Leef geloofsonverskrokke! Leef met geloofsdurf!

Deur Ds. Pieter Kurpershoek

Terwyl my vingers die woorde tik, bly my gedagtes by, Sondag 15 Februarie 2015: Een-en-twintig van Jesus se dissipels … reg by die Middellandse See … is onthoof!Die prentjies van ons geloofsbroers wat langs die see stap… neerkniel… onthoof word… Hoe vergeet ’n mens dit ooit? Hoe vergeet ’n mens hul lippe wat prewel: “Jesus, help my!”

 Waar kry hulle die durf?

Belangriker: Waar kry hierdie 21 mans die geloofskrag om so onverskrokke te volhard? Waar kry hulle die geloofsdurf om só in die praktyk van die lewe aan Christus vas te hou? Dís mos deugsaamheid… om met geloofsdurf getrou aan Christus te leef.

Waar kry Paulus sy durf?

 Dieselfde vrae leef in my wanneer ek Fil. 4 lees. In sy lewe het Paulus baie pyn en haat verduur –omdat hy in Jesus glo. Dink maar aan sy: “Vyf maal het ek 39 houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry en een maal is ek met klippe gegooi” (2 Kor. 11:24). Nou sit hy in die tronk.

En tóg kan hy drie maal uitroep: “Wees altyd bly in die Here!” (Fil. 3:1- 4:4) Én hy kan ons oproep om inskiklik teenoor alle mense te wees (Fil. 4:5), ook teenoor hulle wat jou gevange neem of wat jou kop afkap. Hierdie oproepe kom tog seker uit Paulus se eie hart en lewe. Waar kry hý dié geloofsdurf?

Alles begin by die Here (Fil. 4:5)

 Soos altyd begin die goeie by… die Here. Paulus sê: “Die Here is naby.” Die Here van die heersers en die Koning van die konings is naby ons, mét ons – soos Hy beloof het voordat Hy by sy dissipels weg is (Matt. 28: 20).

En wanneer hierdie Here met my is… dan hoef ek nie bang te wees nie. Dan kan ek die lewe in die oë kyk. Dan kan ek met moed leef. Hoeveel keer het die Here dit nie beklemtoon op sy pad met sy kinders deur die eeue nie? Abraham hoor dit aan die begin van die pad met die Here (Gen. 15:1), Josua hoor dit voor hy Israel die beloofde land mag inlei (Jos. 1:9), Jesaja vertel dit oor en oor vir die Here se kinders (Jes. 41, 43), Jesus self sê dit vir sy dissipels op see (Mark. 6:50), Paulus hoor dit in Korinte (Hand. 18:9-10), Johannes op Patmos (Op. 1:17): “Moenie bang wees nie … Ek is met jou!”

Geen wonder Dawid sing jubelend: “Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie” (Ps. 18:30). Geloofsdurf is die Here se werk in my.

Maar dit beteken nie ek laat Gods water oor Gods akker loop nie. Néé, helder verwoord Paulus drie praktiese lyne vir my lewe, sodat ek met meer durf kan leef:

Bid voor jy bekommer (Fil. 4:6-7)

Hoe maklik raak jy en ek nie oor vandag en môre onseker nie? Hoe gou begin ek nie bekommer nie? En so lê ek myself lam. Kort voor lank vergeet ek die Here se beloftes. Kort voor lank word ek moeg op my geestelike reispad. Kort voor lank knak my knieë!

Daarom sê Paulus onder leiding van die Gees: BID! Bid… voortdurend… in álle situasies.  Bid… terwyl jy dankie sê én terwyl jy smeek. Bid… en erken so jou eie broosheid én jou staatmaak op die Here.

En dan? Dan mag ek beleef hoe die Here my gedagtes met sy vrede oppas. Dan mag ek in diepte van wanhoop hoop beoefen, in armoede oorvloed beleef, in diepte van swakheid nie ingee nie (Calvyn).  Dan het ek geloofsenergie om met durf te leef.

Kyk waaroor jy dink (Fil. 4:8)

Hoe gereeld gee ek aandag aan wat ek dink? Hoe gereeld bid ek dat die Here my denke vernuwe sodat Hy my as mens ook kan verander (Rom. 12:2)? Dis so nodig, want wat ek dink bepaal wat ek voel. En wat ek voel, bepaal wat ek doen.

Daarom sê Paulus onder leiding van die Gees: Dink tog in jou lewe oor die deugsame. Laat jou gedagtes gevul word met die lofwaardige. En wie (ja, wie en nié wat nie!) is deugsaam, lofwaardig? Natuurlik ons Here Jesus Christus.

Hoe meer ek aan Jesus dink, hoe meer ek sy woorde oordink, hoe meer Hy my gedagtes volmaak, hoe meer gaan my geloofsdurf groei. Is dit nie wat die Hebreër-dominee bedoel wanneer hy ons oproep om ons oë op Jesus, die Begin en die Voleinder van die geloof, te rig nie? En dan sal ek nie geestelik moeg word en uitsak nie (Heb. 12:1-4).

 Doen wat jou hand vind om te doen (Fil. 4:9)

Die laaste praktiese lyn is voor-die-hand-liggend, realisties: Doen wat jy geroep is om te doen! Leef volgens die voorbeeld wat Paulus gestel het (Fil. 3:17). Stap in Jesus se voetspore. Dan gaan ek sien: Dis goed om te doen waartoe die Here roep. Dan gaan ek beleef: Ek wil al meer deugsaam leef. Dan gaan ek sien: Ek kan dit doen. Dan groei my geloofsdurf!

Waar eindig alles

 Alles begin by die Here. Drie dissiplines word gevolg. En waar eindig alles? En God wat vrede gee, sal by julle wees! Die sirkel is voltooi.

Die Here is met my. Ek leef biddend, gefokus op Christus, in die voetspore van Christus. Dan kan ek in die tronk sit en bly wees in die Here. Dan kan ek in die geloof aan Christus bly vasgryp terwyl gemaskerde mans my wil onthoof. Dan het ek geloofsdurf!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *