Ek is baie bekommerd oor my tienerseun, hy stel in niks belang nie.

Dr. Trudie antwoord

 Ek is baie bekommerd oor my seun.  Hy is nou 15 en in graad 9.  Hy is ons enigste kind en ek is baie lief vir hom.  Toe hy jonger was, was hy baie lewenslustig.  Nou stel hy in niks meer belang nie en dit gaan al vir weke so aan.  Selfs sy vriende kom al hoe minder by hom kuier.  Hy wil net die hele middag slaap of voor die televisie lê as hy van die skool af kom.  Dit is iets wat my natuurlik teen die mure uitdryf.

Hy kla oor alles en nog wat en dit voel vir my asof hy nie meer in staat is om ʼn ordentlike gesprek met enigiemand, veral nie met my, te voer nie. Dit voel nou asof my nuwe naam “Ag, Ma.., los my uit…” geword het.  Hy is ook uiters negatief teenoor my en my man, teenoor die skool en selfs teenoor sy vriende.  Hy onttrek hom van alles en almal.  Om die waarheid te sê kan ek nie onthou wanneer laas ek hom positief gesien het, of hoor lag het nie en ek kan dit glad nie verstaan nie.  Dit lyk asof daar geen sin meer vir hom in die lewe is nie.

Ons probeer hierdie onaanvaarbare houding van hom ignoreer, hom glad nie kritiseer nie, en om net lief te wees vir hom.  Somtyds kan ek dit egter net nie meer vat nie, dan ontplof ek oor sy houding.  Dit is glad nie lekker om hom so te sien nie.  Wat kan ons doen om hom te help?

Jou seun is natuurlik op ʼn baie moeilike stadium in sy lewe.  Dit klink egter vir my of julle hantering van die situasie baie goed is en selfs jou ontploffings is normaal.  Adolessensie is ʼn baie moeilike lewensfase.  Dit gaan gepaard met hormoonveranderinge, fisieke veranderinge en angs, en stres net om in te pas in die “grootmenswêreld”.  Aan die een kant wil hy onafhanklik wees, maar aan die ander kant voel hy verplig om te kompenseer ten einde ʼn positiewe verhouding te hê met sy ouers, en ander mense om hom.  Daarom moet ouers bewus wees daarvan dat sy behoeftes voortdurend verander en dit met liefde akkommodeer.

Dit feit dat jou eens lewenslustige seun hom nou al vir weke onttrek van alles en almal, en slaperig en neulerig is, kan egter ook tekens van depressie wees, veral omdat hy homself totaal oorgee aan sy negatiewe emosies omtrent die lewe en dat daar min plek in sy gedagtes is vir positiewe energie, maar daaraan kan julle werk.

Die groot uitdaging waarvoor julle nou te staan gekom het, is om hom te omring met positiewe energie, sodat hy as’t ware uitgedaag word om ook positief terug te reageer. Die skoolvakansie lê voor en julle kan dit gebruik om hom voor positiewe uitdagings te stel: Indien julle enigsins kan, gaan ten minste vir ʼn naweek na ʼn plek waar julle veilig ver ente kan stap. (Dit sal veroorsaak dat sy liggaam van streshormone soos kortisol en norefedrien ontslae raak, wat hom baie beter sal laat voel.  Sy brein kan selfs endorfiene afskei wat die liggaam se natuurlike en gesonde “morfien” is.) Die ver ente se stap kan hom dus meer ontvanklik maak om weer die positiewe dinge in die lewe raak te sien en om spontaan die kommunikasiekanale tussen julle weer oop te maak.

 Lok hom dan subtiel uit om oor sy vriende, klasmaats en onderwysers te praat.  Veral ook oor dié dinge wat hom ongelukkig maak.  Onthou positiewe logiese denke werk in ʼn groot mate negatiewe emosionele denke teen.  Daarom moet julle hom deur middel van die spesifieke vrae help om weg te bly van bloot vae emosionele reaksies soos “Ag, sommer net…” Dwing hom subtiel om logies te dink deur rustig te vra na die feitelike gebeure wat daartoe aanleiding gegee het waarom hy so negatief voel.  Julle moet hom leer om julle so te vertrou, dat hy sy gevoelens openlik teenoor julle kan verwoord en dit nie onderdruk nie.

Vir ʼn tiener wat so vasgevang is in ʼn negatiewe emosionele plek, is dit soms moeilik om te besef hoe sy houding ander negatief teenoor hom kan beïnvloed.  Hy moet dus gehelp word om sy gedagtes helder en openlik te verwoord sodat ander hom beter kan verstaan en hy misverstande kan voorkom.  Indien hy meer logies en positief kan reageer, sal hy sy situasie meer in perspektief sien en homself boonop stelselmatig uitdaag om teen die negatiewe emosionele plek waarin hy hom begin tuis maak het, te stry.

 Sodra julle vertrouensverhouding beter raak, moet julle veral klem lê op die sin van die lewe.  Daarvoor moet julle hom opnuut bewus maak van die groot rol wat God in sy lewe speel.  Dat God hom op ʼn wonderbaarlike manier as ʼn unieke mens geskape het en baie liefhet (Ps. 139:1-18) en nooit alleen sal los nie, nie eers as sy omstandighede baie onaangenaam is nie (Jes. 43:2).  Ook dat Christus reeds vir AL sy sondes en seerkry weens die gebrokenheid van hierdie lewe betaal het deur die volkome offer te bring aan die kruis (Heb. 9:28). Hy moet besef dat hy duur gekoop is en dus ʼn Koningskind is.  Hy hoef geen mens te vrees nie (Heb.13:6). Help hom om sy fokus van hierdie horisontale, dit is aardse vlak wat stukkend en gebroke is, af te wend en dan op te hef na God, want in God is hy meer as ʼn oorwinnaar omdat Christus hom so liefhet (Rom. 8:37). Hy moet daarop fokus om in alle omstandighede altyd veilig te voel:  Die Here is altyd by hom(Ps.16:8-9). 

Meer prakties:

  • Doen saam met hom Bybelstudie om hom opnuut onder die besef van die wonder van God se Woord, en die sin van ons lewe te bring. Bestudeer byvoorbeeld hoe God die koms van Jesus Christus deur sy profete in die Ou Testament voorspel het.  Julle kan Gen. 3:15, Jes. 42, 53, Jer. 31:33-35 en Es. 33:11-16 bestudeer en deeglik nadink oor hoe die betekenis daarvan die kerngebeure vorm in die Nuwe Testament, deur dit byvoorbeeld met Heb.10:12-18 te vergelyk.
  • Stel hom dan voor haalbare doelwitte wat nie te veel emosionele energie op hierdie stadium vereis nie, maar wat sy logiese denke stimuleer en hom laat voel dat hy dinge suksesvol kan voltooi. Gee aan hom byvoorbeeld die opdrag om vleis te braai.  Laat dit spontaan gebeur en moet hom nie raad gee tensy hy daarom vra nie.
  • Probeer hom aan die beweeg hou, sodat sy gemoedstoestand positief bly. Ek lei af dat hy nie aan sport deelneem nie.  Moedig hom aan om ten minste vir selfverdedigingsklasse te gaan.  Laasgenoemde doen gewoonlik ook baie vir jong seuns se selfvertroue.
  • BAIE BELANGRIK! Indien julle geen verbetering in sy houding en/of gedrag waarneem nie, moet julle so gou moontlik professionele hulp kry!

Dra jou kind gereeld op aan God!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *