Genade, oneindig groot!

Deur Hester Venter

NOTA AAN KINDERS: As jy ’n krisis van enige aard het, bel jy nóóit jou ma nie. Ma’s “freak” totaal uit. Pa’s bly kalmer.

Die oproep het gekom Dinsdag 3 November 2015, ongeveer 14h30 . Ons seun Rudolph bel sy pa: “Pa, ek het ʼn klein ongelukkie gehad. Ek was by oom Allan op die plaas (een van sy kliënte) en ons was ʼn paar mense wat gestaan en kyk het na die nuwe silo’s wat hy laat bou het. Hulle het die waaiers vir die eerste keer aangeskakel om dit te toets, en een het onmiddellik ontplof. Iemand het my been verbind en hy jaag nou met my hospitaal toe. Maar ek is OK”.

Gerrie kom sê Rudolph het sy been seergemaak, maar hy sê alles is reg, ek moet nie bekommerd wees nie.

Hy word drie en dertig jaar oud, maar ’n ma bly ’n ma en ek bel hom. Weereens stel hy my gerus maar erken dan na ʼn kort stilte dat die been sleg lyk.

Soos hy en sy “noodhelper” die tagtig kilometer van die plaas af deurjaag hospitaal toe sonder inagneming van enige verkeersreëls, doen ons dieselfde met ons honderd kilometer afstand hospitaal toe. Enige verkeersbeampte wat dalk op die pad sou wees, moes probeer het om ons te stop. Hy sou maar die reg moes gaan toepas by die hospitaal.

Ons kry ons kind in die ongevalle-afdeling van die hospitaal, geskok en deurdrenk van pyn. Die vlieënde stukke skrapnel het sy been onder die knie oopgeruk tot op die been…

Sy been word verbind, hy word gespuit vir pyn en oorgeplaas na die ortopediese saal. Nou wag ons vir die dokter. Hy laat via die saalsuster weet hy sal Rudolph Woensdag sien. Rudolph het intense pyn, en slaap glad nie die nag nie.

Woensdagoggend sê hy die dokter was baie vinnig by hom om te sê hy het nog vyftien pasiënte, en sal hom dan sien as daar nog tyd is. Hy en ons dring aan op ʼn ander dokter, wat hom die middag laat teater toe neem. Ons wag, biddend en bekommerd. Die dokter kom na die operasie om te vra wat het gebeur. Sy sê hy was baie gelukkig dat daar nie beensplintering of skade aan die beensenuwees gekom het nie, maar ’n lang herstelproses lê voor.

Geluk? Nee, genade en God se beskerming wel. Ook, dat as die stukke skrapnel hom teen sy kop of bors getref het, hy dit beslis nie sou oorleef het nie. Geluk? Nee. God se bewaring? Ja. Ons dank die Here vir sy genade, oor en oor. En Rudolph se laaste woorde

voordat hy narkose kry in die teater: “Dokter, gaan my been OK wees?” Hy het gesien hoe die been lyk en was self baie bekommerd.

Hy kom uit die teater, beur regop om te kyk of sy been nog daar is. Hy het soveel pyn, en dit lyk nie of die pynstillers enige uitwerking het nie. Jy staan by jou kind se bed, hulpeloos, en ons bid dat die pyn moet bedaar. Hy raak kalmer, en eet vir die eerste keer in vier en twintig uur. Dis lasagne en pampoen. Hy eet nie eintlik groente nie, maar sê deur die blare dis lekker pampoen wat Carol Ann (sy verloofde) hom happie vir happie voer. Natuurlik ook nog beneweld van die narkose en dan is honger mos die beste kok. Ons lag, verlig en dankbaar dat hy eet, en veral dat hy leef.

Ons besef hierdie gaan ’n lang hospitaalverblyf wees, en ek vra die saalsuster of hy die privaatkamer oorkant sy saal kan kry, wat onbeset is. Die volgende dag toe ons daar kom, is hy oorgeplaas na die privaatkamer, nogal en suite – gerieflik privaat, vir al sy besoekers en oproepe. Rudolph bou ’n goeie verhouding met die personeel op, hulle noem mekaar al op die voornaam, want “dis immers hulle wat my aarvoeding moet ruil, en my moet spuit,” redeneer hy heel nugter.

Op dag dertien sien ons hy is depressief. Sy lyf is seer gelê en hy het nog nie die son op sy vel gevoel nie. Sy pa stoot hom uit in ʼn rolstoel op die klein patio. Dankie, Heer, dat sy been in ’n stut is en dat hy sy been behou het. Na twee weke en drie keer se teruggaan teater toe, word hy ontslaan. Deur die Here se genade, het die vel begin heg, en was dit nie nodig vir ’n veloorplanting nie. Hy is weliswaar op krukke, en vele sessies fisioterapie lê voor, maar hy leef en het sy been behou.

Vriende, kennisse, kollegas, familie en broers en susters in ons gemeente het hom onophoudelik besoek, gebel, en boodskappe gestuur. Maar bowenal is daar vir hom gebid, baie gebid. Gebed verander sake:

“Ek sal Gods lof bly noem,

ek sal die Here prys;

altyd sing ek van sy roem

ek sal Hom eer bewys” (Psalm 34-2:1)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *