Deel met my ’n broodjie

Deur Jo van Rooyen

In my sitkamer staan ʼn  trousseaukis soos wat alle hubare meisies  destyds gehad het . Hierdie kis het  eers aan my geliefde ousus behoort.  Mettertyd, toe sy so ʼn spoggerige  blink imbuia kis met bal-en-kloupote van haar man gekry het,  het  ek die oue geërf! 

 Dié kis is vol – en wee die dag as my arme kinders die einste kis moet beërwe,  want ek is ʼn bewaarder, ’n kraai, ʼn opgaarder soos min. Daar is briewe, klein-klein skoentjies, dooprokkies,  ’n trourok, borslappies, troukaartjies, alles wat ʼn gewone, normale mens lankal   as uitgedien en oorbodig sou beskou het. Nee, nie in my kop nie!  Dit is mos kosbare herinneringe en, soos Lucas Maree gesing het: “Die bewys dat ons tog daar was”. Dis soos my persoonlike “kiekies teen die muur”, veilig bewaar in “Die Kis” wat ek self te bang is om oop te maak want ek weet dit gaan ure neem om dit weer toe te maak.

Vreemd is die weë van die mens se lewe. Ek, bewaarder opgaarder, het  opvoedkundige geword by, van alle plekke, die museums, juis die plek van versamel en bewaar. “Toevallig?”

Daar het my goeie ou Dopper kollega altyd gesê dat ʼn mens die voorwerpe van die verlede moet insamel, bewaar en versorg, maar die belangrikste is dat dit met die nageslag gedeel moet word anders is dit sinloos.  ʼn Mooi roos is nog mooier as jy die prag met iemand  kan deel. Hoe vreeslik alleen moet dit wees om, sonder ʼn geliefde, die wonders van die Alpe te aanskou: niemand  om saam met jou verstom te staan voor die grootsheid van die skepping, of die ongelooflike argitektuur van  eeu oue katedrale te bewonder nie.  Selfs die eerste blomkool in die tuin vra dat die spierwit vreugde met iemand gedeel moet word. Gedeelde vreugde is mos dubbele vreugde.  

My man sê graag  : “Kom  breek met ons ʼn broodjie” wanneer hy vriende uitnooi om te kom kuier.  Die eet is bysaak, dit is die verkeer en uitreik na mense vir wie jy omgee wat belangrik is.

Christus het ons voorgegaan hierin:  Op die strand, waar Hy die Woord van sy Vader  aan die Woord-honger mense bedien het,  het  Hy  die aardse honger om Hom ook raakgesien en met die paar vissies en brode wat die dissipels kon insamel, ʼn menigte gevoed. Hy het vir hulle die brood van die lewe sowel as die daaglikse brood gegee.  Christus  se onpeilbare liefde het vir ons ʼn voorbeeld gestel van hoe ons sy Woord moet ontvang, bewaar en uitleef. Hy is immers die Woord wat mens geword het – sy reddingsdaad aan die kruis is die hartklop van die Evangelie. Daarom gee Hyself die opdrag aan sy dissipels in Matt. 28:19& 20: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels… leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”

Deur jou manier van leef, jou verhoudings met die mense wat jou pad kruis, deur ook te vertel van die Woord en te getuig wanneer omstandighede dit van jou vereis, moet jy die boodskap van sy genade en verlossing uitdra. Ons moet getuig van sy grootheid en almag, van sy lyding ter wille van ons, van die genade van die versoening en die oorwinning oor die sonde en die dood.

Daarom mag die blye boodskap, die Evangelie, God se Woord nie  toegesluit bly in die trousseaukis van die kerk nie. Om sy Woord te ontvang en in jou hart te bewaar is nodig,  maar dan moet daardie Woord gedeel word met almal wat wil hoor – dit  is ʼn opdrag wat direk van Christus af kom. 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *