Bewustelik dissipels van Jesus

Deur Prof. Ben de Klerk

Hoe kan ons bewustelik dissipels van Jesus wees en dissipels maak?

Hierdie vraag raak Jesus se Groot Opdrag in Matteus 28:16-20. Dit is ʼn baie groot opdrag aan ons klein mensies wat net op ʼn klein stukkie van hierdie aarde lewe: “Maak dissipels van al die nasies”. Sommige van ons lesers is al in klein kamertjies in ʼn ouetehuis en hoe moet hulle in die klein ruimte disspels wees en dissipels maak?

Bewustelik dissipel van Jesus

ʼn Dissipel is ʼn leerling en ʼn volgeling van die een by wie hulle leer. Ons is nie maar sommer dissipels nie, maar dissipels van Jesus. Om ʼn dissipel te wees beteken om voortdurend by Jesus te leer sodat ons Hom kan volg, Hom kan navolg. Voor dit kan gebeur moet ons glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God. Dan weet ons dat ons ʼn nuwe hart het, nuwe hande en voete om Hom te kan volg. Om aan Jesus se voete as leerling te sit, is om na sy stem te luister. Ons kan luister deur self ons te verdiep in die afwagting van sy koms na die wêreld (die Ou Testament), in sy koms en sy verblyf tydens sy aardse lewe (die Evangelies) en in sy lewe nou as verhoogde Here by sy Vader (die Nuwe Testament). ʼn Dissipel van Jesus is nuuskierig om meer en meer van ons Leermeester en sy leringe te hoor en Hom en sy woorde te omhels. Want so kan die leerling Jesus se gesindheid al meer aanleer en uitstraal. Ons kan deur sy woorde gelei word en deur sy optrede tydens sy aardse lewe beïnvloed in ons eie optrede.

Dit beteken in kort om by Hom te leer om nederig teenoor ander te wees en beslistheid in ons uitwys en veroordeling van sondige en korrupte situasies. Dit beteken dat ons ander hoër sal ag as onsself en afbuig na hulle wat in moeilike omstandighede kop bo water moet hou. Ons woorde moet so opbouend wees dat dié wat dit hoor liefde sal ervaar en hoop sal kry. Ons Here Jesus het in sy gesindheid, woorde en optrede op aarde grense deurbreek en deur die krag van die Heilige Gees kan ons Hom hierin navolg.

Dissipels maak

Terwyl ons altyd leerling van Jesus bly, stel Hy ons ook in staat om ander te leer. Ons het die Lig van die wêreld, Christus, wat in ons woon en daarom kan ons ligdraers wees, sy lig uitstraal. Om dissipels te kan maak, moet ons ingestel daarop wees om verhoudinge te skep en te versterk. In verhoudinge kan ons ander lei om in sekere opsigte ons voorbeeld na te volg. Paulus leer in 1 Kor. 11:1 dat sy lesers sy voorbeeld moet navolg soos hy die voorbeeld van Christus volg. Ons trek leerlinge aan deurdat ons disspipels van Jesus is en hulle iets kan aanvoel van Jesus se liefde, sy opregtheid, sy krag. Ons kinders en kleinkinders is in die voorste linie om van hulle dissipels van Jesus te maak. Op werksterreine en in sosiale

byeenkomste is wonderlike geleenthede om deur die bou van verhoudinge mense na Christus te lei. Ons kry dikels ʼn kort geleentheid om met vreemdelinge kontak te maak, by die petrolstasie, by die betaalpunt van besighede, wanneer ons by iemand verbystap of draf. Al is dit net ʼn vriendelike groet of ʼn bemoedigende woord, kan dit Christus se lig uitstraal.

Navolg

Dalk het jy al ʼn kleutertjie gesien wat Ouma se loopstyl namaak. Ons moet weet dat ons dopgehou word en dat baie mense ons as’t ware deur die hoek van hulle oog sien. Elke keer wanneer ons iemand teenkom moet ons onsself afvra: Was ek ʼn ligdraer van Christus? Kon daardie persoon iets van Christus in my sien of van my hoor, sonder dat ek aanstoot gegee het? Het ek die geleentheid wat die Here, soms selfs onverwags, benut om van Christus te getuig? In 1 Tess. 1:6 hoor ons: Hulle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword.

Elkeen van ons sal kan vertel van persone wat só lig uitgestraal het, dat ons op een of ander manier hulle nagevolg het: ʼn Ouma, ʼn ouer, ʼn vriendin. Ons het agter die lig wat hulle uitstraal aangegaan en so by die Lig, Christus, uitgekom. So het ons self dikwels onsigbare volgelinge na wie ons lig uitgestraal het, sonder om dit te weet.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *