Jy moet dit inskerp by jou kinders…

Deur Cobie Steyn

 Twee dogtertjies in ons gemeente – en hulle is nog nie baie bakstene hoog nie – een is al in skool en die andere enetjie voorskools – kan al lekker met ’n mens saamgesels oor die Bybel: hulle vertel jou van die dissipels, van Jesus wat aan die kruis vir ons sondes doodgegaan het, van die ark wat Noag gebou het… en so kan ek aanhou.  Die voorskoolse dogtertjie het sommer al een oggend (met die Bybel onderstebo in die hande) vir haar oupa en ouma gepreek en die liturgie van die erediens heel getrou begin volg.

Gʼn wonder dat ek, toe ek eendag met hulle ma gesels, hoor dat hulle pa elke aand in hulle kamer by hulle beddens, vir hulle Bybel lees en daarna kniel hulle by die bed om te bid nie. Maar hulle maak beurte om dan agter op pappa se bene met hulle knieë te kniel en te bid. Dit het my gedagtes op vér paaie teruggeneem…

 My pa was ʼn boer wat hárd kon werk – ’n man met net graad 8 (die ou standerd 6!) agter sy naam, maar wie se hart warm klop vir die Here. Van jongs af kon hy amper nooit sy honger vir die Woord stil nie.

My oupa, aan my ma se kant, was in die NG-Kerk en hulle het op ʼn plaas ver buitekant die dorp gebly. Dit was nog die tyd van net Nagmaalnaweke kerk toe gaan. Oupa het homself bereid verklaar om die katkisante van die omgewing te begelei, maar daar was kinders uit verskillende kerke en daarom het oupa (wat self in die NG-kerk was), letterlik by die Hervormde predikant, die NG-predikant en die Gereformeerde predikant die boekies gaan haal, saamgepraat en gehoor wat vir elke kerk belangrik was en dan het oupa op drie verskillende tye op Sondae onderskeidelik vir die Hervormde kinders, die NG-kinders en die Gereformeerde kinders katkisasie gegee.

My pa het klaarblyklik vir ál die klasse opgedaag!  En, sal hy nou nog spottenderwys vir ons vertel, het dit nie eintlik oor die Woord gegaan nie, maar omdat my ma so ʼn mooi jong meisie was. Maar sy kennis van die Woord en sy toewyding aan die Here, sy eerlike oop verhouding met die Here, getuig daarvan dat dit régtig oor meer as die jong meisie met haar donker hare en gesonde blos op die wange gegaan het.

So is daar elke aand vir my, ek was die laatlammetjie, sedert ek ʼn paar woorde kon verstaan, eers uit ʼn Kinderbybel gelees, maar altyd met die Bybel langs die Kinderbybel oop – en hy het altyd gekontroleer dat wat hy my leer werklik met die Skrif ooreenstem. Sy  grofgewerkte, ruwe boerehande om die rugkant van die Bybel sal vir altyd in my geheue ingegrif bly.

En dan was daar die “opsomming” van die Bybel of die Bybel in ʼn neutedop verduideliking wat ek nou nog met katkisante deel wanneer ek katkisasie gee.

Hy het altyd gesê:

“My kind, as jy die Bybel in die middel laat oopval, kry jy die lewenswysheid van die Here vir jou lewe – dit is Psalms, Spreuke van Salomo, Prediker en Hooglied van Salomo. Dit is die Here se rigtingwysers vir jou op die pad.

Vóór hierdie wysheidsboeke vertel die Here vir ons in Genesis en Eksodus Wie Hy is, hoe Hy geskep het en die pad wat Hy met sy volk Israel begin loop het. Om die volk te vertel hoe hulle die pad moet loop, gee die Here vir hulle wette waarna hulle moet luister en dit doen Hy in Levitikus, Numeri en Deuteronomium.

Die verloop van die geskiedenis van die volk toe hulle in die Beloofde land aankom, hoor ons van in die boeke tussen Josua en Job – somtyds word vertel van die volk self, van hulle konings, en van die boeke vertel vir ons van die pad wat die Here met individuele gelowiges gestap het.

Ná die wysheidsboeke kom die boeke van die profete: hulle is die mense wat tydens die volk se geskiedenis vir die mense moes sê wat die Here sê en hoe Hy wil hê hulle moet lewe. Maar die profete het ook vooruit ʼn Verlosser belowe.

Die belofte van die Here oor ʼn Verlosser het waar geword en vier mense wat saam met Hom hier op aarde geloop het, Matteus, Markus, Lukas en Johannes het ons daarvan vertel. Elkeen op sy eie manier – maar almal was dissipels van Jesus.

Dan, het my pa altyd verduidelik, volg Handelinge – handel sê tog “doen” en dit vertel vir ons hoedat Jesus Christus se Nuwe Testamentiese Kerk hier op aarde tot stand gekom het en waar daar oral gemeentes gestig is. Ná Handelinge kom daar briewe wat aan al die gemeentes of hulle leiers, waarvan ons in Handelinge gelees het, geskryf is – steeds om vir die mense te sê Wie die Here is, wat Hy doen en hoe Hy wil hê ons moet leef. Hierdie briewe is vir die kerk van vandag nog net so belangrik.

Heel laaste, het my pa dan altyd verduidelik is daar Openbaring. Dit praat nog bietjie met die gemeentes van daardie tyd, maar dit is ook ʼn “brief” waarin die Here vir ons sê wat in die toekoms gaan gebeur en belowe dat Hy ons nooit sal verlaat as ons in die geloof aan Hom vashou nie. Hy was ook baie lief om dié vers in Openbaring te beklemtoon wat sê dat ons niks “van hierdie profetiese boek” mag wegneem of iets daarby mag voeg nie (vgl.Op. 22:18-19).

Watter voorreg! ʼn Voorreg waarvoor ek die Here ewig dankbaar sal bly.

Dit maak my hartseer dat kinders deesdae sommer maklik sê Jeremia was ʼn dissipel in die Nuwe Testament, Paulus was ʼn leier in die Ou Testament, dat eenvoudige Bybelkennis by kinders in ons gemeentes ontbreek.

En mag ek dalk één maal prekerig klink, maar tog vir elke pa en ma, en oupa en ouma wat hier lees herinner aan Deut. 6:6-8 “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan”.

Kom ons leer ons kinders en kleinkinders die Woord van God wáárlik ken, kniel saam met hulle voor God, die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is: “… ’n enige en enkelvoudige Wese… wat ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig en goed is” (vgl. NGB Art. 1) sodat hulle ook God se Woord kan bewaar en uitdra.

  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *