Ek staar vanuit ʼn vensterraam…

Deur Maria M (*skuilnaam)

“…ek staar vanuit ’n vensterraam,

sien hoe seisoene kom en gaan

en in my oog ’n stille traan‎ oor gisters wat verby moet gaan…”

So was ek besig om te worstel met my intense leed oor my seun wat op 23-jarige leeftyd sy eie lewe geneem het op 22 Maart 1998. Soveel mooi herinneringe, soveel mooi seisoene…

Die onbeantwoorde hoekoms en waaroms het my gedagtegang oorheers. Ek was in my eie wêreld van wanhoop en hartseer vasgevang. Ek was blind vir die leed van my man en my kinders.

’n Dokumentêr, uitgesaai oor die televisie, het my aandag vasgevang. Dit het gehandel oor ’n jong seun wat sy hart uitgestort het in ’n smeking om hulp vir dwelmverslawing. Sy betraande gesig en die wanhoop in sy oë het my diep geraak. Die gedagte het by my opgekom: “Sê nou dit was my seun na wie ek kyk?”

’n Intense gevoel van weemoed het my beet gepak.‎ Koorsagtig het ek my pen gegryp en alles neergepen wat in my gedagtes rond gemaal het:

DWELM-DRANG

Jou beeld sweef voor my oë verby.

Ek voel hoedat dit binne my in bondels saamtrek.

Saamvoel pyn, wat soos ’n gloed dwarsdeur my vloei, soos bloed.

  ‎Met kettings was jy vasgevang.

Altyd deur die monster-drang‎ na nog en nog en meer en meer.

 Jou oë so dood.

Jy kyk na my, sien jy my raak, sien jy my smeek‎?

Jy’s kwaad vir my….

 Ek was verdwaas, het jou gemis.

Hoe gee mens raad as alles in jou stukkend is?

Kon nie verstaan hoe jy kon kies om voort te gaan, jou liggaam treiter en versaak.

 Ek hoor jou sug, ek hoor jou sê:

“Nou moet ek praat, nou moet ek bieg,

ek kan nie langer vir jou lieg!”

 Oogkaste diep, diep ingesink,

hol wange wat van trane blink.

‎’n Desperate kreet oplaas:

“Ag help my Here, ek is verslaaf!”

 Alles in jou breek dan oop,

“Ag ma, ek is so leeg gestroop, van altyd voorgee en van stry.

Ek is so moeg, dis leeg in my.

Ek weet jy het my lief gehad.          

Vir jou was ek ’n lieflingkind,

Ja, altyd deur die ster wat blink.

Wie sal dan ooit tog kan verstaan, die smagting wat aanhoudend tart?

Totdat niks oorbly, net die smart…

 Vir my was ek op spierwit sneeu maar altoos deur ’n druppel swart…

Op dié manier het God deur sy Gees in my hart en denke gewerk om my te laat besef hóé groot sy liefde en genade is. My oë is geopen vir ander se pyn en so was my las in ’n mate ligter. My kind wat selfmoord gepleeg het, was my oudste kind.

‎Op Saterdag 6 Julie 2013 word my jongste kind, 29 jaar oud, met akute leukemie gediagnoseer. My wêreld dreig om onder my pad te gee, want 28 dae ná diagnose sterf hy. Soos ’n riet in stroomversnelling word ek deur die golwe van smart rond gedryf.

Ek bid, ek pleit: “Ek móét staande bly, ter wille van my man, help my Here, soos in die verlede en soos U my deur my hele lewe al gehelp het!”

‎En Hy antwoord my: “My genade is vir jou genoeg.”

Dankie Here, dat U genade vir my toe genoeg was en nou nog is.

‎Dag vir dag het ek, met die Here by my, voortgestap. Hy het my gedra.

Op die oggend van 20 Februarie 2014, het my hele lewe inmekaar getuimel. Ek het my man gekry waar hy op ’n stoel “aan die slaap” geraak het. Ek het my arm om hom gesit en besef, my sielsgenoot, my beste maat, my lieflingmens is nie meer by my nie. Na ’n massiewe hartaanval is hy weggeneem sonder dat ek kon groet.

Regtig Here? My kind en my lewensmaat van my af weggeneem in ʼn tydsbestek van ses maande? Hoeveel moet ek nog verduur?  Ek het in die diepste donkerste put van angs en depressie weggesink. My lewe het vir my geen rigting gehad nie. Ons predikant het weekliks vir my tydens berading gesê: “Soms moet ’n mens net op die Here se genade dryf.”

Een oggend word ek wakker met dié besef: Hoe wonderlik goed is die Here vir my! Die besef was oorweldigend: ‎Die lewe is mooi, die lewe is goed, daar is mense wat jou bystaan, jou liefhet en saam met jou bid. So dra ons mekaar in lief en in leed.

Maar vandag voel ek weer soos Job. Tien jaar gelede het ek die gedig “Dwelm-Drang” uit empatie vir ʼn vreemde kind geskryf, min wetende dat dit ook oor mý pad sou kom. Die nuus kom maak my knieë lam: My kleinkind, 21 jaar oud, én albei sy ouers gebruik dwelms! Dit het gelei tot leuens, tot werksverlies, tot aanranding, tot verhoorafwagting, tot rondswerf – sonder kos of blyplek.

Maar aan God sy al die eer! Hierdie keer vra ek nie weer: “Regtig Here?” nie. Ek sê “Dankie Here dat U my deur die storms in my lewe laat gaan het, sodat ek in die nuwe krisis kan weet waar my hulp vandaan kom.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *