Want só lief het God die wêreld…

Deur Jo van Rooyen

Ek sit alweer op my stoep en peins vroeg, alleen sodat ek in stilte my Vader kan dank, sy stem kan hoor, en al my geliefdes aan Hom kan opdra. Omvou deur die mooi van die vroegoggend, is ek intens bewus van God se genade in die kleur van die wolke, die sag sluipende misslierte, selfs in die klein knypie in die lug wat herinner dat die somer mettertyd gaan wyk. Naby aan God.

My liewe ou man, met koffie en beskuit en kos vir die voëltjies, sal bedagsaam, ʼn klein bietjie later, sy verskyning maak. Die voëltjies sal, soos elke oggend, soos ryp vrugte uit die boom val as hy hulle kosbakke vul. Dis die rustigste tyd van my dag. Ongeduld en haas slaap nog! In hierdie vroegoggend vrede dink ’n mens, kuier ’n mens, verlang ’n mens na jou geliefdes, jou kosbare kinders.

Daar begin die dag met sy werklikhede, sy kommer. Ongeduld sal seker ook weer sy verskyning maak, en die son is skaars op!

Uit die bloute, omring deur sy genade, wonder ek: Wat sou ek gedoen het as God my beveel het om my geliefde seun of dogter, te offer, dood te maak? Daar is geen groter liefde hier op aarde as die liefde van ouers vir hulle kinders en kleinkinders nie. Sou ek, soos Abraham, met ʼn stukkende hart, verbyster oor wat God van my verwag, sy opdrag uitvoer, of sou ek hardloop soos Adam en Eva, probeer vlug, wegkruip voor die Here? God het die offer gebring, sy Seun. Daar was nie ʼn plaasvervanger soos vir Isak nie. Christus ís geoffer. Onskuldig voor mens en God het sy bloed gevloei: “sodat die wêreld kan weet dat U my gestuur het”(Joh. 17:23). Die hoogste offer, die vleklose Lam van God, is namens my op die altaar geoffer.

Dit was droewig vir die Israeliete in Egipte. Hulle was slawe, bannelinge in die vreemde, vyandige land – net soos ons slawe is van hierdie vyandige wêreld, ons tydelike woning. Daar het uitkoms vir hulle gekom. God se genade en sy liefde vir sy kinders het hulle vrygemaak van die juk van slawerny wat hulle daar moes verduur deur die bloed van die lam wat hulle aan hul deurkosyne moes smeer. Die doodsengel het by hulle verby gegaan. Hulle is vrygemaak, bevry van slawerny.

Soos die Israeliete, is ons ook vasgevang in slawerny. Die wêreld, die sonde, is soos die Farao wat ons nie wil vrylaat nie, maar vir ons is die Lam reeds geslag. Aan ons deure, waar die sonde in en uit gaan, het Hyself die bloed van dié Lam van God gegiet. Deur sy bloed gaan die doodsengel by ons verby en het ons deur Hom die sonde oorwin, vryspraak en die ewige lewe ontvang: “Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat

Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik” (Rom. 8: 30).

God het die volk Israel nooit versaak nie: Hy het hulle gedra, versorg, selfs die pad deur die see vir hulle oopgemaak om hulle te bevry. Die almag van God is bo menslike verstand verhewe. Hy dra ons ook. Hy maak vir ons ook ʼn pad deur menige seë oop en voed ons uit skraal broodmandjies. Die weduwee se kruik raak ook vir ons nie leeg nie.

Meer nog: Jesus se bloed het vir my gevloei. Ek moet daarom getuig dat “elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang” (Hand. 10:43). Dankbaar moet ons gelowig bly bid, sonder om te twyfel aan sy groot almag, sy genade en sy liefde vir ons, die volk wat Hy op die aarde geplaas het om Hom te verheerlik.

Christus is gebore en daar reeds het sy lyding begin. Vernedering, vervolging was deel van sy tyd hier op aarde. Hy moes die vernederende kruisdood sterf voordat Hy in heerlikheid na sy Vaderhuis kon terugkeer. Dit alles sodat óns nie die ewige dood sal sterf nie. Na sy kruisdood het Christus weer teruggekeer uit die dood: “Hy het aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe” (Hand. 1: 3). Hy het die belofte van die Heilige Gees gegee: “… julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samarie en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand. 1:8).

Toe was sy werk op aarde afgehandel. Die offer is gebring. Daar is versoening, en vergifnis, vryspraak vir sy volk – nou nie net meer Israel nie, maar almal wat in Hom glo. Christus kon in volle heerlikheid terugkeer na sy Vaderhuis. Hy is as oorwinnaar deur die wolk opgeneem, weg uit die wêreld, om weer aan die regterhand van God te sit. Dit is volbring!

Maar “Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom…” (Hand. 1:11b) wanneer die tyd reg is. Die Heilige Gees is uitgestort. God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. Die Lam van God is vir ons gebore, het gesterf, sy bloed vir ons gegee, opgevaar na die hemel maar ons nie verlaat nie.

Op die bestemde tyd sal Hy weer kom – net soos Hy gegaan het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *