Verryk die kennis met selfbeheersing

Deur Jacomien Zwemstra

In 2 Petrus 1:5-7 kry ons ‘n lysie van dinge wat ons geloof kan laat groei en vrug dra. Hierdie goed is soos ‘n ketting aanmekaar verbind. Die een is dus nie belangriker as die ander nie, maar die een kan ook nie sonder die ander een volledig word nie.

In 2 Pet. 1:6 vertel lees ons dat ons selfbeheersing in hierdie ketting moet invoeg om dit ‘n sterker ketting te maak. Die vorige skakel in die ketting was kennis en daarvan het ons in die Junie uitgawe van die Vroueblad gelees. In daardie uitgawe het Cobie Steyn ‘n gedeelte uit Gordon Spykman se boek “Never on your own” vertaal. Ons het gelees dat hy die volgende oor geloof skryf: “By Faith I entrust my whole self to God’s control – my thinking, my feelings, my willing.” Hy sê dus dat “my wil” in geloof onder God se beheer moet wees. Selfbeheersing in Bybelse terme het dus nie so veel te doen met hoe ek MYSELF beheer nie, maar met hoe ek GOD my laat beheer. Dr. E.P. Groenewald stel dit so in sy kommentaar op 2 Petrus: “… (selfbeheersing) dui op die hele mens se gebondenheid aan die wil van God en sy bereidwilligheid om volkome in diens van die Here te staan”.

God gee selfbeheersing

Ons as sondige mense is nie in staat om ons self te beheer nie. Maar God weet dat ons sonder selfbeheersing weerloos is teen die aanslae van die wêreld. Spr. 25:28 beskryf dit mooi: “’n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm, so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersing het nie.” Ons het dus selfbeheersing nodig om ons teen sonde te beskerm. Daarom gee God vir ons selfbeheersing as deel van die vrug van die Gees (Gal. 5:22-23). Ook 2 Tim. 1:7 verduidelik dit: “Die Gees wat God ons gegee het … vul ons met krag en liefde en selfbeheersing”.

Dit beteken nie dat Christene ewe skielik die perfekte selfbeheersing het die oomblik as hulle begin glo nie. Inteendeel! Ons weet uit ondervinding dat dit nie so is nie. Dit beteken wel dat Christene hulle lewe deur die Gees kan laat beheer en die gevolg daarvan sal ook selfbeheersing wees. Ons moet dus in alles wat ons doen God se wil vra en daarvolgens besluite neem. Selfs wanneer God dinge van ons verwag waarvan ons nie hou nie.

Kennis van God sigbaar in selfbeheersing

Ons moet dus die kennis wat ons van God het in ons lewens sigbaar maak deur op te tree met selfbeheersing. Ons kan as Christene nie meer die dinge wat God van ons vra, ignoreer en doen wat ons wil nie. Ons kan onsself so maklik oortuig dat ons die regte ding doen, terwyl ons goed weet ons is verkeerd.

Ons weet byvoorbeeld baie goed dat die God sê ons mag nie moord pleeg nie. Ons weet ook baie goed dat dit beteken ons mag nie eers lelik van iemand anders praat nie (Matt. 5:21-22). Tog gebeur dit so maklik dat jy langs die sportveld ‘n lekker brokkie inligting oor ‘n mamma by die skool hoor en dan kan jy nie wag om dit vir ‘n vriendin te gaan vertel nie. Jy vertel jouself dat dit “mos die waarheid” is dat daardie vrou se man sy werk verloor het as gevolg van ’n drankprobleem en dat jy daaroor praat “omdat jy oor haar bekommerd is”.

Ons leer in die Bybel dat ons liggame ook vir God belangrik is en dat ons dit moet versorg, maar tog skep jy daardie tweede stuk koek in as jy reeds oorgenoeg geëet het en vertel jouself: “Ek sal Maandag weer na my dieet kyk”, maar in jou hart weet jy goed “Maandag” gaan “Dinsdag” word en “Dinsdag” gaan verander in “volgende week, ná die vakansie of selfs volgende jaar”.

Wanneer jou bure se hond wéér by die hek uitkom en op die gras voor jou huis kom mors, “is dit mos net menslik” om te vergeet van Ef. 4:26 (“As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ‘n dag kwaad afsluit nie) en op jou buurvrou te skree dat jy haar hond gaan aanrand as hy dit weer doen.

Verryk jou kennis van God met selfbeheersing

Maar dit is nie wat God van ons vra nie. God vra van ons om selfbeheersing by kennis te voeg. Met ander woorde in plaas daarvan om jou vriendin te gaan vertel van die arme vrou se lot, gaan praat eerder met die vrou self. Maak van haar ‘n vriendin en kyk hoe jy haar in hierdie moeilike tyd kan ondersteun.

Sê nee vir daardie tweede stuk koek. Of dalk selfs vir die eerste stuk… Al is dit Kersfees.

Gaan ruim sewentig maal sewe keer jou buurhond se gemors op en gaan vra vir die sewentig maal sewende keer vriendelik vir jou buurvrou om die hond in hulle erf te hou. Moenie die duiwel vatkans gee nie (Ef. 4:27), bou ’n muur van selfbeheersing om jou en beskerm jouself binne God se veilige skuiling.

Verryk jou kennis van God deur gebruik te maak van die selfbeheersing wat jy van die Gees ontvang. Laat God toe om jou te beheer en wys op daardie manier vir die wêreld dat Christus die Koning is.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *