Sout en Lig

Deur Jo van Rooyen

ʼn Aand sonder Eskom se krag is baie donker, lank en vervelig, net soos  rys sonder sout of langtand  eet aan soutlose pap by braaivleis. Soms dwing ’n mens se “sosiale gewete” (die maniere wat Ma jou geleer  het) jou om nié die soutpot, wat nié op die tafel is nie, te vra.

Sout is onontbeerlik, in gesonde maat natuurlik, Dokter! Wat is lekkerder as ʼn heerlike stukkie sout, geurige biltong of ʼn varkribbetjie, goed gerook en bedruip met appelkooskonfyt, mosterd en ʼn goeie smytsel sout? Sonder sout is kos maar vaal, laf soos my ma sou gesê het, laf soos ʼn aand in vervelige geselskap.

ʼn Pot kokende konfyt sal nooit sy lê kry in sy mooi flessie op die spensrak,  sonder daardie Leipoldt se knypie sout, net om die geur uit te bring. Die knypie sout laat appelkoos homself in die soetigheid identifiseer en  maak vyekonfyt nog meer onweerstaanbaar. Alles, van ingelegde perskes tot pampoen, verdien sy knypie, of dalk meer, sout. Daardie troosknypsel  sout moet ’n mens nie kan proe nie, maar laat dit uit en jy weet dadelik dat dit nie daar is nie!

Sout se werk is om die geur van kos na vore te bring en die smaak te verbeter. In kos is  sout onsigbaar, nie soos ʼn dapper dosis kerrie of borrie wat duidelik hul toevoeging verkondig op tong en oog nie. Sout is die onsigbare geurversterker van alle disse. Jy sien dit nie, maar proe die afwesigheid dadelik.

Sout is witgoud, waardevol en nuttig. Dit  het eeue se matrose op die wye, woeste oseane aan die lewe gehou deur  die vleis te bewaar teen bederf,  is selfs gebruik om wonde te reinig. Om sout in die wonde te vryf was dalk nie altyd dus net sleg nie!

Sout verryk ons kos én taal: Van aardse, eenvoudige mens sê ons: Hy of sy is die sout van die aarde.  Of van ʼn goeie of ʼn waardevolle mens sê ons: Hy is sout werd! Is ek vir God sout werd?

Die rede vir my, vir ons bestaan op hierdie aarde is om God se sout te wees en om in en deur sy Lig, ook lig te versprei. Soos die onsigbare sout in kos die smaak verbeter, so moet ek as uitverkore kind van God sy geur versprei. Ek moet ʼn verskil maak. Deur sy lig kan ek die verderf sien wat sonde bring en slegs  sy sout, sy genade en sy almag  kan hierdie verderf teenwerk. Lig verdring tog die donker en sout bring die goeie geur na vore.

Ek is hier op aarde geplaas as sy instrument, sy sout en sy lig. Die lig wat ek ontvang van die Heilige Gees, daardie Lewenslig wat my lei in hierdie lewe en lei na die ewige lewe, mag ek nie onder ʼn maatemmer bêre nie. Dit mag nie onbenut toegelaat word om sonder suurstof te kwyn en uiteindelik te sterf nie. ʼn Kers onder ʼn maatemmer,  sonder  suurstof  gaan dood – net soos die flikkerende vlammetjie van die mynwerker van ouds se kers of lamp wat  gewaarsku het teen die gebrek aan suurstof in die myn. ʼn Lig is nutteloos  sonder ʼn kragbron. As Eskom nie voorsien nie, is ons in die duister gedompel. As die vlammetjie nie suurstof kry nie, gaan hy dood.  Ons geestelike Kragbron is  Christus.

Glo, bid en delf in die skatkis van sy Woord sodat die sout nie laf word en die lig nie  sal kwyn nie.  My lewe moet die lewende geur van God se sout  versprei. Onsigbaar, maar sigbaar in my omgang met mense. Sout wat ongebruik bly staan raak laf, verloor sy kwaliteit en word nutteloos.

Deur Christus se kruisdood, die versoening wat Hy gebring het, deur uitverkiesing het Hy van ons sy instrumente gemaak. Uit dankbaarheid moet ek  ʼn ligdraer en geurverspreider wees. My lewe, dade, verhoudings moet soos onsigbare sout, die geur van Gods Woord bring in die lewens van my medemens. Sy Woord, sy lig moet deur my sigbaar word. My  lewe  moet  gegeur word  deur die lewende sout van sy Woord sodat ek nie  sout  is wat laf geword het, nutteloos vir God en mens nie. Sy krag is my krag.

Sy lig  moet bly brand om my voete op sy pad te hou (Ps. 119). Sy Woord laat my dink aan ʼn helder brandende ligtoring wat waarsku teen die rotse van die sonde wat op ons lewensvaart lê. Sy Woord bring afgedwaaldes weer terug, trek hulle nader en  lei hulle op  die pad wat God vir hulle uitgestippel het. Indien die lig van die Here se Woord nie in my brand nie, sal ek nie  die verderf wat sonde bring nie sien nie, sal ek struikel in die donker en self geen lig versprei nie.

Mag sy lig ons lig wees, dié Lig wat ons pad verlig.  Mag ons ook lig wees vir dié wat met ons saamstap.

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *