LIDMAATPRAAT

Ons deel graag Johannie Hanker Verhoef se lidmaatpraat oor die saamtrektema.  Sy sê: “Hier is die gedig wat ek vir die 2015 sustersaamtrek Limpopo geskryf het…”

 

Ek, ons is vrou….

Ek, ons is vrou, kind van God.

Korrels uit sy ewige soutpot.

Sout van die aarde,

meer werd as enige skat.

Dit is ons waarde.

Offers met liefde ingesout

om die lewe én wêreld

te kan heel en reinig.

Wat daarna moet strewe

om met meer kennis

gegeur te word, en nie as

laf tot niet te gaan nie.

Die wêreld met liefde te sout,

met sy liefde, ’n liefde wat

liefde kweek en vrede wek.

 

Ek, ons is vrou…

God se sonverligte maan.

Lig vir ’n duister wêreld.

Ons leef onder die mantel van

die Alomteenwoordige ligbron,

waar geen kwaad onbedek bly nie.

En is ons soms in donkerte, blind,

stap Hy die pad saam met ons

tot by die einde van die tonnel.

Die ewige lig binne.

Ons, sy spieëlbeelde wat

soms weerloos staan,

maar tog nie struikel nie.

’n Lewegewende fontein

waar ons sy heerlikheid,

vrede en regverdigheid,

liefde, seën en genade

waterblink laat skyn.

Om nie op te gee

met ons medemens

voor sy lig in die vensters

van hul siele skyn nie.

 

Hy is die Lig. Hy sout.

Hy kleur en geur.

Ek, ons is vrou….

Wat ’n genade om met

smaak sy lig vir die wêreld

voor te kan hou!

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *