Verryk die selfbeheersing met volharding

Deur Cobie Steyn

Die atleet wat die selfbeheersing geopenbaar het om te begin oefen, sal nêrens kom as sy net een keer gaan oefen en nooit weer nie. Die besluit om te gaan oefen, moet opgevolg word met daaglikse oefeninge, week na week, maand na maand, jaar na jaar…

“…laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop…” (Heb. 12: 1).

Ons klim nog steeds die “leer van geloof” van 2 Petrus 1. Hier noem Petrus ʼn aantal goed waarmee ons ons geloof kan versterk, verinnig en verryk. Die Bybellennium druk dit so mooi uit wanneer daar staan dat ons moet onthou God wil nie hier “net waardevolle dinge lángs jou geloof” plaas nie, dit “wil jou geloof self tot volle ontplooiing bring”.

Terwyl ons dan in die reeks so baie gebruik maak van die voorbeeld van ʼn leer (die gewone klimapparaat wat elke huishouding omtrent besit), laat dit my dink: Geloof is die “raamwerk” van die leer – daarsonder sou ʼn mens nie ’n leer gehad het nie. Die “dwarssparre” is deugsaamheid, kennis, selfbeheersing, volharding, godsvrug en liefde. Die raamwerk kan eintlik nie sonder die dwarssparre nie en die dwarssparre nie sonder die raamwerk nie. Maar die raamwerk (dus die geloof) vorm die fondament of basis van alles. En geloof is dan tog die manier waarop ons Christus met ons hele lewe en wese omhels.

Verryk die selfbeheersing met volharding

Verlede keer het Jacomien Zwemstra so mooi verduidelik dat Christelike selfbeheersing ʼn beheersing is wat voortspruit uit die gelowige se bereidwilligheid om haar te onderwerp aan die wil van God en om telkens jou eie sondige natuur teen te staan en in selfbeheersing op te tree soos wat God dit wil hê.

Nou kom Petrus en hy sê dié selfbeheersing moet voortdurend gehandhaaf word – ons moet volhard in selfbeheersing. Dit is ʼn mondvol. As mense wat gebuk gaan onder die stukkendheid van die sonde weet elkeen van ons maar al te goed hoe maklik ʼn mens jou selfbeheersing verloor. Daarom moedig Petrus die gelowige aan om die selfbeheersing met volharding te verryk. Om elke dag weer en weer te probeer.

Die lewenswedloop van volharding

Dis soos die lewenswedloop waarvan daar in Heb. 12: 1-3 gepraat word – daar word gesê die lewenswedloop moet met volharding gehardloop word. En dink maar aan ʼn gewone wedloop soos ons dit vandag ken: Dit is maklik vir ʼn atleet om vol te hou met oefen wanneer alles klopdisselboom gaan – die weer is nie te warm of te koud nie, die spykerskoene sit gemaklik, die veld is droog en goed versorg. Maar wanneer dit bitter koud is of snikheet warm word, wanneer jou skoene waarmee jy altyd gehardloop het, nie meer op die mark is nie, dan raak dit ʼn anderste wedloop. Dan vra dit deursettingsvermoë en vasbyt om te volhard in die wedloop.

In die lewe is daar ook goeie kompetisiedae – jou gesin is gelukkig, almal om jou is gesond, dit gaan finansieel goed. En dan is dit relatief maklik om vol te hou, aan te hou met die “wedloop van die geloof” – want die gelowige se lewe van elke dag is mos deel van die wedloop van die geloof.

Maar dis wanneer die “slegte weer” kom, die versoekings (waarvan daar genoeg oor ʼn mens se pad kom), die stres en druk van jou werksomstandighede, die teleurstellings van kinders wat nie leef soos wat jy dit geïdealiseer het nie, ongeneeslike siektes soos sklerose en kanker, jou kindjie wat met ʼn geremdheid gebore word, dat dit ʼn uitdaging raak om in die geloof in selfbeheersing te volhard. Dit beteken om nog steeds jouself ondergeskik te stel aan God se wil, om te berus in die feit dat Hy in beheer is (al lyk dinge óm jou vir jou buite beheer en wil jy krampagtig self beheer probeer oorneem!).

Hou jou oë op Jesus gevestig

Daarom is dit nie verniet dat die skrywer van die Hebreërbrief sy opdrag voltooi deur te sê wat ons fokus moet wees terwyl ons met volharding vorentoe beur nie: “… die oog gevestig op Jesus, die Begin en die Voleinder van die geloof” (Heb. 12: 2a). Die gelowige kan slegs volhard in die geloof, as jy vasklou aan Jesus Christus as jou rolmodel. Hy het (met groot respek bedoel en gesê) nie met ʼn Stoïsynse “Ek is nou hier in en moet nou maar hier deur”-houding sy Vader gehoorsaam nie. Inteendeel: “Ter willle van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins” (Heb. 12: 2b). In Jesus Christus se optrede sien ons sy absolute oorgawe aan sy Vader en die rustige wete dat God in beheer is.

Ons moet deur die geloof volhard in selfbeheersing, al gaan dit ook hoe swaar. Net soos Christus sy lyding en vernedering daar aan die kruis teen die sagte, kalm lig van die ewigheid gesien het (beeld ontleen aan gelese gedeelte in Tyndale Kommentaar oor 2 Petrus 1), moet ons ook ons uitdagings, vernederings, lyding en swaarkry sien teen die sagte lig van Christus se wederkoms na hierdie aarde en vasbyt in die wedloop van die geloof!

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *