Deegsaamheid

Deur Griet Swanepoel

“Jy skryf nou in vir Vetkoek-101!” Só word ’n nuweling wat aanmeld by ons vetkoekspan by die kerk, verwelkom.

Dié woorde het my laat dink aan die eerste keer wat ek moes leer om vetkoek te bak. Ek het gedink dit is sommer maklik. Maar… foutjie!

Toe ons in ons eerste gemeente besef het dat ons maar moet inspring om die gemeente te laat oorleef, het ons ‘’n  bakkerytjie gekoop in die hoofstraat.  Vir my was dit ’n groot omwenteling. My kennis van bak was maar beperk tot dit wat ek by my ma en oumas gesien het.

Om my te help stuur ons Sothogemeente van destyds vir my hulle gemeenskap se vetkoekspesialis, ouma Francina. Sy het ’n naam gehad vir haar vetkoeke en was bekend daarvoor dat sy al haar kinders deur universiteit gekry het daarmee.

“Sy sal nou kan kom om Ma Maruti te leer  — want sy eet nou pension,” het hulle my vertel.  (Voorheen sou sy nooit haar geheime weggegee het nie).

Sy het my dun armpies van destyds maar skepties bekyk.

“Deeg soek ’n sterk vrou”, het sy gesê en gewys na haar arms waar die biseps deur haar klere gebult het.  Sy het egter gesien ek is gretig om te leer en het haar oor my ontferm, “want jou ma is so baie ver.”

Die klasse het vroeg begin.  So halfvyf in die oggend. Dit het gevolg met die  perfekte afweeg van al die bestanddele.  En die water moet net ’n sekere temperatuur wees. O, dan die kniewerk!  Sy het nie geglo in ’n elektriese menger nie. Om van al die bestanddele ’n sagte deeg te knie was vir haar elke keer ’n passie.

“Mêm,  vetkoekdeeg hou nie van  ’n haastige mens nie, dit soek liefde en tyd  want jy bak dit nie vir jouself nie.”

Sy het die gisproses goed verstaan. Sy het presies geweet wanneer  die lugborreltjies eweredig tussen die glutienbande versprei het.

Sy het geglo daar is nie kortpaaie na sukses nie. Die deeg staan eers in groot bolle onder ’n warm kombers en rys, dan word dit in kleiner, perfek ewe groot bolletjies gerol vir die tweede rys. In die tyd wat die deeg vat om te rys, leer sy my ’n paar lewenslesse.

“Bietjie, bietjie maak meer,” was  een van haar gunsteling sêgoed. Sy het die goeie stryd gestry en die wedloop voleindig.  Sy word as ’n eerbare vrou gesien. Haar weeklikse vetkoekverkope het haar suksesvol gemaak.

Om met deeg te werk bring ’n deugsaamheid na vore. En sy word geprys daarvoor.

As die deeg klaar gerys het skuif haar les na die kastrol met die olie.

Sy het net die beste olie vir haar vetkoeke gekoop.  Warm olie mag jy nie vir ’n minuut alleen los nie. As sy gedink het die olie is warm genoeg, het sy elke keer die hitte getoets. Sy toets die graad van die hitte deur ’n klein stukkie deeg in te gooi en dan stadig tot tien te tel. As die bolletjie al borrelend van die bodem opspring tot bo — is die olie gereed vir die bakproses.

Sy wys dan met haar geoefende hande hoe versigtig jy die sag gerysde vetkoekbolletjie moet optel. Die geheim is dat jy die bokant van die bolletjie dan in die warm olie moet sit. Dan wag jy tot dit goudbruin is aan die onderkant voordat jy dit omdraai.  As jy te vinnig omdraai is die vetkoek rou in die middel.  Dan is al jou werk verniet.

“Want ’n vetkoek hou nie van ’n haastige mens nie!”

Dan draai sy die vetkoek om sodat dit aan die anderkant kan bak.  Voor sy dit uit die olie uithaal klop sy dit so liggies met ’n houtlepel. Dit maak ’n dowwe klank. Sy is tevrede en haal dit met ’n gaatjieslepel uit. Die goudbruin vetkoeke word op ’n sif gesit om af te koel.

Ouma Francina was uiteindelik tevrede met my.  Sy was tevrede met vetkoeke.  Sy kon proe daar is opoffering en liefde daarby.

Later kry ek by ’n meesterbakker uit Holland klas. Die wetenskap van gisgebak ontsluit hy verder.  Dit is ’n wêreld wat vir my oopgegaan het.

Vandag bak ons vetkoek by ons kerk hier in Pretoria. Sommer ’n duisend op bestelling. Dit is ’n  groot organisasie. As die deeg rys kuier ons en deel lewensverhale met mekaar.  Ons leer almal dat vetkoekbak jou laat groei van deegsaamheid tot deugsaamheid.

Aan die einde van die verkoping kom die nuweling in die vetkoekspan ewe vrolik vir my sê: “Vanoggend vyfuur het ek daaraan gedink om eerder my attestaat aan te vra…  maar ek is so bly ek het gekom! Ek het my Vetkoek-101 gekry.”

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *