier en Hy roep my!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *