Aartappelslaai

Deur Griet Swanepoel

 “Moenie my weer vra om aartappelslaai te maak of enigiets vir die kerk te doen nie!”So kry ek jare gelede ʼn dwars antwoord as ʼn jong pastoriemoeder na ʼn versoek aan ʼn suster om ʼn bak aartappelslaai te maak vir ʼn funksie. Die ongewone hardheid  het my vir ʼn paar sekondes skoon sprakeloos gelaat.

Haar wyksuster was in die hospitaal en ek het nie geweet van die reëling tussen hulle dat “sy nie gepla wil word met sustersake nie”. Toe trap ek dié Maandagoggend  in ʼn nare slagyster.

Toe ek rustig raak was ek nie seker of dit net hardheid of ʼn diep seer is wat ek in haar stem gehoor het nie… Dié harde “Nee!” was net anders. Die vrou se stem bly dae by  my spook.

Ek weet tog dat die Here altyd ʼn Gideonsbende stuur om die gemeente se wiele aan die rol te hou. Na enige groot projek wat ons in ʼn gemeente aangepak het, was ons altyd in ons nabetragting  stil-dankbaar oor die gawes in mense wat die Here na jou toe stuur vir ʼn besondere taak. Lidmate wie se harte so vol oorgawe en toegewydheid is.

Daarom het die bak aartappelslaai vinnig ʼn ander kandidaat gekry: Iemand wat uitgebrei het oor haar ma se resep.  Haar aartappels kook sy in net een laag op die kastrolbodem. Sy het ʼn groot kastrol daarvoor. Dan is dit almal egalig sag.  Dan trek sy die velletjies af en sny dit in skywe. Dan pak sy dit in lae. Elke lagie kry ʼn mengsel van ʼn bietjie kondensmelk (of warm melk met bruin suiker daarin gesmelt), ʼn bietjie mosterd, mayonnaise, sout, bietjie peper, gerasperde uie en gekookte eier.  Sy is so opgewonde om ʼn bydrae te maak.

Die ander vrou se reaksie bly my hinder. Die gedagte dat ʼn mens met soveel bitterheid en sonder vreugde in die kerk kan wees wou my nie los nie.  Dit pla my só dat ek besluit om haar ʼn week later te skakel vir ʼn afspraak.

Sy klink onkant betrap met my toenadering. Na die derde afspraak wat sy kanselleer, breek daar toe met die vierde probeerslag ʼn sonstraaltjie deur en ek word genooi vir ʼn koppie tee.

“Jy is soos ʼn foksterriër… Jy byt vas,” sê sy en ek weet nog nie of die opmerking  positief of negatief  is nie.  Tog voel ek daar is hoop vir ons twee.

Ek volg haar deur ʼn tuin vol plante en klein fonteintjies.  Rose wat vol in die blom staan, alle kleure en geure. In ʼn hoek wapper daar ʼn tafeldoek met ʼn skinkbord op ʼn kunstige tafeltjie. Woestynrose rank uit teepotte rondom ons.  Selfs ʼn gewone spoelklip lyk anders in haar hand as sy dit optel en neersit.

Sy het ʼn ding oor klippe.  Sy tel dit al jare op en maak dit bymekaar.  Van bo in die Bosveld, Namibië tot in die Wes-Kaap. Haar tuin het ʼn klomp klipstories.

Gaan ek nou met die klippad  tot by haar hartstorie kan kom, wonder ek.

Ek loop versigtig met die kuier en trap met my woorde  soos ʼn mens oor ʼn rivier loop. Ek loop op die punte van my tone van klip tot klip.

“Ek is kwaad vir kerk met sy klomp skynheilige mense.”

Sy kyk na my en verwag ʼn reaksie.

Silence is golden,” kom die oorbekende Engelse spreuk in my gedagtes op en ek bly maar net stil.   Ek drink tee.

“Kerkmense het my lewe vernietig,” sê sy weer.

“Vernietig?” vra ek voor ek kon keer.

Nog ʼn lang stilte.  Ons drink tee en ek sien sy staan by haar gedagtes in stormwater en haar spoelklippe gee haar nie meer vashouplek nie.

“Dit het met my goed gegaan tot jy nou weer vra vir aartappelslaai,” sê sy verwytend, “ek lees my Bybel, ek gaan kerk toe, maar ek drink nie tee nie, groet niemand nie en so gaan dit al jare.”

Die roosgeure waai tussen ons en versag op ʼn manier die koue afsny van kommunikasie wat sy aangekondig het.

Dis ʼn stilte wat só stil is dat dit vir my voel ek hoor haar gedagtes. Later  pak sy met  haar woorde vir my ʼn legkaart uit waarop net een groot woord staan: Smart. Sy beur elke woord uit tussen die trane. Haar lewenstragedie speel voor my af. Ek kom agter die hartseer het al jare gelede gebeur. Soos sy dit vertel het dit geklink soos ʼn maand gelede.  Die wonde is so rou. Haar bitterheid soos ʼn gapende wond.

Sy kyk my aan en ek weet hier kom die naakte waarheid nou.  Dit gaan oor haar enigste kind. Haar lieflingsdogter wat betrokke geraak het in ʼn buite-egtelike verhouding. Sy het ʼn kind verwag. Sy het eers later uitgevind dat die ouderling wat haar kind so heftig van die Nagmaaltafel geweier het, al die tyd  die pa van die kind was.  Die kind is met hartprobleme gebore en het net ʼn paar maande gelewe.  Haar kind het nooit getrou nie. Sy werk nou iewers oorsee. Haar man is in sy graf van al die spanning. Die alleenheid saam met die klippe raak elke dag erger, sê sy.

“Die Here het my in elk geval vergeet”, snik sy.

Daar in haar tuin het ek besef dat haar “Nee!” vir die maak van ʼn bak aartappelslaai eintlik ʼn kreet was vir hulp. ʼn Stukkende seer hart wat in die kerk eers gekwyn het en toe hard geword het.

Ons omvou haar met liefde, ons reël berading. Dit gaan moeilik. Ons gee nie moed op nie. Sy land skielik in die hospitaal. Rondom haar is groot ellende. Gelowiges kom bid vir haar, die personeel sing vir haar. Dit versag die woede in haar.

Haar dogter kom uit Australië vir haar kuier.  Sy herstel goed en herwin uiteindelik haar kragte.  Sy besluit om saam met haar dogter terug te gaan Australië toe… sonder klippe.

Ons gaan groet haar voor sy vertrek. Sy gee vir my ʼn koevert.  Sy het die bedrag daarbuite op geskryf.  Dit is ʼn baie groot donasie.

“Hierdie geld is vir die susters.  Ek hoop dit sal opmaak vir al die begrafnisbroodjies, sop, soetgoedjies vir die tee –  én die aartappelslaai wat ek nooit gemaak het nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *