Hekse en feetjies…

Mag ons ons kinders blootstel aan enige media wat gaan oor hekse en of feetjies?

Deur Prof. Ben de Klerk

Ons vraesteller motiveer sy vraag só (ek haal hom letterlik aan): “Ek is bekommerd oor die groot belangstelling in die bo-natuurlike veral in kinderliteratuur. Deelname aan enige okulte praktyke word verbied in die Bybel. ’n kind leef hom so in ‘n storie dat hy dan deel het aan die toorwerei. Kan daar ooit iets wees soos ‘n goeie heks?” Die briefskrywer het ʼn vraag of ʼn verhaal oor ʼn heksie in die kinders se blad wat deur ons deputate uitgegee word, nie kinders kan mislei nie. Hierdie deel van die vraag moet liewer aan daardie blad gevra word.

Om hierdie moeilike vraag te beantwoord het ek raad by ’n paar kundiges gevra en ek gee hoofsaaklik weer wat ek by hulle kon leer

Okkultisme

Okkultisme is die leer van die verborgene, maar dan veral die bose, die duiwel en sy bose magte. Daarom is deelname aan hierdie praktyke teen dit wat die Heilige Gees ons in die Bybel leer. Dit is dus belangrik om vas te stel of alle kinderverhale waarin daar onder andere hekse (heksies) of feetjies voorkom deelname aan “okkulte praktyke” is. Daar was in die verlede godsdienstige groepe wat sover gegaan het om fantasie as sodanig as sondig uitgewys het, want gelowiges mag glad nie ’n droomwêreld vir kinders skep nie. Verhale soos Jakkals en Wolf is daarom ook uit.

Fantasie

Die Here het ons geskep met die wonderlike gawe van verbeelding in die goeie sin van die woord. Ons kan fantaseer! Ons doen dit gedurig en selfs baie keer onbewustelik. As ons maar net luister na die pragtige beeldspraak wat in die Ou-Testamentiese profetiese stof voorkom en die krag van Jesus se gelykenisse en die wonder van verbeelding daarin. Verbeelding het iets te doen met die geskenk wat God gee om kunsvorme en selfs goeie humor te skep.

Die positiewe waarde van fantasieverhale mag nie onderskat word nie. ‘’n Kind wat nog nie abstrakte begrippe kan hanteer nie (kleuters en bietjie groter kinders) of ’n verhaal op simboliese vlak kan vertolk nie, ervaar hoe die essensie van die verhaal onbewustelik tot hom deurdring en so sy insig en ervaring verryk. Fantasie gee ʼn ander dimensie aan die werklikheidswêreld en soos enige ander goeie kinderlektuur vorm lewenswaarhede ʼn onontbeerlike rol in die letterkundige ontwikkeling van die kind. Dit maak die lewe groter en wyer en deur die skrywer se vryer skeppingsmoontlikhede lê ook vir die kinderleser betrokkenheid en opwinding opgesluit wat in die werklike lewe nie moontlik sou gewees het nie.

Een van die kenners sê van mense wie se verbeelding nie gestimuleer is nie: “Die verbeeldinglose mens mis die lewensvolheid, want dit is te betwyfel of kennis en ondervinding sonder die aanraking van die verbeeldingswonder werklik lewende entiteite kan wees”.  Fantasieverhale as een van die literêre trappe is onontbeerlik vir die kind se totale ontwikkeling.

Hekse en feetjies en kabouters

Feetjies, kabouters en heksies bestaan in die Afrikaanse kinderlektuur (Hansie en Grietjie en Sneeuwitjie). Kinders se omgang met hierdie karakters spruit nie uit die sosio-kulturele nie, maar uit hulle literêr-kulturele erfenis en was daarom vir vorige geslagte nie ʼn bedreiging vir hulle godsdienstige ontwikkeling nie. Daar is egter ook in hedendaagse verhale slegte hekse met allerhande bo-natuurlike towerkragte wees, wat aan die klein kind die persepsie kan gee dat hekse mag het oor menslike wesens. In hierdie opsig moet gewaak word teen die skelm insluip van okkultistiese praktyke.

Ons verantwoordelikhede teenoor ons kindertjies

Enkele riglyne wat ouers en grootouers kan volg om hulle kindertjies op die regte manier te begelei, is dalk die volgende:

  • Ouers moet self baie deeglik kennis probeer opdoen van die New Age en okkultisme vanuit ʼn Christelike perspektief;
  • Omdat daar op die TV ʼn verskeidenheid programme is (ook met verkeerde en misleidende inhoud) behoort die voorskoolse kind nie alleen TV te kyk nie. Kenners meen selfs dat die voorskoolse kind nie meer as ʼn uur per dag TV behoort te kyk nie;
  • Die ouers moet die literatuur wat hulle vir hulle kinders lees baie goed keur;
  • Ouers behoort seker te maak wat hulle kinders kyk (lees of deurblaai) en veral duidelike beperkinge aan die kinders deurgee wat verkeerd is en hoekom dit verkeerd is;
  • Ouers moet op vroeë ouderdom kinders leer om tussen fantasie en werklikheid te onderskei;
  • Ouer kinders se lees en kykstof moet nie in alle gevalle net gesensor word nie, maar kinders moet onderskeidingsvermoë deur begeleide blootstelling geleer word. Kinders kyk ook by maatjies na sekere programme en lees hulle boekies en later in hulle lewe is die gawe van onderskeidingsvermoë op alle terreine van die lewe deurslaggewend;
  • Die belangrikste is om kinders te leer om alles te toets aan wat die Here in die Bybel leer en te fokus op alles wat waar en reg en mooi en goed is.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *