Korrupsie

Deur Prof. Ben de Klerk

Daar is soveel korrupsie in ons land. Weet ons wat sê die Here daarvan?

Ons almal ervaar op ʼn pynlike manier hoeveel mense, veral leiers, betrokke is by korrupsie. Deurdat ons belastinggeld misbruik word in die proses van die pleeg van korrupsie, maak ons slagoffers van die praktyk. Ons moet ook versigtig wees om nie meegevoer te word deur die stroom van korrupsie deur byvoorbeeld omkoopboetes aan korrupte amptenare te betaal nie.

Die Here straf korrupsie op ʼn unieke manier

Ons leer in Rom. 1: 18 en verder hoe die Here ons korrupte wêreld sien en wat Hy daaraan doen. Nadat die Heilige Gees in daardie gedeeltes oor die korrupte heidene en Jode ʼn duidelike prentjie geskets het, is die konklusie: Niemand is regverdig nie, selfs nie een nie. Die Here wat dwarsdeur mense, ook ons sien, weet dat daar boosheid en sonde in ons is en dat die sonde in die gedagtewêreld baie keer in ons optrede uitkom. Hy veroordeel die korrupte binnekant en optrede van mense deur te sê: Die hele wêreld staan skuldig voor Hom.

Sy straf vir dié wat nie in Christus glo nie en wat skynheilig sogenaamd gelowig is, is verrassend: Hy gee hulle aan hulle sonde oor! Die Here leer in Rom. 1:24 dat Hy die korrupte ongelowiges oorgee aan nog meer korrupte optrede. Hulle sal op so ʼn manier te ver gaan en deur hulle korrupsie vasgevang en uitgevang word. Ons moet dus verwag dat ons in hierdie wêreld nooit sonder hierdie korrupte optredes sal wees nie.

Die Here bemagtig ons om korrupsie teen te werk

Ons sou ook korrup in ons wese en optrede gebly het en al erger daaraan deelgeneem het. Maar God het in ons lewens ingegryp. Hy het ons diep in ons harte geregtigheid gegee. Hy verklaar ons nie net op grond van Christus se offer vir ons regverdig nie, maar Hy verander ons ook om reg en geregtigheid na te streef (Rom. 3:21 en verder). Meer nog, God gee in Christus vir ons nuwe lewe en dit is die lewe onder die beskerming en beheersing van die Heilige Gees. Die Here stort liefde in ons harte en die liefde word die dryfkrag vir ons optrede.

Die Here bemagtig ons om korrupsie teen te werk deur ons vry te spreek van ons sonde in Christus, ons nuwe harte te gee, sy Gees as Begeleier oor ons aan te stel en ons anders na die samelewing te laat kyk.

Die Here beveel ons om korrupsie te bestry

Noudat ons vrygespreek is van ons eie korrupte harte en optrede en ons deur Christus met sy Gees en Woord beheer word, noudat ons bemagtig is om korrupsie teen te werk, beveel die Here ons om korrupsie te bestry. Dit is deel van ons offer aan die Here wat Hom oor ons ontferm het (Rom. 12:1). Nou is dit ons opdrag om nie aan die wêreld gelykvormig te word nie. Ons moet anders dink, want so verander God ons. Ons moet nou omdat ons God en ons naaste liefhet ons moue oprol en elkeen iets doen aan die korrupsie om ons. Die Here gebruik ons as sy instrumente om korrupsie te beveg.

Hoe kan ons korrupsie beveg?

 Hoe kan ons as klein mensies hierdie groot euwel teenstaan? Verloor ons nie voordat ons begin het nie? Dit is belangrik dat ons as gelowiges mekaar se hande vat – selfs oor ons eie kerk se grense. Ons is protestante en die kerke kan en moet saam protesteer en getuig teen korrupsie. Ook ons as gelowige Christene moet weet dat as ons in die Naam van die groot Koning, Christus, praat dit nie metʼn pieperige stemmetjie sal wees nie. Ons getuienis het krag.

Verder is dit belangrik dat ons wat van die Heilige Gees die gawe van onderskeiding gekry het, onverskrokke korrupsie moet uitwys en aanmeld. Ons kan dit nie maar terwyl ons dit sien, laat aangaan nie. Omdat ons weet hoe klein ons is, moet ons in die geveg teen korrupsie vasgryp aan die krag van die Here. Gebed is een van die kragtigste wapens waaroor ons beskik. Dalk het ons nog nie genoeg en met oorgawe gesamentlik gebid vir energie om die euwel te bestry nie. Ons gebed moet ook wees dat die Here ons van die versoeking om deel te neem aan korrupte optrede, sal bewaar.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *