Het die toekoms ’n kerk?

Deur Prof Stephan Joubert (toerusting gegee tydens die saamtrek van Pretoriastreek,  7 Maart 2015)Kerk/grys

Daar is ’n vervaldatum op kerkwees waar mense se betrokkenheid gemeet word aan hoe gereeld hulle op kerklike terrein opdaag net om die kerkbanke vol te sit. “Betrokke lidmate” kan eenvoudig nie net diegene wees met die meeste “voyager myle” vir kerkbesoek en ander kerklike byeenkomste nie. Die vervaldatum het laas week reeds aangebreek vir gebou-gesentreerde kerkwees, daardie soort wat ’n “veilige” afstand tussen “ons” en “hulle”, tussen godsdienstiges en die res handhaaf.

Gereformeerde gestaltes van kerkwees is wêreldwyd onder druk. In Nederland, waar ons geestelike wortels lê, word daar byvoorbeeld tans 100 kerkgeboue per jaar verkoop. Op 16 Januarie vanjaar het De Telegraaf, ’n groot Nederlandse koerant, ook berig dat ateïste vir die eerste keer gelowiges verbygegroei het: 25% van die Nederlandse bevolking beskou hulleself nou as ateïste, terwyl net 17% nog in die bestaan van God glo. Dieselfde gevare wink vir ons, soos wat ’n studie van Gallup in 2012 oor krimpende godsdienstige betrokkenheid in Suid Afrika aantoon – tensy ons kies om in die voetspore van die stam van Issaskar te volg. Hierdie stam van Israel was daarvoor bekend dat hulle die tyd reg kon lees en dat hulle geweet het wat Israel te doen staan (1 Kron. 12:32).

Voltyds!

Dit sal nie help om op Job se ashoop te sit en huil oor krimpende kerke nie. Of dit om dit te probeer aanspreek met dieselfde soort preke, verslae, kommissies van ondersoek, gemeentevergaderings en kwaai vingerwysings na nie-kerklikes nie. Ons moet dringend ons aandag verskuif vanaf die kerk na die koninkryk van God. Jesus se eerste fokus was nie kerkwees nie, maar ’n lewe in die koninkryk van God. (Sal dit jou verbaas dat die woord kerk net 3 keer in die evangelies voorkom en die woord koninkryk meer as 100 keer?) Ook moet ons ons aandag verplaas vanaf ons na binne-gekeerde beheptheid met geestelike foute en geestelike groei (wat maak dat ons gedurig met geestelike ondersoeke op onsself besig is), na impak, wat ons buitentoe laat leef sodat ons die Here se hande en voete in sy stukkende wêreld kan wees. Ons kan ons in dieselfde asem ophou vra: “Hoe kry ons mense weer terug in die kerk?” en eerder vra: “Hoe kry ons kerkmense terug in die wêreld?” Dis juis daar waar die Here sy kerk as goeie sout en helder lig wil ontplooi.

Dissipelwees in 2015 is ’n werkwoord. Dis ’n volg-woord. Jesus se roepstem is net twee woorde lank: “VOLG MY!” Net dit. Nee, Jesus roep ons nie eerstens om iets vir Hom te gaan doen nie, maar om sy navolgers te wees. Hy roep ons tot dissipelskap. En dit gebeur voltyds. Nie slegs dominees is geroepenes nie. Ook het hulle nie ʼn lisensie op “voltyds in diens wees” van die Here nie. (Dit sou beteken die res van ons werk net skofte vir die Here!) Elkeen wat deur Jesus geroep word, is voltyds in sy diens. Sy roeping vir alle gelowiges is presies dieselfde: VOLG MY! Of jy nou ’n huisvrou, pensioenaris skolier, dominee, of werklose is, jou roeping is om permanent in die voetspore van Jesus te loop. Dissipelskap is om so naby aan Hom te loop dat die stof van sy voete gedurig op onsself spat!

Nuwe identiteit

Om Jesus te volg, is om ’n nuwe identiteit te hê. Nou word ons nie meer uitgeken aan ons CV of aan alles wat ons al bereik het in die lewe nie. Ons enigste identiteit is dat ons voltydse volgers van Christus is. Net dit. Ons dagtaak is slegs ’n vermomming, dis nie ons identiteit nie. (Daarom sê ek graag my CV is een sin lank: “Ek is ’n voltydse volger van Jesus wat vermom is as iemand met ’n paar dagtake!) Christus is ons lewe en ons enigste hoop. Ons verteenwoordig Hom. Ons versprei sy aangename geur.

Straat-oorstekers

Dissipels wat agter Jesus aanloop, is straat-oorstekers. Die Samaritaan van Luk. 10:25-37 dien as ons mentor en rolmodel. Hy het nie die “luukse” van die priester en die Leviet gehad om aan die anderkant verby te loop toe hy ʼn gewonde langs die pad sien lê het nie. God se medelye het sy hart so aangegryp dat hy die straat oorgesteek het. Nog meer, hy het sy hande vuil gemaak met die bloed van ’n onbekende. En sy wyn en olie met hom gaan deel. Ook het die Samaritaan die gewonde op sy rydier gelaai en sy eie geld gebruik om vir sy verblyf te betaal in ’n herberg. Boonop het hy ’n nuwe verhouding met hierdie vreemdeling gevorm deur vir hom weer te besoek.

Die toekoms se kerk is ’n lewendige familie van gelowiges wat hulle identiteit verstaan as voltydse dissipels van Jesus. Dissipels is diegene wat bereid is om hulle dagboeke te onderbreek om ander se laste op hulle skouers te tel. Hulle is die magnetiese, lewende briewe van Christus. Hulle is diensbaar, nederig en vol van die Here se liefde. Hulle samekomste op Sondae is simfoniesale waar hulle God loof; gimnasiums waar hulle geloofspiere sterker geoefen word en hospitale waar beseerdes se wonde verbind word. Maar hulle speel, leef, werk en dien voltyds in die koninkryk van God. Hulle is die ware verskilmakers. Sluit dadelik by hulle aan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *