Net één wederkoms

Deur Prof. Amie van Wyk (Pretoria)

Hoe moet ons die wederkoms van Christus verwag: as een gebeurtenis of as twee? Lees ons dan nie baie duidelik in Openbaring 20 dat ʼn engel uit die hemel die Satan vir 1000 jaar sal bind sodat hy die nasies sal verlei en dat die heiliges dan saam met Christus sal regeer nie? Na 1000 jaar word die duiwel losgelaat en volg ʼn kort tyd van hewige vervolging. Dui hierdie gegewens nie op twee komste van Christus nie? En het die groot teoloog van die tweede eeu, Irenaeus van Lyon, nie in die rigting van ʼn duisendjarige vrederyk gedink nie? En wat van ds. S.J. du Toit en sy talle navolgers (die sg. “Kruisdoppers”) in Suid-Afrika? En waarom skryf laasgenoemde se seun, Totius, nie in sy preekbundel oor Openbaring ʼn preek oor hoofstuk 20 nie?

Uiteraard kan ons in so ʼn bondige artikel net enkele hooflyne van die verskillende benaderings aandui sonder om in besonderhede in te gaan. By alle nuanses moet ons altyd onthou dat die persoon en werk van Jesus Christus vir alle partye van bepalende betekenis is. Daar is egter verskil van mening oor sy wederkoms: Sal die wederkoms vóór of ná die vrederyk plaasvind? Die onderskeie groepe val uiteen in verskillende nuanses van chiliaste (afgelei van chilioi = 1000 in Grieks) of millennialiste (mille = 1000 in Latyn).

ʼn Eerste  en tweede wederkoms

Daar is een standpunt wat meen dat die eerste wederkoms van Christus sal plaasvind voor die begin van die duisendjarige vrederyk. Gedurende hierdie tyd is die duiwel vir 1000 jaar gebonde en heers Christus op aarde. Groot waarde word in hierdie verband aan die rol en betekenis van Israel geheg. Dit sal ʼn tyd wees wanneer Israel na Jerusalem terugkeer en hulle as volk sal bekeer (Rom. 11:26).

Na die vrederyk word die Satan vir ʼn kort periode losgelaat en kry hy vrye spel op aarde. Aan die einde hiervan vind die tweede wederkoms van Christus en die laaste oordeel plaas. Hierdie standpunt staan bekend as premillennialisme of prechiliasme.

’n Wederkoms na ’n periode van groei

 ʼn Tweede standpunt gaan daarvan uit dat die wederkoms van Christus sal plaasvind ná die einde van ʼn periode van relatiewe groei en bloei op aarde (vgl. Matt. 24:14). Hulle word postmillennialisteD of postchiliaste genoem.

Net een wederkoms saam met die voleinding van die koninkryk 

 Daar is ook nog ʼn derde standpunt, wat reeds met die kerkvader Augustinus begin het, en wat oordeel dat ons sedert die hemelvaart van Christus in die duisendjarige ryk, wat dus simbolies verstaan  moet word, leef en dat Christus klaar die bose magte onttroon en die finale oorwinning behaal het. Die wederkoms val saam met die voleinding van God se koninkryk. Hierdie standpunt staan bekend as amillennialisme of achiliasme. Sowel die Gereformeerde as Lutherse tradisies vind by hierdie siening aansluiting.

Hoe moet ons oor hierdie standpunte oordeel?

Die verstaan die Bybel hier op die regte wyse? Moet ons Calvyn hierin navolg wat oordeel dat die “verdigsel” van die chiliaste te “kinderagtig” is om nog weerlê te word (Inst. 3.15.5)? Of moet ons ruimhartiger wees soos sinodes van die GKSA wat in die vorige eeu (1913/1914) ruimte gemaak het vir die opname van Gereformeerde lidmate met chiliastiese oortuigings (die sg. “Kruiskerke”)?

Die groot probleem met die letterlike verstaan van ʼn duisendjarige vrederyk en ʼn dubbele wederkoms van Christus, is dat ons net op een plek in die Bybel, naamlik  20, van sodanige vrederyk lees en verder nêrens anders nie. Ons vind nie sodanige gedagte in die vier evangelies en ook nie by Paulus nie. En daarby moet onthou word dat die boek Openbaring ʼn boek is wat ryk is aan simboliek. ʼn Letterlike vertolking van elke gedeelte in hierdie boek lewer oneindige probleme. Dis ook opvallend dat Calvyn nie ʼn Bybelkommentaar op hierdie boek geskryf het nie.

ʼn Baie belangrike faktor is ook die feit dat die idee van ʼn duisendjare vrederyk en ʼn dubbele wederkoms nêrens in die preke van Jesus Christus na vore kom nie. Indien dit ʼn belangrike bestanddeel van die evangeliese boodskap sou wees, moes dit tog in die preke van Christus ʼn belangrike rol gespeel het. Hierteenoor roep Christus sy navolgers op om altyd waaksaam te wees omdat hulle nie weet watter dag en uur die bruidegom terugkeer nie (Matt. 25:13). Die wederkoms is altyd voor die deur.

Christene leef vanuit die oorwinning oor die sonde en dood wat Jesus Christus deur sy kruis en opstanding behaal het (Kol. 2:15) en hulle wag daagliks op sy koms om alles tot voltooiing te bring. Hulle ontken nie dat daar nog ʼn stryd te stry is nie (Ef. 6), maar hulle stry die goeie stryd van die geloof en gryp na die ewige lewe (1 Tim 6:12; 1953-vertaling).

Met bogenoemde belydenis is natuurlik nie alle vrae beantwoord nie, ook nie in verband met die sogenaamde onvervulde profesieë in die Ou Testament nie. Ook nie wat betref die toekomstige plek en betekenis van Israel in die heils- en wêreldgeskiedenis nie (vgl. Rom. 9-11). Hierdie sake bly steeds voorwerp van voortdurende nadenke vir die kerk, teologie en gelowiges, met die voortdurende gebed dat die Heilige Gees ook in hierdie opsig in die hele waarheid sal lei (Joh. 16:13).

Laat ons dan wakker en nugter wees, want Jesus Christus het ter wille van ons gesterwe sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe (1 Tess. 5:9-10).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *