Vir wie is jy ʼn naaste?

Deur Grietjie Prinsloo

“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete” (Matt. 7:12).

*Emily is ʼn skuilnaam.

Dit is ʼn Maandagoggend, die kinders stap vinnig in die klas in want dit is koud, en die windjie waai. Almal se skooldrag lyk ietwat anders vandag, verskillende kleure serpe  en baadjies bo en onder hulle skoolklere.

Ek staan voor in die klas, en weet nou nie of ek moet raas oor die klere of hulle jammer kry nie. Ek besluit ek gaan maar groet en dadelik met die register begin, soos ek die name lees is een van my twee en dertig graad 8-leerlinge nie op haar plekkie nie – ek kom ook agter die klas se geraas klink anders, ek hoor nie iemand se skerp laggie nie.  Ek vra ʼn vriendin of sy weet waar *Emily is?

“Juffrou sy was by haar ouma se funeral.”

Die volgende oggend is Emily weer nie in die registerklas nie. Ek raak bekommerd en roep sommer so met die vinger haar vriendin nader.

“Juffrou ek is worried oor Emily. Haar ma het my gebel gisteraand en sy was agtuur nog nie by die huis nie.”

Voor ek die ma kan bel, hier teen die 3de periode sien ek my gr.8-klas vir Afrikaans (eerste addisionele taal),  en daar is Emily! Voordat Emily saam met die ander leerlinge instap, vra ek haar om agter te bly.

“Is als reg Emily? Jy was nie by die skool nie en jou ma het jou gisteraand gesoek?”

Sy kry dadelik trane in haar oë, maar ek sien sy probeer sterk wees.

“Ek was by my ouma se  begrafnis die naweek, my kop was baie deurmekaar, ek moes huis toe stap en toe ek weer sien, het ek verdwaal in Sunnyside.”

Ek gee haar ʼn drukkie en voor ek nog ’n woord kon uitkry omhels my stywer. Ek dink by myself: van my skool af is dit ver om te stap – én gevaarlik! Dankie tog sy is hier en veilig.

Haar ma het ek die eerste week van die derde kwartaal gesien, om te gesels oor Emily se punte wat agteruit gaan.

“Ek is ʼn enkel ouer en is ook baie siek, ek was nou tussen werke maar ek hoop die nuwe baas sal my afgee, ek moet gaan vir ʼn operasie. Dit is dalk al die stres op haar.”

Met al hierdie agtergrond kennis vra ek vir Emily of sy kos het om te eet, en waar bly sy, want so tussendeur die traantjies het ek afgelei dat haar ma al twee weke  in die hospitaal is.

Ma’am ek het kos. Ek bly saam my older susta.”

Ek vertel haar dat ek bekommerd is en gaan haar na die skool se berader toe stuur vir advie oor hoe om hierdie trauma te verwerk.

She was the one who raised me,” is haar woorde wat sy so in my oor fluister. Sy stap in die klas in, en haal haar boeke uit. Ek kan sien sy wil nie hê die ander kinders moet haar sien huil nie.

Dit is pouse na periode vier, en ek kan nou Emily se ma bel en vra of Emily taxigeld nodig  het sodat sy nie weer verdwaal nie, en ons maak toe ʼn plan dat sy veilig by die huis sal uitkom.

Ek staan so ’n oomblik stil  nadat ek die oproep gemaak het, en voel hoe ek emosioneel word. Daar stap ongeveer honderd en vyftig  kinders by my klas in élke dag en vandag het nog een my hart geraak.

Vir my bly  die vraag nie wie is my naaste nie, maar vir wie kan ek ʼn naaste wees?

Ek dink van hulle sien my meer gereeld as wat hul ouer of ouers doen. Soms begin ek giggel as ek hulle op hulle name roep en hulle antwoord “Ya ma…” – veral my graad 8-registerklas.

Ek dink soms lyk ons probleme so groot en staan soos ʼn berg voor ons, en  jy raak selfsugtig en vergeet om jou naaste ook by te staan.  Maar hier wys ʼn klein graad 8-meisie (my naaste vir wie ek moet lief wees soos myself Matt. 22:39) my dat ons eers ʼn myl in iemand anders se skoene moet stap voordat ons ’n oordeel vel.  As ʼn juffrou kan jy ʼn stout of soet kind onderskei, maar stout of soet – almal het liefde en aandag nodig.  ʼn Kind bly ʼn kind.

Soms is jou naaste nader as wat jy dink…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *