Oorgawe aan God is prysgawe

Deur Cobie Steyn

 

U gee aan ons

alles wat U het.

U het u Seun

in die dood

                        oorgegee

daarom moet ons

            deurgee

            aangee

            omgee

            weggee

            meegee

            toegee

                        afgee

(Gedig  van Sielie Laubscher aangehaal uit: Klein Spiraal, Minuteman Press, 2006).

Hoeveel keer in ons lewens sukkel ons nie om prys te gee nie?  Om afstand te doen van kosbare besittings, om tyd op te offer om iemand te gaan ondersteun, om af te sien van die wonderlikste droom of ideaal wat jy vir jou lewe gehad het, is pynlik. Prysgawe vra dat jy sal afstand doen van sekere dinge, dat jy jou van jouself sal leegmaak, dat jy selfs van jou huidige status of posisie in die samelewing sal moet afstand doen.

Rut se prysgawe

Daarom gryp Rut se prysgawe my altyd aan.  Rut gee haar eie land, haar gode en haar familie prys wanneer sy kies om saam met haar skoonma, Naomi, terug te gaan Juda toe. Boas se getuienis oor Rut in hoofstuk 2:11 van hierdie boek onderstreep haar prysgawe: “Ek weet van alles wat jy vir jou skoonma gedoen het na die dood van haar man en dat jy jou ouers en jou geboorteland verlaat het en na ’n volk toe gekom het waarvan jy vantevore niks geweet het nie”.

En in Rut se verhaal lê daar ook ʼn wonderlike getuienis van God se genade opgesluit. Rut, die Moabiet, mag eintlik nie deel geword het van die volk van Israel nie: “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie” (Deut. 23:3).  Maar tog, op grond van God se genadige werking in haar hart, vertrou sy só op Hom en glo sy in Hom, dat God sentraal staan in haar motivering aan Naomi om saam met haar Juda toe te gaan. Haar totale oorgawe aan God het gelei tot haar prysgawe van dinge wat in menslike terme eintlik vir ons belangrik lyk.

Rut maak uiteindelik deel uit van God se groot reddingsplan vir sondaars. Uit haar nageslag sou Jesus Christus gebore word (vgl. Matt. 1:4).

Die dissipels se prysgawe

Langs die see van Galilea sien Jesus twee broers, Simon Petrus en Andreas, visvang – dit was hulle werk van elke dag, hulle beroep.  Maar toe Jesus hulle nader roep en sê dat hulle saam met Hom moet kom, los hulle dadelik hulle nette net daar en volg vir Jesus (Matt. 4: 18-20). Hulle gee hulle werk prys om Jesus te volg, om sy wil te gehoorsaam.

’n Entjie verder sien Jesus twee ander broers, Jakobus en Johannes, saam met hulle pa in die skuit besig om hulle daaglikse beroep te beoefen – hulle maak die nette reg. Toe Jesus hulle roep, het hulle net hulle werk prysgegee nie, maar ook hulle familiebande – daar staan in Matt. 4: 22: “… en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg”. Prysgawe wat getuig van hartsoorgawe.

Nadat Jesus sy dood aangekondig het in Mark. 8: 31-33 sê Hy dissipels en vir die menigte: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou”. Hier praat Jesus van totale geloofsoorgawe en tegelykertyd ook van bereidheid tot prysgawe – selfs van jou lewe. Maar Jesus het nie net hierdie woorde gepraat nie – Hy het dit volkome en volmaak uitgeleef.

Jesus se prysgawe

In Fil. 2:5 moedig Paulus die gelowiges aan om bereid te wees om hulleself en hulle belange prys te gee ter wille van ander. En hy verwys dan in verse 6-7 na Jesus se prysgawe.  Die 1953-vertaling verwys spesifiek na daarna dat Jesus Homself “ontledig” het; die Direkte Vertaling praat van die “prysgawe” van Christus.  Die 1983-vertaling verduidelik dat hierdie prysgawe behels het dat Hy, wat volmaak God is en gebly het, Homself verneder het deur die gestalte van ʼn dienskneg te kom aan te neem.

En stap ʼn mens dan terug op die voetspore van Jesus se 33 aardse jare, sien ons:

  • Hy was bereid om as God die gestalte van ʼn mens aan te neem – Hy is as Kind gebore uit ʼn vrou.
  • Hy het  sy hemelse blyplek prysgegee om gebore te word in ʼn nederige stal en op te groei in die huis van ʼn timmerman;
  • Hy, wat die Seun van God is en oor Goddelike gesag en mag beskik, was gehoorsaam aan sy aardse ouers, Josef en Maria;
  • Hy, wat die Koning van die heelal is, het gekniel en sy dissipels se voete gewas.
  • Hy wat reg en geregtigheid is, is onregverdig deur ʼn aardse regter ter dood veroordeel.
  • Aan die kruis was Jesus bereid om sy lewe prys te gee, sodat ons die lewe kan behou, sodat elkeen wat in Hom glo nou alreeds deel het aan die ewige lewe.

Prys Hom vir sy prysgawe

Ons vier Paasfees. Ons dink terug aan Jesus se oorgawe aan sy Vader en sy volmaakte prysgawe. Sy prysgawe moet ons aanspoor om ons hele lewe in geloof oor te gee aan Hom en elkeen van ons moet ook bereid te wees om dié dinge prys te gee wat in die pad staan van ons diens aan Hom.

Ons moet diep voor Hom buig en erken: “Jesus Christus is Here!” (Fil. 2:11b).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *