Redakteursbrief Mei 2015: Jesus sal net so terugkom

 

“God vaar voor die oog met gejuig omhoog;

die trompette blink, die basuine klink:

met ’n groot geskal styg bo berg en dal

God se glorie uit. Laat nou die geluid

van jul psalme hoor: laat ’n jubelkoor

Hom, die Vors en HEER van die aarde, eer!” (Psalm 47: 3; berymd).

 

Liewe Susters in die Here,

Paasnaweek 2015 is verby.  Ons beleef nou weer die sogenaamde Pinkstertyd.  Op Donderdag 14 Mei sal gelowiges in eredienste bymekaar kom om Jesus Christus se hemelvaart te herdenk. Hemelvaart: Toe Jesus voor die oë van sy dissipels (wat daarna sy apostels, genoem is) in ʼn wolk weggeneem is. Dit laat my altyd Psalm 47: 3 in my hart neurie (sien die woorde hiernaas aangehaal).

En dis presies wat moet gebeur: Terwyl ons op Hom wag om weer te kom, moet ons met jubelkore “die Vors en Heer van die aarde eer” en verheerlik. Maar ons mag nie net wag nie, ons moet Hom ook daagliks met ons lewens eer en verheerlik. Ons drie In Diepte-artikelskrywers het hierdie tema ontgin – dit is my gebed dat hulle nadink oor die hemelvaart, ook in jou hart en  lewe weerklank sal vind.

Ons skop hierdie maand af met ons Gemeentekuiers (p. 26-27). In kort kom dit daarop neer dat die blad elke maand by ʼn Gereformeerde gemeente in die land gaan “kuier” – ons gaan kyk hoe doen en dien die susters in daardie betrokke gemeente. Ons gebruiklike brieweblad, word in samehang met die gemeentekuiers, vervang met Lidmaatpraat (p. 3). Ons gaan elke maand 3 susters uit die betrokke gemeente wat “besoek” word, vra om hulle mening te lug oor die tema van die maand en oor die In Diepte-artikels.

En dan het ons nog ʼn nuwigheid bygekry: Die resepteblad. Ons gaan nou maandeliks ʼn resep publiseer. Griet Swanepoel neem verantwoordelikheid hiervoor. Saam met haar dogter, Grietjie Prinsloo, het hulle nie net in hierdie uitgawe vir tamatiekonfyt vir die siel gesorg nie, maar ook vir die maag.

Ons harte gaan uit na Annamie de Klerk, ons getroue boekresensent, wie se pa, Ds. Bouie de Klerk, die afgelope tyd oorlede is. Ons dink ook aan Prof. Ben van Ds. Sê My, want Bouie was sy broer. Watter groter troos kan ons hê as dat Jesus gesê het Hy gaan weg na sy Vader toe juis om vir ons plek te gaan voorberei in die Vaderhuis met sy baie woonplek. Mag die Here deur dié Trooster, naamlik sy Heilige Gees, julle vertroos en versterk in julle tyd van hartseer.

Maar soos wat die ewige siklus van die lewe (mooi) verloop, het die Vroueblad se redaksie ook weer vreugde beleef die afgelope tyd: Wilbrie en Annelize se eersteling, ʼn babadogtertjie, Mieke, is op 21 April gebore. Baie geluk julle twee.  Mag die Here julle seën met die opvoeding van julle Koningskind.

 

Totdat ons weer gesels, mooi loop en leef elke dag met hoop in jou hart.

Cobie Steyn

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *