Selfbeheersing… ook by die werk!

Deur Marja Pansegrouw

Ek het ʼn baie moeilike week agter die rug. Dit was ʼn emosioneel uitputtende tydjie.  Om   30 staflede na behore te behandel en te hanteeer  en boonop  daarmee saam 40 pasiënte na behore en korrek te versorg , is partykeer amper nét te veel gevra.

Verlede week Dinsdag het sommer met probleme afgeskop: Twee nuwe verpleegsters begin onder my in my saal werk.  Maar sommer met die intrapslag maak die ene dit vir my duidelik sy kan nie die ure werk wat die ander verpleegpersoneel werk nie, en toe ek nie haar wil en wense kan akkommodeer nie, word ek gerapporteer – ek wil nie help nie! Die ander nuweling besluit sommer sy kom nie meer werk nie, want ten tyde van my hantering van ʼn insident by die werk, het ek het net die suster betrokke uitgeluister en geglo.  Maar die eintlike rede hoekom sy nie weer teruggekom het werk toe nie,  blyk toe eers later bekend te word:  Sy was in elk geval nie geregistreer by die  SA Raad op Verpleging nie.

Die aangeleentheid met die eersgenoemde persoon kon ek nog probeer oplos, maar ek moes eers al die personeel wat betrokke is by ʼn sekere skofrooster raadpleeg alvorens ek haar sou kon tegemoet kom. Dit is glad nie so maklik om twee nagskofte te verander sodat hulle sinkroniseer nie, en die personeel betrokke verstaan nie altyd ʼn mens se dilemma nie.

Dit loop toe uiteindelik daarop uit dat drie  “careworkers” my indeling kom bevraagteken: Hoekom ruil ek een van hulle se nagskof nou met ʼn dagskof om?  Dit kook en maal nou binne-in my: Verbeel jou –   ʼn careworker wat die Suster in bevel se besluite bevraagteken.  Toe ek ʼn leerlingverpleegster was  sou ek dit nie eens gewaag het om die Suster in bevel teen te gaan nie, want ek sou summier op die rooi tapyt geroep word.

Vrydagoggend het twee pasiënte ongeregverdigd gekla oor swak sorg,  maar ek behou my waardigheid, gee hulle gelyk en pamperlang en paai maar,  wetende dat dit nou sommer onredelike eise en klagtes is.

Vrydagaand moes ek die nagstaf kapittel oor die swak sorg wat hulle wél aan ander pasiënte gee, net om die volgende oggend te ontdek dat hulle steeds my vermanings geïgnoreer het. Dan vra sommige van hulle nog hoekom kanselleer ek hulle by die agentskap!  Die hele naweek was ek op roep as hospitaalmatrone – dit het ook sy pond vleis geëis.  Teen Maandag was ek gedreineer van al die konflikte en konflikhantering.  Ek wou skreeu: “Give me a break”.

Die week se gebeure het my laat besef: Mens is nou maar een maal selfsugtig!  Elkeen vereis iets wat sy of hy voel aan hom of haar “verskuldig” is.  En as daar nie baie vinnig aan daardie eise voldoen word nie, verloor die selfbeheersing ook sommer.  Hierdie gebrek aan selfbeheersing borrel dan (soos ʼn kookpot!) oor in ontevredenheid, onvergenoegdheid en woede. Die pot kook dan oor wanneer niemand bereid om stil te gaan staan en hom- of haarself in die ander ene se skoene te plaas nie.  Inteendeel: Ek móét nou die diensbeurt kry wat my pas; ek aanvaar nie die gesag wat bo my aangestel is by die werk nie – ek loop die susters in bevel sommer tromp-op; as pasiënt sal ek nie oplet dat daar ʼn tekort aan nagstaf is en ’n bietjie bedagsaam optree nie, ek lê my die hele nag en opwerk om met die eerste môrelig met verhewe stem en bultende nekare my saak te stel – ek betaal tog immers vir wat ek kry!

En die gevolg van alles is dat ek as suster in bevel in reaksie op die verlies aan selfbeheersing, nou al self lus is om die ingehoue perde se teuels los te maak.

Elke mens moet voordat sy onbeheers praat, onbeheers kla, onbeheers toesnou, eers vra: Sou jy in die andere ene se skoene wou wees? En wat vra die Here van my in so ʼn situasie? Kalmte van gees – nee, kalmte van Gees (hoofletter).  Die Here vra van ons  selfbeheersing, omdat ons Hom ken en Hom liefhet en ons lewens van Hom moet getuig.  Jesus Christus het nie selfbeheer verloor toe ʼn doringkroon op sy kop gesit is, daar op Hom gespoeg is en Hy bespot is en oor die kop geslaan  is nie.  Hy het nie eens sy selfbeheersing verloor daar aan die kruis toe die mense met Hom gespot het nie, maar Hy antwoord beheers in gebed: “Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk. 23: 34a).

Elke mens wat jou pad kruis, het sy stukkie swaar, sy of haar kruis wat gedra moet word – daarvan is ek oortuig.   Die lewe is nou eenmaal nie volmaak nie, want ons bly dan in ʼn gebroke wêreld. Daardie persoon oorkant jou dra dalk ʼn finansiële bekommernis, familieprobleme, verlies,  kommer oor kinders, benoudheid oor sy of haar werk, in die hart rond.  Hierdie dinge is deel van die werklikheid van die lewe.  En dan kom jy – onbeheersd – en stel, sonder om te dink, sonder om jou gedagtes te beheer, eise aan daardie persoon.

Soms moet jy net eers in selfbeheersing (gehoorsaam aan God se wil!) gaan stilstaan en kyk na daardie mens.  Dan sal jy heel moontlik sien daar is hartseer in die oë, die liggaam is kromgetrek van ongelukkigheid, daar is ʼn geslotenheid wat jou weerhou van toenadering.  Stop eers! Staan stil.  Luister en kyk na ʼn mens se liggaamstaal, dit verklap so baie.

As jy dan praat,  verantwoorde, weldeurdagte kommunikasie, sal jy verbaas wees hoeveel dinge die mens oorkant jou al ervaar het – dinge wat jyself dalk al deurgemaak het. Dan kan ʼn mens werklik met mekaar empatie hê, saam voel, saam verstaan, omgee, met mekaar deel, ja ook vir mekaar bid!  Selfbeheersing (in die Here) maak dat  jy dan in die Here die lewenspad saam met die ander persoon stap en dáár word julle gelyk – vóór die Here!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *