Newton se wette geld ook in die Bosveld

Deur Griet Swanepoel

 “Kan ek dalk help?”

Só vra ʼn veldwagter een keer vir my terwyl ons op ʼn wildsplaas vakansie hou. Ons is uitgenooi om saam met ʼn klomp toeriste op ʼn wildsbesigtigingstoer te gaan. Die groot voertuig kan seker twintig mense oplaai. Die probleem is net dat ek nie myself kan ophys teen die trappies van die groot trok nie.

Dié jong man het rats op die trok gespring – jonk, fris en bruingebrand. Hy kyk nou van die boonste vlak van die voertuig af na my. Hy sien ek kry nie myself opgetrek nie. Hulpvaardig steek hy van bo af sy hand uit om my op te help. Ek is so dankbaar dat hy wil help. Verlig dat ek nou met die jong man se hulp vinnig op die trok kan kom sonder dat die ander vlugvoetiges my probleem gaan sien. My man staan aan die anderkant van die trok in ʼn diep gesprek met ʼn toeris en gesels.

Ek gryp met mening vas aan die hand wat my nou vanuit die trok gaan ophelp.

“Een, twee…en dríé” tel hy sodat ek met behulp van sy trekkrag en momentum kan opkom.

Dit het toe glad nie so gewerk nie!

Die volgende oomblik pluk ek die jong man met mý krag én die swaartekrag van die aarde af – bo van die trok af. Hy vlieg gewigloos oor my kop verby en hy plons  in ʼn stofkol langs my op die grond.  Dit het in sekondes gebeur.

Ek is oorbluf. Ek en hy kyk mekaar verbaas aan en bars dan altwee uit van die lag. My man het op daardie oomblik na my kom soek en het toe die hele toneel gesien.

“Julle twee verstaan niks van Newton se wette nie!” spot hy en ons lag weer van voor af.

Die veldwagter spring op en vee die stof van sy klere af terwyl die toeriste toekyk na ons drie Afrikaanse mense se gelag en gespot oor die episode.

“Ek sal haar help,” sê my man vir die veldwagter en prakseer vir my ʼn trappie met ʼn krat wat daar naby rondlê. My man gee my ongesiens ʼn stootjie van agter en met die ekstra adrenalien in my are kom ek toe op die reuse trok.

Dit was alles die moeite werd: die toer deur die wildsplaas was ongelooflik. Ons sluit die toer af met sewe kameelperde wat bymekaar staan teen ʼn ongelooflike sonsondergang. Langs die pronknekke staan ʼn paar kremetarte… kop onderstebo.  Die Bosveld word stadig stil. Die aarde word stadig toegewikkel in ʼn swart kombers.

Die veldwagter en ek het altwee daardie dag belangrike lesse geleer. Hy het geleer van Newton se wette. Ek het geleer dat ʼn ander mens – al is hy nou hóé jonk en gespierd – se kragte maar beperk is om jou te help. Die aarde se swaartekrag trek ons maar altyd aarde toe.  Ons lewe is maar ʼn proses van val en opstaan.

Dan sien ek ʼn wolk teen die horison wat nou afgeëts word deur ʼn oranje-rooi-silwer rand. Dit lyk soos ʼn oop hand. Ek en my man sien dit saam raak. Ons kyk daarna en word gevul met ʼn hemelse aanraking. En ek bid  in my gedagtes…

“Here, dankie dat ek vandag u hand in die hemel kon sien, dat ek uit u krag alleen kan lewe. Ek glo met my hele hart dat U die een is wat my deur die lewe dra!”

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *