Dra die kosbare Woord uit

Deur PW Buizer

Die kleurvolle prag van blomme lok mos elke vrouehart aan. Watter vrou se hart bokspring nie van vreugde as haar man vir haar ʼn bos blomme bring nie?

Maar nóg lekkerder is wanneer jy daardie lelies of Clivias in die tuin geplant en gekoester het en dophou wanneer die blomknoppe verskyn. En dan die afwagting: Wanneer gaan die blomme hulle kleurvolle blare oopvou en hulle geure in die tuin versprei?  Dink maar aan Kirstenbosch in die Kaap; die uitgestrekte blommevelde van Namakwaland in Augustus ná die reën…

Die wonder van ʼn blomknop wat oopvou in die natuur, lei ’n mens ook na baie dieper insigte ten opsigte van ons geestelike lewe.

Voor enige blom gesien en bewonder kan word moet hy eers groei aan ’n plant en tot rypheid kom in knopvorm. Hierdie knop is in sigself al ’n wonder.  Die blomblare lê kunstig binne-in die kelkblare toegevou en bedek die stamper (die vroulike deel) en die drade met die stuifmeel (die manlike deel). Pas as die blom oopgaan sien ons sy kleure, ruik ons in baie gevalle sy geure, wat eintlik lokmiddels vir die bye is, want bye is baie belangrike draers  van die stuifmeel van een blom na ’n ander blom.  Diep onderin die blom is daar nektar wat die bye gebruik om heuning van te maak en dit gaan soek hulle in die blom.  Onbewus daarvan dat hulle daardeur heeltemal onder stuifmeel kom wat hulle dan saamdra na ’n volgende blom.  En op daardie manier word die stamper, wat die vroulike eierselle bevat, met die manlike saadselle bevrug. Wanneer dit gebeur het, begin daar ’n saadjie groei wat weer ’n nuwe plant kan vorm.

ʼn Blomkop dra die belofte van ’n blom en nuwe lewe in hom.  Hy wys egter nog nie die skoonheid van wat binne in hom is nie, hy kan ook nog nie vrug dra nie. ’n Mens sal met vreugde na ’n bos blomme kyk, maar nie na ’n bos knoppe nie.  In knopvorm dien dit dus nog nie ’n doel nie.  Om wáárlik blom te wees, moet hy oopgaan en om daarna vrug te kan dra moet hy aan die plant verbind bly. ‘n Blom wat afgesny is sal ook gewoonlik nie deur ’n by besoek word nie.

Voedsel uit die grond noodsaaklik

Hoe gee die les van die blom nou nie ’n wonderlike insig in die lewe van ’n gelowige nie! Wanneer die Here deur die wonderlike werking van sy Woord en Gees jou tot bekering laat kom, móét jy groei, want jy is ingeplant in Hom.  Hierdie groei kan alleen maar gebeur as jy aan die plant verbind bly (vgl. Jesus wat gesê het Ek is die wingerdstok en julle die lote – Joh. 15:5) en  wanneer jy steeds weer  en weer voedsel opneem wat deur die wortels van geloof uit die “aarde van die Woord” opgesuig word.  Slegs dan word jy soos ʼn blomknop.  In jou kelkblare lê die belofte van ’n roos of ’n lelie wat straks sal oopgaan, sy skoonheid sal toon en dan gereed sal wees om vrug te dra.

Vir die Christen is die soek van die voedsel die luister na God se Woord, die daaglikse omgang met Hom in stiltetyd en gebed, om meer en meer in alles in jou lewe van Hom afhanklik te word, om te groei in liefde vir Hom en vir jou naaste.  Om in gemeenskap met ander Christene te lewe, saam te kom in eredienste en aanbidding – om só saam met ander ’n blomtuin te wees.

’n Blomtuin kan net bewonder word wanneer die blomme hulle gesiggies oopgemaak het en vir die wêreld wys.

’n Lieflike geur

Baie blomme versprei ’n lieflike geur.  Dit is nie alleen om bye te lok nie.  Baie reukolies word ook uit blomme gemaak – baie van ons parfuum waarvoor die vrouens tog so lief is.

Net so sien ons dat geure vir die Here belangrik is. In Gen. 8 staan daar dat die Here “die lieflike geur geruik” het van Noag se offer (vgl. vers 21; 1953-vertaling). Ons kan seker met stellige sekerheid aanneem dat die paradys ’n lushof van blomme, kleure en geure was. Maar veral wanneer Israel by Horeb die wette en voorskrifte kry vir  al  die  verskillende brand- en  vuuroffers, wat ook wydings-, spys- en drankoffers ingesluit  het,  lees ons  dat elke offer  “ ’n  lieflike geur voor die aangesig van die Here was.”

In die Nuwe Testament word hierdie gedagte verder genoem: God “voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ʼn aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan” (2 Kor. 2:14b-15).

In Ef. 5:2 vermaan die Here ons :  “…en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ’n gawe en offer aan God tot ’n lieflike geur” (1953-vertaling). Aan die Filippense skryf hy dat hy die bydrae (gawe) wat hy deur Epafrodítus ontvang het voor God ʼn offer is “met lieflike geur” (vgl. Fil. 4:18). In Openbaring 5:8 (1953-vertaling) lees ons van die “vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is.”

Om te blom en geur te versprei…

 In Oktobertyd, wat ons weer terugdink aan manne soos Calvyn en Luther, en ander Hervormers soos Zwingli, Olevianus, Ursinus (jy kan self die lysie langer maak), besef ons weer dat hulle vir ons die kern van die evangelie ontdek (her-ontdek?) het: dat die evangelie, die Woord net betekenis het as ons ingeplant is in Christus en sy Woord “opneem” as ons geestelike voedsel. Dat die Woord  – vir ʼn wêreld honger na die waarheid van die Woord – slegs soos ʼn blomknop kan oopgaan, as ons ingeplant bly in Jesus Christus, ons wingerdstok.

As ons die wonder van die Woord, die kern van die Woord, die waarheid van die Woord waarvoor hulle so sterk gestaan het, net binne-in onsself hou, net na binnetoe in ons kerke beskerm, maar nie “oopmaak” na buite toe nie, help hulle stryd in die tyd van Hervorming net mooi niks nie.

Daarom moet ons as Christene van die Reformasie in ons persoonlike lewe altyd  verbonde bly aan die plant en altyd soek na voedsel wat die plant deur sy wortels na die blomme en vrugte opstoot. Ons mag nie bly stilstaan in knopvorm nie;  ons moet oopgaan en die grootheid van ons Skepper verkondig en vertoon. Alleen wanneer ons oopgegaan het sal ons in staat wees om vrugte te dra en kan ons geure uitdra na die wêreld daarbuite – lieflike geure tot eer van die Here.  Saam met medegelowiges moet ons soos ʼn blomtuin wees.

As Gereformeerde gemeentes moet ons waak daarteen dat ons nie ‘knopkerke’ sal wees met blomme wat nog nie oopgegaan het nie. Dit help nie die wêreld weet, of glo ten minste, dat die Gereformeerde gemeentes Christenkerke is, maar daar straal nie die skoonheid van die geloof en die blydskap van verlos te wees, soos ‘n lieflike geur, uit ons uit nie. ‘Knopkerke’ dra nog nie vrug nie, omdat die stuifmeel nog in die knop vasgevang sit.

Nee, ons moet gemeentes wees wat soos vrugbare blomknoppe oopgaan sodat die geur en die kleur van die blye Boodskap van verlossing in Christus vir almal tot getuienis sal wees.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *