Ek het gedink dit is my trouman…

Dr. Trudie antwoord

Ek is platgeslaan, energieloos en sien nie kans vir die jaar wat voorlê nie. Ek is ’n finalejaar universiteitstudent en was nou vir twee jaar in ’n verhouding. Ek het gedink dit is my trouman. Na ’n  onverwagse rusie het hy ons verhouding  verbreek en bloot vir my gesê hy is nie lief vir my nie.  Ek is blykbaar te beterweterig. Die waarheid is dat ek baie onseker van myself is en die gewoonte het om situasies te regverdig voordat iemand my op my foute kan wys. Vandat ek kan onthou, moes ek myself verdedig.

My ma is oorlede toe ek nog op laerskool was en my pa het gou weer getrou. Ek en my stiefma het glad nie klaargekom nie. Ek dink ek het haar grensloos geïrriteer.  Boonop het my pa, veral toe ek op hoërskool was, altyd haar part gevat as daar spanning tussen ons was. Dit het my baie opstandig teenoor hulle gemaak. Hulle het my seker as ’n “moeilike” kind en ’n groot teleurstelling ervaar.

Vandat ek op universiteit is, gaan ek so min as moontlik huis toe en was daarom so dankbaar vir my vriend wat my aanvaar het soos ek is – wat nou lyk na wensdenkery.  Sal iemand ooit werklik vir my omgee? Hoe kan ek aangaan?

Dit is erg wat met jou gebeur het. Die feit dat jou vriend nie meer in jou lewe is nie, beleef jy op die oomblik nie net as seer nie maar ook as ’n groot verlies. In werklikheid het dit al twee keer voorheen met jou gebeur, met die afsterwe van jou ma en toe jy gevoel het jou pa nie meer daar is vir jou nie. Die feit dat mense jou as beterweterig beskou, het te doen met ’n oorlewingspatroon wat jy van kleins af aangeleer het. Om weer positief aan te gaan met jou lewe, moet jy eers verstaan waar jy jouself bevind.

Jy het waarskynlik as kind nooit die kans of leiding gekry om oor die eerste twee groot verliese in jou lewe te rou nie.  Na jou ma se dood moes jy vinnig aanpas in ’n nuwe omgewing en het jy onwetend al jou rousmart onderdruk. Ook later, as jongmens, moes jou pa se houding jou geweldig seer gemaak het, en dit het jou nog meer opstandig gemaak. Jou pa en stiefma het waarskynlik nie verstaan waardeur jy gaan nie, en gedink dat jy net baie “moeilik” is.

Jy het skynbaar nooit die geleentheid gehad het om jou gevoelens te verwoord,  te verwerk en uiteindelik te verstaan nie. Opstandigheid en hartseer het deel van jou bestaan geword en jy het gevoel dat jy as mens ’n mislukking is. Dit het veroorsaak dat jy stadig maar seker depressief moes word.

  • Gevolglik het jy gewoond geraak aannegatiewe gedagtes omtrent jouself: Vandaar jou onsekerheid oor jouself… jy wonder byvoorbeeld of iemand ooit werklik vir jou sal omgee.
  • Jy het ernstigeskuldgevoelens ontwikkel: Jy dink dat jy ’n groot teleurstelling vir jou ouers was;  jy verdedig situasies byvoorbaat.
  • Jy het waarskynlikuitreageer-patrone ontwikkel: Jy het opstandig geword; jy was ʼn “moeilike” kind; ’n  groot teleurstelling vir jou ouers; jy gaan so min as moontlik huis toe.

Jy kan egter jou negatiewe gesindheid weer ten volle positief draai!

 Daarom raai ek jou aan:

  • Dink diep na en vra jouself af hoe jy so negatief kan wees as jy so belangrik is vir God: Hy het jou, voor die skepping, reeds in Christus uitverkies (Ef. 1:4-6).   Na die sondeval het Christus ten volle vir jou sondes betaal deur Hom nie aan sy Goddelike bestaan vas te klem nie, maar mens te word om die volkome offer te bring deur sy kruisdood (Fil. 2:6-8).  Verder belowe God:Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: moenie bang wees nie, Ek help jou! (Jes. 41:13).
  • Begin deur die dood van jou ma te verwerk. Skryf vir haar ’n lang afskeidsbrief  waarin jy vir haar vertel hoe geweldig moeilik haar dood vir jou as klein dogtertjie was. Skryf alles wat jy daarvan kan onthou neer en ook hoe jy gesukkel het met die verandering in die huis na haar dood. Eindig die brief met ’n aanhaling soortgelyk aan Dawid se woorde toe Hy gehoor het sy babaseuntjie is dood: “Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie”(vgl. 2 Sam. 12:23).
  • Vervolgens moet jy al jou opgekropte woede teenoor jou ouers, jou vorige vriend, en jou reaksies wat daaruit voortgespruit het, erken. Werk daardeur saam met ’n vertroueling totdat jy die groter prentjie van jou lewe kan raaksien.  As jy dan gereed is, gaan na jou ouers toe en bespreek dit met hulle. As die kommunikasiekanale tussen julle weer oop is, moet wedersydse vergewing plaasvind, veral ook voor God.  Jesus sê in Luk. 6:37:Spreek vry en jy sal vrygespreek word.
  • Weier om negatief te wees. Konsentreer op die positiewe. Begin ’n dagboek waarin jy elke oggend al die positiewe dinge wat jy beplan, neerskryf en voer dit uit!  Al begin jy met net een positiewe voorneme, sal jy stelselmatig aan nog meer kan dink. Eindig elke dag jou beplanning met die volgende belydenis:In God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Wat kan ‘n mens aan my doen? (Ps. 56:12).
  • Moenie tob oor jou situasie nie, stel jouself beskikbaar vir vrywillige werk.
  • Eet gesond, oefen gereeld en versorg jouself. Lig dan jou kop op, kyk die wêreld vierkantig in die oë en leef voluit. Jy is God se kind!

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *