Gesprek met Kinta oor Christus se oorgawe

Deur Kinta se Ma (skuilnaam)

Kinta spring in die kar nadat sy haar tas op die agterste sitplek neersit en druk ʼn CD in die speler.

Ma, ek is so dankbaar dat ons musiek luister wanneer ons rondtes in die kar doen. Saartjie moes vanoggend vir 20 minute RSG luister omdat haar ouma haar skooltoe gevat het. Saartjie sê ʼn ou het gepraat van Suid-Afrikaners wat “swoeggeeste” is en sy grap toe dat ons die woord in ons volgende opstel gebruik… (Kinta lag half sinies).

Kinta, dalk sal julle bonuspunte kry vir die regte gebruik van so ʼn mooi woord, ek dink jy moet meer RSG luister (ek knipoog in haar rigting).  Volgens my is dit egter onnodig dat omroepers sulke veralgemeende stellings verkondig. Daar is verseker ʼn groot gedeelte van ons land se inwoners wat ʼn sukkelbestaan voer, maar dis dan wanneer ons as Christene se Godgegewe taak moet inskop met omgee en ondersteuning.

Weet Ma, daar is kinders wat nooit kos of snoepiegeld skool toe bring nie? Ek het al gewonder of hulle nie op pad skool toe by die kerk kan stop vir toebroodjies by die sopkombuis nie? 

 Jy weet, die mense wat by die sopkombuis aandoen stel glad nie belang in ʼn Bybelles of ʼn vaardigheidsessie terwyl hulle nog honger is nie.  Al waaraan hulle kan dink is hul hongerte.  Stel jou voor: Jy moet opstaan en skool toe gaan met net die water wat jy drink wanneer jy jou tande borsel?

Haai, ek’t nog nie eers my appel geëet nie,  want ek moes tweede pouse na ʼn vergadering vir die hokkietoer gaan. (Kinta duik agtertoe, krap in haar tas en begin aan die appel  smul. Sy druk die dubbelpyltjie om 2 snitte oor te slaan en “Amazing Grace” begin speel). Sal Ma my asseblief vanmiddag my help met begeleiding as ek hierdie stuk op die viool moet inoefen vir die Paasuitvoering?

Natuurlik!  Is dit nie ʼn absolute gepaste lied vir Paastyd nie? (Kinta neurie die koorgedeelte saam)

My chains are gone, I’ve been set free.

My God, my Saviour has ransomed me.

And like a flood His mercy reigns unending love, amazing grace. 

Onthou Ma toe julle die naweek vir julle anniversary Drakensberge toe gegaan het, het ek by Oom Adri hulle gaan bly? Ek wou ma nog vertel van die nagmaal wat ek saam met hulle beleef het dié Sondag.

 Ja? Laat ek hoor!

Die dominee  het gepreek uit Efesiërs 4: Hy het gesê dat die gemeente een liggaam is en klem gelê op die feit dat die gemeente slegs een liggaam kon word op grond van die liggaam se hoof, Jesus Christus, wat Hom in gehoorsaamheid oorgegee het aan sy Vader, neergedaal het aarde toe en sy lewe vir ons afgelê het aan die kruis. Die brood is die teken van die gemeenskap wat ons het met die liggaam van Christus en die wyn is die teken van die bloed van Christus wat gevloei het sodat al ons sondes vergewe kon word. Ek het daardie Sondag weer sterk onder die indruk gekom van die lyding wat Jesus vir ons moes deurmaak. Ek weet darem nie of ek bereid sou wees om mý lewe so oor te gee vir ander se foute nie.

 Dankie dat jy dit met my deel Kinta. Paasfees is vir my die belangrikste tyd in ons geestelike almanak en om dan ook Nagmaal te gebruik beklemtoon dat Jesus Homself vir ons sondes aan ʼn kruis laat spyker het. Dit bring ons terug by Saartjie se swoeggeeste. Wie is ons om te kla oor swoeg en sweet, as ons na die kruis kyk en na wat Jesus moes deurgaan ter wille van elkeen van ons se redding sodat ons nou alreeds deel kan hê aan die ewige lewe?

Iewers in my boonste kas waar ek my memoires bêre is die armbandjie WWJD, Ma weet mos nog dis die afkorting  vir What would Jesus do? Dalk moet ek dit vir die Paasuitvoering dra om my te herinner dat ek soveel meer kan doen om  Jesus se voorbeeld na te volg, en om te onthou dat ek ook baie het om voor dankbaar te wees.

Dis ʼn goeie idee, dan is dit sommer ʼn aanknopingspunt om te getuig van wat Jesus vir jou beteken. En wat gaan jy doen oor die honger kinders by die skool?

Sal Ma ekstra broodjies pak dat ek dit vir van hulle kan gee?

Nee, maar jy kan. Onthou net dat  jy die oorhandiging diskreet moet doen. Jy wil nederig, soos Jesus, in liefde die mense om jou dien. Nie soos die Fariseërs om gesien te word nie. Die kuns is dus dat dit ʼn hand-out en nie ʼn hand-down moet wees nie.

Wat bedoel Ma?

In Lukas 10 stuur Jesus 72 dissipels uit om nuwe dissipels te gaan maak. Hy gee vir hulle 4 instruksies en in ons haastige lewe eindig ons dikwels deur net te gee in plaas daarvan om ook om te gee.

So, wat is die 4 instruksies?

Die eerste opdrag is in vers 5 “As julle in ʼn huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis’”. Hoeveel keer gee ek net ʼn R5 vir die bedelaar, sonder om ʼn naam te vra, of te glimlag?

Dan gaan Jesus oor na die tweede opdrag  (verse 7-8) en sê dat hulle saam met die huismense moet eet, so vergewis  jy jou van hulle en hul nood.  Dit lei dan tot die derde opdrag “maak die siekes gesond” wat ek interpreteer om mense se moeilike en soms haglike omstandighede te  help verlig.

Ja, maar dis net 3 opdragte?

 Kyk nou na vers 17 dan sien jy wat gebeur as die dissipels terugkom – hulle getuig van die wonderwerke wat gebeur het en wat Jesus deur hulle kon doen.

Great! Dink Ma, ek kan dit as boodskap tydens saalopening gebruik?

Ja, met jou WWJD bandjie aan jou arm, maar veral met daardie gesindheid in jou hart. Kom ons gaan oefen Amazing Grace…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *