Geloofsdryfkrag

Jonk van Gees en gees

 Rubrieknaam: Woord-wys uit Wakkerstroom

Deur Wilbrie en Annelize Fourie

Dis asof iets hulle aanval. ʼn Energie-uitbarsting wat net beperk word deur die fisieke limiete van hul liggame.  Wanneer laas het jy ʼn jong kalfie so uitbundig sien bokspring? Terwyl ma rustig wei in die veld hardloop die kleutergroepies rond en spring en speel om met hul lywe te skree: EK LEWE!

Dan dink ek baie keer: Wanneer laas het ek so uitbarsting gehad?

Deesdae is daar eindelose advertensies wat pille adverteer om jou weer só energiek te laat voel.  Ander hou weer voet by stuk dat sekere diëte die antwoord is op eindelose energie. En terwyl dit definitief so is dat ʼn gesonde liggaam bydra tot ʼn leefstyl wat wys en skree “EK LEWE!”, is dit op die einde van die dag my kop wat bepaal hoe ek voel en dink oor dinge, is dit my ingesteldheid wat my ouderdom bepaal.

’n Mens hoor (en sien) so baie ou mense wat nog jonk van gees is, en dan weer mense in hul vroeë 40’s wat sketse van aftree-oorde besigtig…

In die begin van ʼn jaar pak ’n mens maklik nuwe projekte met geesdrif aan, maar hoe baie keer, namate die tyd aanstap, verloor ons daardie kalf-energie en word die projek verklein tot iets wat ons volgende jaar weer kan aanpak. Of dit nou is dat ons besig is, moeg word of wat ook al – daardie aanvanklike dryfkrag taan, word stadigaan swakker,  totdat die dryfkrag ons nie meer vorentoe “trek” nie.

Geloofsdryfkrag

Wat dryf jou lewe? Wat dryf jou bywoning van eredienste?  Jou omsien na die armes? Jou  liefdesbetoon teenoor jou naaste? Is dit die manier waarop jy groot geword het, want ek en my voorgeslagte doen dit al jare so?  Is dit die druk van die mense om jou? Die bang wees vir wat die mense gaan sê as ek nie meer Christelik optree of praat nie? Of dalk is dit net vir jou lekker om te gee sodat ander mense kan sien jy gee en dan dink jy is  “’n goeie persoon”?

’n Ander rede is dalk die standaarde waaraan ons onsself meet. Dalk is ons tevrede met ons leefstyl en energie wat ons insit in ons “geloofslewe” aangesien dit min of meer in-lyn is met die ander mense om ons s’n. Dalk sit jy selfs ’n bietjie meer in as die res en voel jy goed daaroor.

Die vraag is egter nie of jy meer of minder doen en dien as die mense om jou nie, nee.  Die vraag behoort te wees is daar ware geloofsdryfkrag in jou lewe?  Doen jy wat jy kan met die gawes, geleenthede en tyd wat God vir jou gegee het! Dit is waaraan ons onsself moet meet.

Met geloofsdryfkrag in jou hart, is die krag van die Heilige Gees binne-in jou aan die werk, en hierdie krag dryf jou om te doen wat jy doen en te gee wat jy gee en te dien waar jy dien omdat jy die Here waarlik ken en omdat jy vas op Hom vertrou. Beleef jy dat jy nie kan kies of jy ʼn ding wil doen nie, as jy weer sien, dan doen jy dit! Dit is die Gees, binne ons, aan die werk! Die Heilige Gees is ’n onstuitbare bron wat jou nie net die krag gee om liefdesdade en liefdesbediening te doen nie, maar ook die wil!  Dié krag in ons en om ons stel ons in staat om volgens die wil van die Here te leef.

Vra vir geloofsdryfkrag

 Om moeg en afgemat te word, is in ons natuur, dit is hoe ons geskape is. Die Bybel praat selfs van jong manne in hul fleur wat moeg word. Voeg daarby nog die druk van die moderne samelewing, die tempo waarteen alles plaasvind en as jy jouself weer kan kry, het jy 1000 redes om te voel soos jy voel…

Maar Hy gee arendsvlerke aan dié wat op Hom vertrou. God gee die krag en die energie aan dié wat dit van Hom vra, aan dié wat dit aanwend tot uitbou van sy koninkryk.  Dis normaal as ons soms in ons ywer verslap, maar ’n mens moet bedag wees daarop en wanneer dit gebeur God dan vra om jou weer nuwe krag te gee.

En jou lewensmaat? Weet jy of hy of sy God daarvoor vra? Weet jy dat hy of sy daardie energie net soos jy, broodnodig het?  Of is dit iets waaroor jul nie praat nie. Vra God om ook jou lewensmaat die energie en wil te gee om aan Hom getrou te bly en Hom te volg en te dien. Vra Hom om jul huwelik saam die geloofsdryfkrag te gee om goeie werke in sy Naam te verrig. Daar is ʼn ander-soort  diepte,  ’n bykans onbreekbare band in ʼn egpaar se huwelik wanneer hulle  saam aangedryf word deur geloofsdryfkrag. Dan kan hulle saam in die geloof dien en eer en leef!

Bid beide van julle daarvoor sonder ophou!

Toets jou geloofsenergie

As jy weer so ’n klein kalfie sien spring en hardloop, sommerso vir geen rede nie, vra jouself af: Is ek nog só gedrewe in my geloof?  Is daar ’n krag binne-in my wat my bedieningswerk laat doen en my energie gee om te leef en te dien en te bedien soos God dit wil hê, omdat ek nie anders kan nie?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *