Gesprek met Kinta… rousmart en troos

Deur Kinta se Ma (skuilnaam)

My foon piep as die “call me” deurkom. Ek kyk op my horlosie – hoekom wil Kinta hê dat ek haar nou bel?

Ma (hoor ek Kinta se onvaste stem en dan stilte)

Ja Kinta, Ma kan jou hoor, is iets verkeerd?

Ma, (Kinta begin huil), is Ma by die huis? Marietjie is vanoggend dood, en die hoof het gesê ons klas kan nou huis toe gaan.

Marietjie van tannie Ria?

Ja Ma (snik Kinta), Saartjie-hulle sal my aflaai.

Dis reg, ek wag vir jou (Hoe troos ek my kind Here? Al die hol, leë trooswoorde wat so maklik geopper word spoel deur my kop)

(Ek dwaal half doelloos deur die huis, totdat ek die voordeur hoor oopgaan. Kinta vermy oogkontak met my)

Hallo Ma, ek gaan net eers kamer toe – give me five.

(Ek stap bietjie later in Kinta se kamer in waar sy met haar foto-album op die bed sit met haar rooi gehuilde oë)

Mamma is jammer dat julle nou hierdeur moet gaan, Kinta.

Dankie Ma, ons het gedink sy is net siek in die hospitaal, maar hierdie nuus is devastating.

Dit maak nie saak of iemand in ’n ongeluk of van siekte sterf nie, dit is ’n skok en gaan gepaard met een of ander vorm van trauma. Die feit dat jy huil is goeie medisyne vir die rouproses wat jy en jou maats nou moet deurgaan.

Die hoof het vanoggend in ons klas ingestap, Mev. Venter uitgeroep en toe sy terugkom was sy wasbleek. Sy’t gesê ons moet oppak en met ons tasse saal toe gaan. Daar gekom het Suzanne, die skool se sielkundige, vir ons gewag. Sy het vir ons die nuus oorgedra en toe met ons gepraat oor die verskillende gevoelens wat ons kan ervaar. Sy het genoem dat sommige mense woede ervaar, ander dit ontken en party selfs depressief raak voordat hulle iemand se dood aanvaar.

Ek dink die uitdaging is om nie in een van die genoemde emosionele toestande vas te val nie. Rou moet as ’n proses gesien word en tyd is sielkundig die geneser totdat aanvaarding intree. Dis baie algemeen dat mense hulself emosioneel wil beskerm deur die afsterwe te ontken en dan by die oop graf breekpunt bereik as die werklikheid hulle ruk.

Suzanne het gevra hoe ons voel en party kinders het genoem dat hulle kwaad is, terwyl die meeste van ons net gehuil het en nie eers kans gesien het om te antwoord nie. Ek het ook gehuil, maar met ’n rustigheid binne-in my omdat ek weet dat Marietjie ’n lewende verhouding met Jesus gehad het.

Ja, sy het gelewe soos Paulus in Rom. 14:7-9 sê: “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here”.

Ma? Ons moet na tannie Ria toe gaan, maar ek sien sóóó op daarteen!

Kom ons gaan maak eers ’n koppie tee en pak vir haar beskuit in wat ons kan saamvat.

(Kinta stap om musiek aan te sit en ek onthou lied 292 wat die koor sing). Pak jy solank die beskuit, dan sit ek vir ons die kerkkoor se cd op wat die Heidelbergse Kategismus Sondag 1 Vraag 1 se verwerking sing:

My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort.

Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop dis my anker, my vaste hoop.

Ek behoort aan die Here. Niks sal my ooit van Hom kan skei.

Die doop is die seël dat die Heilige Gees my ’n kind van God, die Vader laat wees.

Sy onfeilbare Woord is die gids wat ons lei; deur sy liefde bewaar Hy my.

Ek behoort aan die Here. Niks sal my ooit van Hom kan skei.

Sy onfeilbare Woord is die gids wat ons lei; deur sy liefde bewaar Hy my.

Ma, dis dalk die antwoord. Ek kon nie verstaan hoekom van die kinders so kwaad is dat Marietjie oorlede is nie, maar dis die kinders wat nie die Here ken nie.

Ja en nee, want ek weet van gelowiges wat ook al vir die Here kwaad was. Nou met Paastyd wat ons Jesus se kruisiging en opstanding herdenk behoort ons die boodskap van troos oor te dra wat ons in 1 Tess. 4:13-17 kry.

(Kinta vat die Bybel lees):

Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie.

Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem. Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.

Die ware troos is dat Jesus deur sy kruisdood ons sondes vergewe het, ons die ewige lewe belowe is deur sy opstanding en dat Marietjie nou saam met Jesus Christus leef by ons Hemelse Vader. Kyk daar, Kinta, in vers 18 word daar gesê: “Troos mekaar dan met hierdie woorde”.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *