Wat as…? Ek is so vasgevang in hierdie vrees…

Dr. Trudie antwoord

Ek is so bang. Dit my hele lewe begin oorheers.  Ek kan nie onthou wanneer laas ek net kon ontspan  nie. Ek is bewerig, kan niemand in die oë kyk nie en op die mees onverwagte tye kry ek hartkloppings wat my net nog meer benoud maak.  Daar is  ʼn paar maande gelede ingebreek en genadiglik was ons nie tuis nie. Nou is ek oortuig daarvan dat hulle weer gaan inbreek en dat my twee kindertjies  baie seergemaak gaan word.  Al het ons daarna alles in ons vermoë gedoen om ons huis te beveilig, het ek hierdie konstante vrees in my dat iets verskrikliks met ons gaan gebeur.  Ek kry skoon nagmerries daaroor.

Ek is nou so bang dat ek selfs weier om met my kindertjies dorp toe te ry. Sê nou net  ʼn ander motor ry in ons vas? Sê nou net my kinders kom iets oor?  Sê nou net ons word gekaap?

Ek vertrou niemand meer nie en wil ook  nie eens meer die radio of televisie aanskakel nie, want al wat ek hoor, is hoe mense gewelddadig vermoor word. Ek bekommer my dood oor my kinders se toekoms.   Is dit net ek, of het die lewe so ondraaglik geword? Hoe kan  ʼn mens positief wees oor enigiets as alles om jou net negatief is?

Ek is so vasgevang in hierdie vrees, dat dit selfs vir my feitlik onmoontlik geraak het om te bid.

 Ek kan verstaan dat jy so bang is vir wat met julle kan gebeur na die inbraak.  Ons lewe immers in ʼn wêreld waar vrees vir geweld aan die orde van die dag is. Ons vrees die onbekende; ons vrees mislukking; ons vrees werkloosheid; ons vrees siekte;  ons vrees die dood – om maar net ʼn paar dinge uit te lig.  Verder dui  die simptome wat jy ervaar daarop dat jou angsvlakke as gevolg daarvan ook baie hoog is.  Jou gedagtes het as’t ware in ʼn eindelose kringloop van angs en vrees beland: Vrees vir wat as…? En die probleem is dat, as ʼn mens eers in hierdie bose kringloop van angs en vrees vasgeval het, jy jouself baie moeilik daarvan kan bevry.

In geloof moet  ons egter met alles wat ons het teen sulke verlammende negatiwiteit en vreesagtigheid stry.  Anders kan dit ons denkraamwerk totaal negatief beïnvloed en gevolglik ook ons hele bestaan.  Vrees en angs gaan gewoonlik gepaard met gevoel van verlies aan beheer oor die toekoms. Sedert die sondeval smag ons na mag en begeer ons om in beheer te wees van wat met ons gebeur. Dit was dan ook deel van die oersonde van die mensdom en die leuen waarmee Satan die eerste mensepaar verlei het (Gen. 3:4).   Die waarheid is egter dat niemand enige mag of beheer oor die dag van môre het nie. Al waarvan ons as  gelowiges wel seker kan wees, is dat ons as kinders van God nie bang hoef te wees vir die toekoms nie.  Alles gebeur volgens God se raadsbesluit  (Fil. 1: 11).  God is almagtig en ten volle in beheer van sy skepping.

Die feit dat jy nie meer kan bid nie, ondersteun die feit dat vrees een van die grootste vyande van ons geloof is.  Die bose probeer op allerlei wyses ons geloof aanval, maar vrees is sekerlik een van hul grootste wapens, omdat dit ons geestelike lewe verlam. (Hier praat ek nie van die “vrees vir die Here” wat op diepe eerbied en ontsag dui nie.)  Maar daarteenoor is dit slegs ware  geloof wat die Heilige Gees in ʼn mens bewerk wat vrees volkome kan uitwis.  Dink aan Stefanus wat vreesloos opgekyk het en Jesus aan die regterhand van God sien staan het, toe die Joodse raad op hom afstorm om Hom te stenig (Hand. 7:56-58).

As gelowiges moet ons dus eerder fokus op die positiewe sinvolheid van ons bestaan,  naamlik dat God ons liefhet in Jesus Christus.  God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh. 3:16).  Daarvoor is ons deur die soenoffer van Christus van hierdie sondige en gebroke wêreld gered en weer met God versoen.  As ons dan so kosbaar is vir God, hoef ons en ons kinders mos nooit meer in angs en vrees te lewe nie.  Die bedreigende en bose magte het geen mag oor diegene wat aan Jesus Christus vashou en weet dat God hulle liefhet nie. Daarom verstaan ons dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom. 8:28) en dat ons tot alles in staat is deur Hom wat ons krag gee (Fil. 4:13).

Dink ook aan Kaleb en Josua, die enigste  twee van die twaalf verspieders, wat nie bang was om die beloofde land in te neem nie. Hulle het geglo dat die Here by hulle is en dat hulle nie bang hoef te wees vir die sterk inwoners van die land nie (Num. 14:5-9).  Die uiteinde van die ander se ongeloof en vrees vir die inwoners het egter daartoe gelei dat die volk nog 40 jaar in die woestyn moes rondswerf.  Uit die hele volk wat toe geleef het, het net Kaleb en Josua uiteindelik die voorreg gehad om beloofde land te beërwe.

Daarom kan ook jy jou vrees deur geloof oorwin! Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing (1 Tim 1:7)

Meer prakties

  • Gaan dokter toe vir ʼn deeglike ondersoek oor die angsaanvalle wat jy kry en maak seker dat jy nie ʼn onderliggende fisieke probleem het wat jou angs veroorsaak of vererger nie.
  • Dink na of doen Bybelstudie oor persone soos Abraham, Dawid, Naomi, Daniël en Paulus wat hul toekoms vreesloos en totaal in geloof ingegaan het.
  • Hou ʼn joernaal waarin jy elke dag al jou gedagtes neerskryf. Eindig elke inskrywing egter met ʼn gebed waarin jy God dank vir al die positiewe dinge wat met jou gebeur, byvoorbeeld vir die feit dat jy Hom kan ken; dat God voorsien het dat julle nie by die huis was tydens die inbraak nie; dat jou man werk het en julle in staat was om die huis so goed as moontlik te kon beveilig; dat Hy vir  jou twee gesonde kinders gegee het, en sien al die positiewe dinge wat elke dag met jou gebeur raak.
  • Moenie jouself isoleer nie. Raak betrokke by jou kerk. Sluit aan by ʼn Bybelstudie-groep waar jy ander gelowiges ontmoet en julle mekaar kan bemoedig.
  • Dwing jouself om dinge te doen wat jou weer positief gaan maak: Kry ʼn nuwe stokperdjie wat jou uitdaag; breek gereeld as gesin weg vir naweke; oefen gereeld.
  • Leer dan nou ook jou kinders, deur jou voorbeeld, om in die geloof só fiks te word dat hulle hierdie aardse wedloop voluit en met geloof sonder vrees en met volharding  kan voltooi  (Heb. 12:1).
  • Bid gereeld! Onthou die gebed van ʼn gelowige het groot krag! (Jak. 5:16).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *