’n Oorvloed lyding en ʼn oorvloed bemoediging

Deur Jaai du Plessis

Die hantering van ’n langtermyn beproewing terwyl ’n mens nog nie weet hoe die beproewing gaan verloop en wanneer dit gaan einde kry nie, kan nogal uitdagend wees vir die Christen wat probeer om volgens Bybelse riglyne te lewe. En die liefdevolle hantering van die mense wat ’n rol speel in die totstandkoming en instandhouding van die beproewing is hoegenaamd nie maklik nie. So het ons in Maartmaand se uitgawe ’n kykie gekry in die beproewing wat Lood en Maggi moes deurmaak oor grondeisers wat hulle begin dreig het en aangeval het…

God beproef ʼn mens deur lyding

Lood en Maggi se lewe op hulle plaas het onverwags verander in ’n geveg om oorlewing. Toe ’n aanslag op Lood se lewe gefnuik is, het sy aanvallers tot voortdurende sabotasie oorgegaan wat letterlik vir jare aangehou het. Die probleem is dat ’n mens altyd in gedagte moet hou dat hierdie aanvallers, net soos die Midianiete in wie se mag die Here die Israeliete oorgegee het (Rig. 6:1-6), moontlik werktuie in sy hand kan wees. As ’n mens so daaraan dink, sien jy die opdrag dat jy die ander wang moet draai (in Matt.5:39) nogal in ’n ander lig.

Dit is wel so dat, al het God die nasies in sy diens gebruik om sy volk te straf (vgl. Die Bybel in Praktyk p.1334) was Hy glad nie altyd gelukkig met die goed wat hierdie werktuie van Hom aangevang het nie. In Sag. 1:15b word dit duidelik gestel: “My toorn teen Jerusalem was nie so groot nie; dit is die heidennasies wat dit so ’n groot ramp laat word het”. Die opdrag dat jy jou goed moet gedra (1 Pet.2:12) en alle mense moet respekteer (1 Pet. 2:17) is in konfronterende situasies glad nie ’n maklike een nie. Paulus skryf in Rom.12.19: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God… Ek sal vergeld, sê die Here”. In hierdie lig gesien raak “… bid vir dié wat vir julle vervolg” (Matt. 5:44) effens minder skokkend op die oor.

Beproewings kom op God se tyd tot ʼn einde

Tydens so ’n jarelange beproewing waar jy moet aanhou wange draai – soos ’n krieketspeler wat kolf – tot jou wange pyn van al die “brandpyle van die Bose” (Ef.6:16) wat op jou afgevuur word, slaan jy soms erg moedeloos die oë op na die berge en vra jy waar sal jou hulp vandaan kom? (Ps.121:1). As jy dan Deut. 32:36b lees waar die Here Hom ontferm oor sy dienaars want Hy sien hulle krag het ingegee, is dit of ’n mens moed skep. Die een of ander tyd sal die Here ingryp “want die bestemde tyd het aangebreek” (Ps.102:14). ’n Mens moet probeer onthou dat ons tye in sy hande is (Ps. 31:16), maar so is ook die tye van ons beproewings in sy hande. Die Ballingskap is byvoorbeeld op sewentig jaar vasgestel (Dan. 9:2). Ons as mense weet nie hoe lank ’n beproewing gaan duur nie, maar ons kan daaraan vashou dat dit wel ’n einde sal hê. Dit het soms vir Lood en Maggi gevoel soos vir Paulus toe

hy in 2 Kor1:8b geskryf het: “Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan…”

Paulus meld dat daar “’n oorvloed van lyding is ter wille van Christus…” (2 Kor. 1:5).

Sou ons enigsins waardering gehad het vir die lydenspad wat Christus ter wille van ons gestap het as dit met ons nét goed gegaan het?

Wonderbaarlike uitkoms

God se genade is so groot dat ons nooit ’n lydenspad vergelykbaar met Christus sʼn eers hoef te probeer stap nie. Hy weet te goed wat Hy van sy maaksel te wagte is! Hy gee redding uit ons aardse beproewings op maniere wat die rykste verbeeldingsvlugte ver oortref.

Die laaste van ’n jarelange reeks sabotasie-aksies het op ’n vernietigende brand op Lood en Maggi se plaas uitgeloop. Lood moes sy beeste verkoop omdat al die weiding op die plaas uitgebrand het. Hy het die weiding goed versorg en dit die hele seisoen onbewei laat rus sodat dit kan herstel na die vuur. Die gras het pragtig reggekom, maar dit hou nou ’n brandgevaar in vir die winter.

In die res van die land is die droogte baie erger as by Lood-hulle en sekere boere se groot beproewing lê daarin dat, waar daar voorheen voedsame grasvelde was, dit tans soos ’n stowwerige woestyn lyk. Hulle het geen weiding oor nie en die winter lê voor…

Op ’n hoogs onwaarskynlike manier (uit ’n menslike oogpunt) kom Lood en ’n boer vanuit een van die gebiede wat die ergste geraak word deur die droogte bymekaar uit, en is daar uitkoms vir albei. Groot vragmotors ry ver en lank, maar beeste en gras kom bymekaar vir die winter. Beide gesinne kan nou saam met Paulus jubel met danksegging ná ’n moeilike tyd: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee” (2 Kor. 1:3).

Vertrou op God – Hy sál red!

Die droogte is nie verby nie en die politieke woelinge is steeds ’n teelaarde vir destruktiewe gedrag. “Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God…. Op Hom is ons hoop gevestig. Hy sal ons ook verder red” (2 Kor. 1:9b en 10b).

“In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, want net soos daar vir ons ’n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ’n oorvloed van bemoediging deur Christus” (2 Kor. 1:4-5).

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *