Ek behoort aan die kerk deur Thomas S Rainer

Resensent: Annamie Odendaal

Daar is soveel kommer oor dalende getalle in ons kerke dat ek nuuskierig was om te hoor wat sê ‘n stem daar ver uit Amerika. En die belangrikste feit wat my weer ingeskerp is, is vanselfsprekend en kragtig: Die kerk behoort aan die Here. Hy het die kerk as organisasie bedink en ingestel om sy redes, en nie vir ons om te manipuleer en te kritiseer nie. Ons behoort aan die Here, die kerk behoort aan die Here en daarom behoort ons aan die kerk. Dis deel van die manier waarop die Here ons gebruik om Hom te verheerlik. Die kerk is nie in die eerste plek ingestel om ons te versorg nie – dit ook, maar dis nie die kerk se primêre doel nie.

Rainer wys dat die bekende hoofstuk oor die liefde, 1 Kor. 13, deel vorm van wat Paulus vir die gemeente in Korinte leer oor hoe dinge in die kerk behoort te gaan. Die Here weet dat die kerk net kan werk waar daar liefde is. In 1 Kor. 12 word die kerk beskryf as die liggaam van Christus. Elke deel verskil van die ander dele. Elkeen het sy plek en funksie, spesifiek toegewys deur die Here. En daar is nie keuses nie: Elke lid moet sy werk doen! Niemand anders kan jou plek volstaan nie. Maar jy kan ook nie jou plek volstaan sonder die Here se liefde nie. Jesus het mos gesê mense sal weet dat ons sy dissipels is as ons mekaar liefhet.

Rainer praat ook van die universele kerk en die plaaslike kerk, en dat ’n mens nie deel van die kerk oor al die eeue en regoor die wêreld kan wees sonder om deel van ‘n spesifieke kerk op ‘n spesifieke plek en tyd te wees nie – en anders om. Ons vergeet so dikwels dat gelowiges van ander denominasies net so deel van die enigste kerk van Christus is as wat ons is. Die Here se opdrag aan ons is om gelowiges van wie ons heftig verskil, en dié van wie ons sommer net nie hou nie, én die met wie ons net met groot moeite en hoë bloeddruk kan klaarkom, net so lief te hê as dié vir wie ons baie respek en waardering het.  Mag dit tog al meer waar word in die Gereformeerde Kerke in Suid Afrika ook.

Daar is ’n  hoofstuk oor hoe ons die kerkleiers moet ondersteun, ook in gebed. Hoe waar en noodsaaklik is dit nie! Kosbaar ook is die hoofstuk oor my verantwoordelikheid om my gesin te lei om ‘n dienende gesindheid teenoor die kerk te hê en uit te leef. Die boek sluit af deur te wys hoedat kerklidmaatskap ‘n geskenk van die Here is wat waardeer en opgepas moet word. Goeie vertaalwerk!

’n Vraag wat nie direk beantwoord word nie, is hoe weet ek by watter gemeente of denominasie ek my moet voeg.  Ek weet hoe baie mense hieroor worstel. Wat maak ek as ek in ‘n dooie gemeente sit waar die aktiwiteite jou laat voel jy behoort eintlik aan ‘n sosiale klub? Wat maak ek as die predikant swak preek? Wat maak ek as die kerkraadslede onbekwaam is? Wat maak ek as daar meer aandag aan vertoon of aan formaliteit of aan programme is, as aan diens en verheerliking van ons Here? Of as daar geen vreugde en verering van God is nie? Of as nuwighede sonder onderskeiding nagejaag word? Soos ons lewe hier op aarde maar is, is daar nie standaard antwoorde hierop nie, maar die lees en oordenking van hierdie praktiese, kort en kragtige boek sal onderskeiding verskerp en seker maak dat liefde en gehoorsaamheid aan ons Here die pad oopmaak.

’n Uitstekende geskenk aan nuwe kerkraadslede en lidmate – én aan die oues.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *