Deur Griet Swanepoel
Om vir ʼn groot hoeveelheid gaste te kook is altyd ʼn groot uitdaging. Hierdie keer gee ek ʼn resep vir ʼn potjie vir ’n gemeentekamp – genoeg ongeveer 100 mense.
Die grootte pot se nommer beteken hoeveel gallon dit kan neem: ʼn Nr. 20 pot is reg vir 96 persone en ongeveer 74 liter. Dus is dit maar altyd beter om twee nr. 10 potte te neem as ʼn groot pot. Die pot het ʼn heerlike dik vleissous wat koningskos op ʼn kamp is.
Beeskookvleis- en groentepotjie
Bestanddele:
24 – 30 kg beesvleis (met been aan) vir bredies gesny (300g vleis per persoon is ʼn goeie porsie as die bene nog by is)
2 kg spekvleis, gesnipper 8 groot uie, fyn gekap 8 huisies knoffel, fyn gekap 1 Bottel Ina Paarman Braaivleis speserye 2 liter Coke 4 kg wortels, gekap en vooraf effens gekook
2 groot pakke sampioene 4 kg murgpampoentjies, in stukke gesny
4 kg groen bone in helftes gesny 4 kg aartappels skoon geskrop met die skil en vooraf effens gekook
Sous
50 ml kerriepoeier (pikant)
50 ml gemaalde swart peper
2 bottels warm blatjang
1 koppie koekmeel
1 koppie Bisto
2 pakke bruinuie-soppoeier
2 pakke beesstert-soppoeier
1 pak sampioen-soppoeier
Maak al die bestanddele aan met die sous uit die pot totdat alles opgelos is en loperig is.
Twee bossies pietersielie fyn gekap
Metode
Stap 1: Voorbereiding van die vleis
Maak ʼn aand voor die tyd marinade aan van worcestersous en tamatiesous en laat die vleis daarin lê.
Die volgende dag
Stap 2: Pak ʼn tafel uit met al die bestanddele, vatlappe, lang houtlepel, maatkoppies, maatbeker en ʼn nat vadoek en ʼn jammer-lappie vir die hande. ʼn Skottel met water as dit ver van ʼn kombuis af is. Kry stoele reg vir die kuier en iets kouds vir die keel. ʼn Bietjie musiek is terapie.
Stap 3: Voorbereiding van wortels en aartappels
Kook die wortels en aartappels apart totdat dit medium sag raak, terwyl jy met die pot besig is.
Stap 4: Voorbereiding van die pot
Ek hou daarvan om dit op ʼn gasbrander te maak. Die pot moet baie mooi skoon en sonder roes wees. Smeer die pot met ʼn smeermiddel en sit dan op die gasbrander (of vuur). Maak nou die pot kokend warm (neem so 3-5 minute).
Stap 5: Die vleis gaarmaak begin!
Nou plaas jy die gemarineerde vleis bietjie vir bietjie in die pot en braai dit bruin en haal die vleis uit as dit effens bruin gebraai het. Hou aan tot al die vleis geseël is en gooi nou die braaivleisspeserye daaroor. Gooi nou ʼn bietjie olie/varkvet in die pot en draai die hitte af (vir prut) . Gooi nou die spek, knoffel en uie en laat dit braai. Gooi nou die vleis op die uie en gooi die Coke daaroor. Pot se hitte moet nou op ʼn prutstatus bly tot die vleis sag gekook is. (so 90 minute) Moenie nou roer nie.
Stap 6: Die finale afronding Gooi nou die wortels en aartappels by tot wortels en aartappels deurgesteek kan word met ʼn mes (nog 15 minute). Neem van die vog in die pot laat dit afkoel en meng met die soppoeiermengsel en gooi terug in die pot. As die sous lekker begin prut (nog 15 minute) si jy die laaste groente naamlik die murgpampoentjie, sampioene en boontjies bo-oor en sit jou deksel op. Stoom dit nou vir so ’n 15 minute tot murgpampoentjies sag is (moet nie te pap kook nie).
Lig die deksel op en laat die pot effens afkoel (so 10 minute ) en gooi die vars pietersielie oor voor dit bedien word.
Sout is gewoonlik reg (souspoeier het genoeg sout).
Bedien met rys (20 koppies rys is meer as genoeg) of potbrood en mengelsaai.