Die 0,002% kans

Deur Petronel Cronje

Ek het grootgeword in ’n  liefdevolle Godvresende huis as die jongste van vier susters en die ritme van die lewe het voortgegaan: Jy gaan skool, gaan universiteit toe, trou en… kry kinders. Maar laasgenoemde was toe nie so doodeenvoudig vir ons as vir my susters of baie van ons vriende nie. Ná maande se toetse, afsprake, soos ’n  nommer voel en poeier-eiers (ons naam vir die pilletjiebehandeling om eierproduksie te stimuleer) kry ons die nuus: Daar is ‘n 0,002% kans dat julle ooit sal swanger word en, “Mevrou, nou gaan ons volgende maand in vitro moet doen”.

Dit was die begin van my en man –  twee gewone feilbare Christene – se lang pad tot swangerskap: ’n Pad van baie trane, seerkry,  wisselende emosies, vrae, voorgee en uiteindelik vrede én vreugde.

Met ’n ingenieur as man en my eie liefde vir wiskunde,  verstaan ons die persentasie van 0,002% maar al te goed en ons wêreld word daardeur tot stilstand geruk. Daar is geen realistiese manier om hierdie syfers af te maak as “niks” nie. Baie dinge het oor ʼn tydperk van 3 jaar in ons lewens tot stilstand gekom: Ons huwelik, elkeen van ons se eie menswees,  ons loopbane. Baie mense en dinge om ons is afgeskeep tydens ons missie om swanger te word.

Dit het gelyk of my man die nuus baie vinniger as ek verwerk het (ek sal nie weet wat regtig altyd in sy gemoed aangegaan het nie!)  en ek het as vrou ’n masker opgesit. Agt kinders word in hierdie tyd in die familie en vriendekring gebore en ons is almal se gunsteling tannie en oom wat by al die verjaarsdae en konserte teenwoordig is. Moedersdag-vieringe is ’n  “fees” saam al jou peetkinders en “kinders” –  maar in jou hart is moedersdag een van die moeilikste dae om deur te worstel. Oor ander se babas wat gebore is, het ek voorgegee om bly te wees óf ek het hulle doodeenvoudig vermy.

Maar die pyn diep binne-in my, die stukkende hart en rou emosies het ek weggesteek. Ek het dit nie eers met my man gedeel nie. Soms het ek die nie eers aan myself erken nie, soms  het  ek alleen deur die nag met God daarmee geworstel.

Tot een oggend wat ʼn liewe vriendin vir my ʼn geskenk gee: Twee porseleinpoppies, ’n  seuntjie en ’n dogtertjie met die mooiste gesiggies en die rooiste van rooi haartjies. Met ’n  briefie daarby:

My liefste vriendin,

Hierdie 2 kindertjies – ’n seuntjie en ’n dogtertjie – probeer op ’n manier sê wat ek nie in woorde vir jou kan sê nie:  Dat ek saam met jou hoop en bid op ’n  wonderlike gebeurtenis, dat ek saam met jou probeer leer om te aanvaar. Kortom – ek probeer op my stupid manier om die las saam met jou te dra.

Onthou ek is altyd daar vir jou.

 Met al my liefde

Haar briefie ruk my tot my sinne: As hierdie vriendin wat my so goed ken, voel sy kan nie met my praat nie – hoe moet die ander mense wat na aan my lewe nie voel nie. Hoe het ek nie toegeskulp en weggesink in ʼn diep donker gat wat net af-spiraal nie! Ek het toe besef dat ek myself, my man, my familie en geliefdes ’n onreg aandoen om nie daaroor te praat nie.  Ek het ook besef dat ek en my man besig was om al vir drie jaar weg te dryf van mekaar af.

Tog het die stryd in my binnekant bly voortwoed. Ek het vir myself gesê: “Ek het dan vrede met my kinderloosheid gemaak. Ek kan mos nou nie hieroor wil tob nie.  Ons gaan nie kinders kan kry nie, maar… vir God is álles moontlik.” Dis wat jy sê met die mond … maar nie wat jy glo met jou hart nie.

My pad tot werklike vrede sou nog vir 4 jaar voortduur: Ek het vir myself gesê  dat ek my infertiliteit aanvaar het, ek het ander ondersteun wat deur dieselfde beproewing gaan en ek het elke aand gebid… ook met dié woorde: “As dit U wil is…”.  Maar die geloof agter hierdie vier woorde het geskort.  En die ewige wipplank het gebly: Aan die een kant het ek vrede met die mediese feite,  maar aan die anderkant ʼn verterende begeerte na ʼn kind,  en flouerige hoop dat dit tog sal gebeur.

Ek is dankbaar om te kan sê dat, deur die genade van die Here, ek en Jaco nie die laaste vier jaar van worsteling weer weggedryf het van mekaar af nie.  Ons huwelikspad saam was en is steeds geseënd. Dit is een van die dinge wat my uiteindelik in hierdie verbete stryd staande gehou het.

En op die pad van verwerking het ek begin om reguit te antwoord  oor ons kinderloosheid as iemand  daarna sou vra.  So het ek uitgevind dat daar baie ander vrouens is wat in stilte met dieselfde pyn worstel. En die doel van hierdie worsteling het stadig tot my begin deurdring: Ek en Jaco moes daardeur worstel, sodat ons ander mense wat dieselfde deurmaak, sal verstaan en sal kan help en ondersteun. So kon ek vir my sussie, wat ’n  mediese dokter is, raad gee oor wat sy liefs nóóit vir kinderlose pasiënte moet sê nie. En toe een van ons vriende ook die pad begin stap, kon ons hulle help en ondersteun. So, deur pyn en worsteling, maar ook deur uit te reik na ander toe, het ons nader beweeg aan aanvaarding.

In Julie 2009 het Jaco die roeping ontvang om teologie te gaan studeer. Ek het toe geredeneer: Nóg ʼn rede hoekom ons nie nou kinders moes hê nie – met kinders sou ons tog nie hierdie skuif kon maak nie. Maar steeds bly die inherente begeerte maar daar… en die swangerskap bly weg. En daar kom die dae van groot twyfel. En soms woede wanneer ek lees van verwaarloosde kinders, of hoor van mense wat nie kinders wil hê nie. Dan borrel die hoekom-vraag sommer soos ʼn oorloopfontein in jou hart: Hoekom het hierdie mense kinders en ons kan nie kry nie?

Dis op hierdie tydstip wat ek Hanna se smeking vir Samuel oor en oor gelees het, ’n mens kan amper sê ek het haar pad saam met haar gestap, so ook Sara en ander vroue in die Bybel wat gesukkel het om kinders te kry. Terselfdertyd het ons by ’n wonderlike, Godvresende dokter uitgekom saam met wie ons weer, ná baie gebede, die pad van behandeling begin stap het.

Tydens ’n wegbreeknaweek in die Magaliesberge kom ek af op ’n artikel wat geskryf is deur ’n Amerikaanse predikant se vrou: Sy en haar man is kinderloos. Vir jare het sy bly “Hoekom?” vra en eers na 30 jaar ’n antwoord (en vrede!) gekry. Eers toe sy terugkyk en sien hoeveel verlore kinders hulle kon inneem of bloot net begelei tydens hulle bedieningsjare, het sy besef  dat hulle nie soveel sou kon gee en vir soveel ander kinders ’n  totale toevlug gewees het, as hulle kinders van hulle eie gehad het nie. Haar gebed wat sy  in die artikel neergepen het, het ʼn ommekeer in my hart gebring:

Here ek smeek van U ’n kind, want ek mag en moet my begeertes aan U bekend maak. Gee my die hoop om hieraan vas te hou, sonder om my te laat val. Gee my die geloof om U wil te soek vir my lewe, én die aanvaarding as my begeerte en hoop nie U wil is nie.

Sulke kragtige woorde wat getuig van werklike geloof en aanvaarding. Haar gebed het my tot selfondersoek gedwing en ek het besef dat ek wanhopig en krampagtig vir God wou voorskryf wát om te doen. En so het ek die pad van werklike vrede en aanvaarding begin stap. Sonder om voor te gee dat die pad verder net maanskyn en rose was!  Tog het ek by die punt uitgekom dat ek ons kinderloosheid aanvaar het,  maar ook in rustigheid bely het dat as dit God se wil is, ons ook eendag ouers sal wees.  Daar was tye wat ek weer in wanhoop angstig wou raak, maar dan het ek tot stilstand gekom, tot God gebid en Hom gevra om my rustig te maak en my wil ondergeskik te maak aan sy wil. My benadering tot behandeling van “Dit gaan en moet net werk”  het verander na: “As God wil sal dit werk.”

Dit was op hierdie punt wat ek vir die eerste keer begin besef het dat ek ons verhaal moet neerskryf sodat ons daardeur ander egpare kan bemoedig wat hiermee worstel,  hulle kan verseker dat hulle nie alleen op hierdie alleenpad is nie.  Maar ek sou nie dadelik kon nie. Want my voorneme is deur God se genade self onderbreek… ’n klein bondeltjie liefde, ons liefde-lyfie, genaamd Ané: Van God gesmeek en uit sý hand op sý tyd ontvang. Sy is nou 21 maande oud, het nog net 7 tande en ons koester elke dag, elke sekonde wat ons saam met haar het.  Ons prys God elke dag vir haar: ’n  Mensie in eie reg en die grootste geskenk uit sy Vaderhand.

Petronel bemoedig ouerlose egpare só:

Al voel jy hoe alleen, onthou daar is ander mense wat ook deur hierdie beproewing gaan;

  • Jou wisselende emosies (en dikwels negatiewe of slegte emosies) waardeur jy gaan, is normaal. Waak daarteen om jouself oor te gee aan negatiewe gevoelens.
  • Jou man mag dalk gevoelloos lyk,  of dit lyk soms of hy die feit van kinderloosheid makliker aanvaar, maar mans steek dikwels hulle gevoelens weg. Dis belangrik dat julle twee as egpaar dit saam moet deurwerk en verwerk.
  • Ander mense om jou weet nie altyd hoe om die saak te hanteer nie, en sê dikwels goed wat nie weldeurdag is nie, soos:

“Jy en jou man kan nou baie tyd saam spandeer”;

“Jy hoef tog nooit te bekommer oor min slaap en weggooidoeke nie”;

“Ontspan net en julle sal swanger raak”;

“Jy moet net glo!”

Probeer verstaan dat hulle wil help, al sê hulle soms seermaakgoed.

  • Net so ʼn ekstra aantekening oor die raad om te ontspan – ’n mens ontspan glad nie as jy die infertiliteitsroete stap nie! Elke dag word getel. Vandag is nie net Dinsdag nie, dit is dag 14, of dag 27. Elke dag en uur het ’n  spesifieke doel. Selfs al is dit nie ’n  “probeer”-maand nie, werk jou kop oortyd en is ontspan nie deel van jou denkraamwerk op daardie stadium nie.
  • Sien jou familie en vriende raak wat jou en jou man deur alles dra en waardeer hulle.
  • Bly klein voor God en hou aan bid: “…gee my die geloof om U wil te soek vir my lewe en die aanvaarding as my begeerte en hoop nie U wil is nie”.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *