Sendeling uit Brasilië

Deur Annatjie Verhoef

Op besoek aan Brasilië het Prof. Bert Floor die Brasiliaanse sendeling, Marilda de Oliveira destyds uitgenooi om haar nagraadse studies in Potchefstroom te doen. Haar plan was om na haar studies sendingwerk in Mosambiek te gaan doen, maar die Here het haar lewe heeltemal anders laat loop – sy is nou al byna dertig jaar in ons midde.

Sy het al in haar studentejare sendingwerk onder Mosambiekse werkers by Bert Steenmakery op Potchefstroom gedoen. Sy het ook altyd ’n groep jongmense om haar vergader wat saam Bybelstudie gedoen het.

Moeilike begin

Toe Marilda hier aangeland het, het sy in ’n dameskoshuis tuisgegaan. Sy was die eerste vroulike student in teologie. Sy kon nie Afrikaans of Engels praat nie. Maar sy was vasberade om met haar Here alle hindernisse te bowe te kom. Sy hou nou nog vas aan haar lewensbeginsel dat haar God haar sal lei waarheen sy moet gaan. Sy doen niks as sy nie van Hom die antwoord kry nie. Sy het op haar eie Afrikaans en Engels bemeester en selfs ’n vertalingskursus vir Engels geslaag en haar doktorsgraad in Teologie verwerf.

Dit het moeilik gegaan. Sy het nooit geldelike steun gekry nie, maar medegelowiges het haar versorg. In die koshuis het sy lewenslange vriende gemaak. Hulle was jonger as sy, maar hulle het haar na hulle ouerhuise geneem en sy het deel van hulle gesinne geword.

Sy was die tweede oudste dogter uit ʼn groot Brasiliaanse gesin en was baie lief vir haar pa wat haar saamgeneem het as hy op die plaas gewerk het. Daaruit spruit haar liefde vir die natuur en plante, en haar kennis van landbou en tuinmaak. Sy vroetel graag in die tuin.

Haar pa het al sy kinders ook aangemoedig om hard te studeer sodat hulle goeie beroepe kan hê.

Aansteeklike entoesiasme

 Marilda het uitgeblink op skool en op die Teologiese Skool in Brasilië. Sy het alles met groot entoesiasme aangepak. Daardie entoesiasme het nooit getaan nie en sy is vandag ’n  baie deeglike dosent – ’n mens met ʼn hart van goud en baie liefde vir haar studente.  Sy gaan uit haar pad uit om buitelandse studente wat hier by die Teologiese Skool wil kom studeer in alles by te staan.

As sendeling tree sy in Taiwan as Engelse onderwyser op, in Korea as hulppredikant vir ’n  Engelse gemeente en in die Filippyne het sy vir drie maande in 28 klein gemeentes in die berge gepreek. Sy was ook teologiese dosent aan die teologiese kolleges van Hefsiba, in Mosambiek en Kosin in Korea.

Toewyding ondanks teenslae

In Korea het die gemeente daarop aangedring dat sy ’n geordende predikant moet wees. Sy het vertoë aan ons kerkraad gerig om haar beroepbaar te stel as predikant. Die saak is na die Kuratore van Die Teologiese Skool verwys, maar omdat ons kerkverband nie vroue as predikante toelaat nie, is die versoek nog steeds hangende die sinodebesluit. Sy kon wel in Korea preek, maar nie die sakramente bedien nie.

In die Filippyne het sy moeilike, onbegaanbare paaie tot bo in die berge te voet, te perd of per perdekar aangedurf. Sy het die laaste Sondag daar, te perd in die reën met haar sambreel in die hand, van die perd afgeval omdat die houtsaal nie behoorlik vasgemaak was nie. Haar skouer is erg beseer en sy het erge hoofpyn opgedoen. Sy was vermoedelik ’n ruk lank  in ’n  koma. Toe sy bykom, het sy, sonder enige pynstiller, nog drie gemeentes besoek om so haar laaste rondte te voltooi.

Tweeuur daardie oggend, terug by die kollege waar sy klas gegee het , het sy nog haar laaste vraestelle nagesien – sonder om enigsins te rus. Vroeg die volgende oggend sou sy lughawe toe vertrek om terug te gaan Korea toe. As  gevolg van ’n hewige storm was die lughawe  egter gesluit en moes sy per slaapbus na die naaste lughawe. Ten spyte van haar erge skouerpyn, moes sy maar net uithou op die twaalfuurlange rit.

In die  Filippyne is haar bedieningstaak ook weer gekortwiek omdat sy nie ’n geordende predikant is nie. ’n Vrou wat sterwend was, het haar gevra om die Nagmaal aan haar te bedien. Marilda kon nie, want sy is nie ’n geordende predikant nie.

In Korea aangekom was dit tyd vir groet want haar driejaarlange kontrak as teologiese dosent het verstryk. Daar het sy vir buitelandse studente uit Afrika, Bangladesj, Filippyne en ander Oosterse lande klas gegee. Sy was so betrokke daar, dat hulle baie swaar van haar afskeid geneem het. Daar is met groot waardering by ’n afskeidsgeleentheid van haar gepraat.

Einde verlede jaar – na ʼn jaar van verblyf weer hier in Suid-Afrika – is sy terug Korea toe om

die gradeplegtigheid van haar oudstudente by te woon.  Sy is as ’n eregas ontvang en het ’n boodskap van gelukwense tydens die plegtigheid gelewer. Daarna het sy saam met oudlidmate weer na die Filippyne gegaan om vas te stel of hulle ’n teologiese kollege daar kan begin.

Marilda se droom

Haar visie is om baie meer betrokke te raak by die opleiding van sendelinge in die Ooste. Sy is besig om te onderhandel om in die Filippyne ’n nagraadse kollege met behulp van die Fakulteit Teologie van die NWU op te rig. Sy wil ook in Viëtnam en Bangladesj dieselfde doen. Daar is belangstelling en twee Filippynse studente en een van Bangladesj het al aansoek gedoen om by die NWU as nagraadse studente onder haar leiding in te skryf. Sy het ook nagraadse studente uit Afrikalande en Korea. Tans tree sy op as studieleier aan die Teologiese Skool Potchefstroom van ’n groot aantal studente uit verskillende lande vir hulle meesters en doktorale studies. Omdat sy drie tale magtig is,  Portugees, Engels en Afrikaans, is sy tot groot hulp vir die studente uit die buiteland.

Dienswillig aan die Here

Marilda is ’n lidmaat van die GKSA vandat sy hier gekom het en is baie lief vir die kerk. Daarom wil sy op enige moontlike manier die Here in hierdie kerk dien, al is dit nog nie vir haar beskore om as predikant en sendeling na een van die gemeentes beroep te word nie.

Ons bede is dat die Here sal gee dat sy spoedig as sendeling haar inwendige en uitwendige roeping in die GKSA sal kan vervul.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *