Die kameel, die naald en die ryk man!

Deur Jo van Rooyen

Die liewe geld, goud en goeters! Almal wil op een of ander stadium, saam met die ou vioolspeler op die dak, sing:  “If I were a rich man…”, veral rich woman!  Die glinster van ʼn vol koffer kan baie aanloklik wees. Dink net, om te koop sonder gewetenswroeging . Dis enige vrou se droom!

Dis so maklik, as jy self genoeg het, om te verklaar dat geld niks beteken nie, maar vir die een daarsonder kan die lewe maar moeilik wees.Honger kinders, dakloos teen die elemente en die lewe is ’n probleem. Die samelewing eis van jou as burger geld. Jy moet tog aan die keiser betaal wat hom toekom.

“Geld is nie alles nie” word gesê “maar dit is baie gerieflik”!  Hierdie gerieflike  rykdom, aardse rykdom word gemeet aan geld en goed, aan geld wat nog meer goed kan koop, maar jou kis het nie sakke of ʼn kluis nie!Daar is ʼn rykdom wat jy met jou kan saamneem .Die onverganklike rykdom van God ontvangkoop vir jou  die ewige lewe   Op 3: 17, 18  Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word,”  skatryk, omdat Christus vir ons gesterf het en so alle rekeninge vereffen het.

“Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom” het  Christus gesê.  ’n Moeilike stelling om te verstaan. Daar is ’n storie wat die  stelling probeer verduidelik. In die stadsmuur om Jerusalem, word beweer,was daar  ’n  klein, lae, poort met die naam “Die Oog”, ’n soort van nood toegang. Om ’n  vrag deur hierdie poortjie te kry moes die handelaar, die ryk man, die kosbare vrag van sy kameel se rug aflaai voordat die kameel, op sy knieë, deur die poort sou kon gaan. Vir my is die verhaal , waar of onwaar,simbolies van wat van ons geëis word, rykes en armes.

Werp jou aardse vrag, jou rykdom , groot of klein, eenkant toe, gaan op jou knieë in verootmoediging, nederig voor God  en deur Sy genade en vryspraak  sal jy  die koninkryk binne kan gaan.Dit is nie dieaardse rykdom wat die ryk man toegang tot diekoninkryk weerhou nie, dit is die gebruik van sy rykdom en sy gesindheid, sy verhouding met God.Materiële rykdom kan ʼn struikelblok wees as dit jou lewe oorheers, die middelpunt word, dan kan die kameel nie deur die oog kom nie. Aardse goed mag nooit prioriteit in jou lewe wees nie. Verwerf dit, geniet dit maar met die oog altyd op God gerig, die gewer van alles wat jy het.

Verryking, ware verryking word nie gemeet aan die vrag op jou kameel se rug nie. Die rykdom wat God jou bied koop vir jou veel meer as dit wat jou kamele kan dra. Dit koop vir jou vryspraak, ʼn oorwinning oor die dood, ʼn ewige lewe. Ware rykdom is om God, die enigste God,  te dien en hier op aarde ʼn lewende deel van Sy uitverkore volkte wees, om deel te wees van Sy kerk op aarde en saam met geesgenote Sy taal te praat,  nie ʼn eensame syfer op ʼn bankstaat nie!Hierdie ewige verryking sal nooit op bankrotskap uitloop nie. Dit laat jou toe, nee dwing jou, om te deel en te deel uit ʼn vol koffer wat, soos die arm weduwee se  kruik, nooit leeg sal word nie.

Christus vra dat ons alles in die stryd  moet werp om ons geloof te verryk deurvortdurende soeke na kennis . Deur deugsaamheid, liefde,naastediens. Dit vra dankbare aanvaarding van Sy uitverkiesing en  volharding in geloof deur Sý liefde en genade, met die ewige hoop op Homgevestig.

Om ryk te word eis werk, of dit om goed of  om God gaan.  “Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word”. Om te delf, te soek, te dien en voortdurend met God in verbinding te wees deur gebed, bring daardie verryking wat meer en meer word.

Indien die kontak verbreek word dryf jy verder en verder weg en word geestelik armer en armer. Iets wat nie gebruik word nie verval geleidelik . Soeke na sy wil bring ligvir die pad wat ons moet loop, ʼn pad met klippe besaai,  bruisende riviere. Almal loop dieselfde pad, maar verryk in God, drink jy lawende water uit die  bruisende riviere en staan jy op na elke struikel.Jou vrag, jou rykdom dra jou. Sonder Sy lig,strompel jy doelloos voort, verswelg die riviere jou en bly jy moedeloos lê na elke val. Word jou rykdom ʼn las.

Laai dus jou kameel met die verrykende geskenke wat God jou gee sodat jy nie nodig het om  jou vrag af te laai om deur Die Oog te kom nie. Ryk in God,skatryk.

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *