Niks maak meer vir my sin nie. Sal dinge ooit weer regkom?

Dr. Trudie antwoord

Ek is so ontnugter! Die lewe het vir my totaal sinloos geword.  

My ouers is albei professionele mense in die mediese rigting en dit was hulle sowel as my absolute ideaal om in hulle voetspore te volg.  Ek het so hard gewerk in my matriekjaar, maar dit was tevergeefs.  Hoewel ek universiteitsvrystelling gekry het,  kon ek nie toelating kry om medies te studeer by die universiteite waar ek aansoek gedoen het nie. My wiskundepunte was nog te laag. Dit was vir my ʼn groot vernedering. Ek dink nie ek sal ooit daaroor kom nie. Ek is so teleurgesteld in myself en voel ʼn totale mislukking.

 Ek doen nou administratiewe werk by ʼn ouditeursfirma  in ons dorp, maar weens my gebrek aan ervaring en tekort aan entoesiasme is ek elke dag in die moeilikheid by my baas. Ek maak soveel foute en voel so dom. Dit voel asof ek niks beteken nie en daar is nie veel van my selfvertroue oor nie. Nou is ek bang vir mense en kry soms skielik geweldige hartkloppings, selfs as ek tussen my ou vriende is. Niks maak meer vir my sin nie. Sal dinge ooit weer regkom?

Ek kan verstaan dat jy op die oomblik heeltemal verward kan voel…  Die feit dat jy nie toelating vir medies gekry het nie, was vir jou geweldig traumaties.  Dit klink of jou hele toekomsbeeld, gevoed deur jou ouers se verwagtinge, net om jou toekomstige suksesvolle mediese beroep gedraai het.  Die werklikheid is egter dat jy, sowel as die lewe, soveel meer is as net een mislukking!

Jy mag nie toelaat dat hierdie gebeure jou hele lewe beheer nie….  God het jou as unieke wese geskep met jou eie unieke talente en gawes.  Jy mag dit nie begrawe nie.  Daar is soveel ander rigtings wat jy kan kies waarin jy groot sukses kan behaal, en waar jy baie gelukkig kan wees. Jy weet mos ʼn mens is nooit te oud om  nog by ʼn tersiêre instelling in te skryf nie. Jy kan selfs deur afstandsonderrig klein begin en groot eindig by sommige universiteite. Laat ʼn professionele persoon jou deeglik toets met die oog op ʼn beroepskeuse wat by jou  pas en waarin jy baie gelukkig kan wees. Skep vir jou ʼn nuwe ideaal en poog met alles wat jy het om daardie ideaal te bereik.

Jou huidige gemoedstoestand is egter vir my ʼn groter bron van kommer… Veral die feit dat die lewe vir jou sinloos geword het.

Ons wêreldbeeld en die voorveronderstellings waarmee ons grootword, moet soms in skerwe val, sodat ons kan weet dat God in beheer van ons lewens is, en dat ons totaal afhanklik van Hom is.  Hy het nooit belowe dat alles net goed sal gaan met ons in hierdie teenswoordige bedeling nie. Inteendeel, soms moet ons, wat so geneig is om selfgesentreerd te wees, juis geweldige struikelblokke oorkom om minder te word, sodat God meer kan word in ons lewe. Ons het soms ʼn visie van hoe ons wil lewe, terwyl God die enigste Een is wat weet wat ons régtig nodig het in ons heiligwordingsproses.

Om met die sin van die lewe te worstel is so oud soos die gevalle mensdom self… Vergelyk in hierdie verband die voorbeeld van God se ingrype in die lewe van  gelowiges in die Bybel wat na sekere situasies ook gedink het dat daar nie meer vir hulle sin in die lewe is nie soos Moses, Job, Elia, Jeremia, en Jona (vgl. Num. 11; Job 6:8-9, 42:2; 1 Kon. 19; Jer. 20 en Jona 4).

Telkens het God hulle gelei om weer sy groot plan raak te sien, al was elkeen se geval uniek. En onthou God is onveranderlik, wat Hy toe gedoen het, doen Hy nou nog.

Jy moet verder onthou dat jy nie bloot die resultaat van jou ouers se gene is nie… Jy is ʼn kind van God!  Hy het jou kunstig in jou moeder se skoot aanmekaar geweef…   Jy is op ʼn wonderbaarlike wyse geskape (Ps. 139:13-14).  Daarom is daar niemand anders van die biljoene mense op die hele aarde soos jy nie.

Jy is uniek. God het jou baie lief. Hy het al voor die skepping besluit om jou deel te maak van sy “groot plan” (Ef. 1: 4-5  en Kol. 1:16). Verder belowe Hy jou dat niks jou uit sy hand sal ruk nie (Joh. 10:28-29).  Daarom het Christus, self God, mens geword om uiteindelik die hoogste offer vir jou aan die kruis te bring, sodat ons in Hom vry kan wees van hierdie stukkende en gebroke wêreld (lees Kol. 1:15-20). Dit is die enigste ware sin van die lewe en daarop moet ons ons lewe bou.

Meer prakties:

 Skryf Jesaja 41:10 neer, plak dit op spieëlkas of teen jou muur, en lees dit gedurig deur, totdat jy die vers uit jou kop uit ken.

  • Kry jou prioriteite reg. Maak stiltetyd jou hoogste prioriteit. Onthou die gebed van ʼn regverdige het groot krag (Jak. 5:16). En as jy nie weet wat om te bid nie, het jy die troos dat die Heilige Gees vir jou intree met onuitspreeklike versugtinge (Rom. 8:26). Begin dan ʼn gebededagboek waarin jy al jou vrese en bekommernisse aan God bekend maak en die vrede wat alle verstand te bowe gaan sal oor jou kom (Fil.4:6-7). Soms is dit makliker om dit neer te skryf.
  • Onthou, die werk wat jy nou doen, besit jou nie. Soek en skep die geleenthede wat jou weer ʼn vervulde lewe kan gee. Die Here open deure op sy tyd, vir dié wat op Hom vertrou.
  • Kry ʼn stokperdjie waarvan jy baie hou, dit sal jou aandag van jou werksituasie aftrek en jou laat ontspan.
  • Breek soms net weg om in die natuur te gaan stap en die natuur te beleef. Dit bring jou nader aan God en gee jou weer die regte perspektief op die lewe.
  • Maak ʼn lys van alle opwindende en positiewe dinge wat jy nog wil doen, en doen dit!
  • Gaan kuier by vriende waar jy aanvaar voel en waar daar ʼn positiewe atmosfeer heers. Moenie jou onttrek van mense nie. Sluit by ʼn Bybelstudiegroep van jou gemeente aan.
  • Gaan vir ʼn deeglike mediese ondersoek en kry hulp vir jou angsaanvalle en hartkloppings.
  • Versorg jouself. Eet gesond en kry genoeg oefening.  Jou liggaam is ʼn tempel van God.
  • Kyk die lewe vierkantig in die oë, wees trots op jouself, want jy is duur gekoop en daarom baie kosbaar. Onthou God is in beheer.  Baie sterkte!

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *