Christus se oorgawe om my ontwil.

Deur Jo van Rooyen

Kan ons met kinderlike oorgawe en vertroue, ons aan ons Here oorgee? Oorgawe is nie iets wat ’n mens maklik regkry nie…

Ek sien hoe ʼn uitgelate  klein dogtertjie by die see, oorweldig deur die heerlikheid van die groot blou swembad, uit haar pa se arms reguit see toe storm –  daar was by haar geen druppeltjie vrees of twyfel nie. Die pappa het haar met ʼn breë glimlag agternagesit, haar opgeraap in sy arms en haar deur die blou golfies geswaai.

Toe sy weer grondvat storm sy, met net soveel oorgawe, reguit na haar grafie en emmertjie  en gee haarself oor aan die towerkrag van die eindelose sand.   Met totale oorgawe speel  sy  onder die wakende, liefdevolle oë van haar pa. Op haar kleinmensie-manier leef sy in oorgawe, séker daarvan dat haar pappa haar sal beskerm.

Kan ons met soveel  kinderlike oorgawe en vertroue, ons aan ons Here oorgee? Oorgawe, dink ek toe, is iets wat ’n mens nie maklik reg kry nie. Soms gebruik ons die woord ligtelik, maar kén ons wáre oorgawe?  ’n Mens beoefen jou stokperdjie met geesdrif.  Geniet kuiertjies met vriende en geliefdes. Jy werk ywerig vir jou kerk en woon die eredienste getrou by. Jy bid eerbiedig tot God. Soms pleit jy in diepe kommer voor God. Tog, êrens op die agtergrond, is daar altyd die sondige mens, wat oorgawe belemmer.

Oorgawe aan God beteken verwerping van die wêreld.  Dien ons God in ware oorgawe? Hoe ver sal ons kan gaan en wat sal ons kan verduur in die naam van ons Vader? Sal ons om sy naam ontwil  wérklik kan ly? Kan ons ware lewende offers wees?

Jesus Christus het  om ons ontwil, Homself  in totale oorgawe oorgegee aan die wil van sy Vader.  God, in sy eindelose, onverstaanbare genade, het sy Seun  oorgegee om geoffer te word sodat daar versoening kan kom tussen die Skepper en sy skepsels. Anders as met Abraham en Isak, was daar vir God se Seun nie ʼn ander uitweg nie: Christus móés geoffer word.

Jesus Christus  het mens geword, toe Hy,  in opdrag van sy Vader, aarde toe gekom het. Reeds met sy geboorte is sy totale oorgawe aan die wil van sy Vader bewys – dit was die begin van sy lydingspad wat sou eindig in die wrede kruisdood.  Jesus moes die sondigheid van die wêreld, die haat van mens teenoor mens, beleef en ook die versoeking van die duiwel  ervaar.  Lyding ter wille van ons: “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ʼn vervloekte te word” (Gal. 3:13).

Hy het die toorn van God wat op ons gerig moes wees, namens ons gedra.  In oorgawe aan die wil van sy Vader het Hy namens ons in die beskuldigdebank gestaan  sodat ons die oordeel kon vryspring.  Hy was in alle opsigte die stille Lam ter slagting: Seun van God, Heilige, verag, verraai deur sondaars,  wat die vernederende kruisdood van ʼn misdadiger moes sterf  aan die hand van sy eie mense omdat  God dit so bepaal het.  En aan die kruis die finale woorde van oorgawe: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor”.

Met elke Nagmaalsviering word ons herinner aan Christus se totale oorgawe aan die wil van God om versoening te bring en om die dood vir my te oorwin.  Christus se oorgawe het vir my ewige hoop en die ewige lewe gegee.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *