Die Pous se sous

Deur Griet Swanepoel

“Om te kan gee is goed vir jou siel,”  só het my plaasouma my jare gelede geleer as sy groente, beskuit of ’n karmenaadjie inpak as hulle  vir iemand gaan kuier – of as sy ’n ekstra bord kos vir iemand in die louoond bêre.

’n Onverwagse pakkie van oudlidmate laat my weer dink aan my ouma se woorde.   Die gevoel van omgee tussen vriende het vandag in die vorm van ’n sakkie tamaties gekom.  Die pakkie en ’n kaartjie is by ons afgelewer.

Saam met die Nuwejaarswense skryf hulle: “Die tamaties is vir die Pous se sous!”  Dié woorde bring ’n era se stories in my gedagtes op.

Tamaties is rooi goud in ons huis.  Want my man maak sous.  Vir party mense is dit ’n tamatie-en-uie-smoor of ’n tamatiebredie.  In ons huis het dié sous al baie name gehad.

As ’n mens so lief is vir braai – soos my man –  dan word daar beplan.  Dit is so maklik  soos een, twee, drie of volgens sy resep: vuur, vleis en pap  (want daar is altyd sous in die yskas).   Hy het begin om sous  vooruit te maak om  dus altyd vir ’n braai paraat te wees.

In ons eerste gemeente  was sy sous se naam : Dominee se geheime sous.   In dié geheim was daar altyd ’n verrassing opgesluit:  Soms was dit ’n knoffeltjie, ’n  pepertjie, of dalk ’n groenrissie.  Jy het nooit geweet wat kom nie…  Een ding was seker, die sous was uniek en nie uit ’n  blikkie nie.

In ons volgende gemeente  word sy sous toe gedoop: “Die pous se sous”  en dit word gou ’n instelling.   As daar ’n funksie is maak my man sous.

Tóé kom daar ’n nuwe versoek.   Hulle soek ’n brandsous met skop.   Die “Pous se sous” is reg vir die vrouens en die kinders…

“Maar wat dan van die manne?”

Hy doen sy navorsing,  dit is vir hom ’n nuwe uitdaging.  Die nuwe brandsous word toe (na ’n proesessie) “Vreesloos” gedoop!

Dié naam het alles gesê.   Dit was erger as al die brandsouse in die omgewing.  “Erger as lang Stefaans se ‘Ratelslangspoeg’  en tannie Annie  se ‘Duiwelsklou’,” het hulle my in die geheim vertel.

Vreesloos”  het ’n groot opskudding veroorsaak toe dit die eerste keer  as ’n ekstra sous by een van ons destydse basaars bemark is.    Enige persoon wat dit as ’n onskuldige sousie op hulle worsbroodjie gegooi het se oë het wit gerek as dit die eerste mangel getref het.

Dié sous was net vir die dapperes van die dapperes beskore…  Manne met harde baarde wat kon sweet en nog ’n happie kon skep vir daardie wit-brand gevoel.  “Vreesloos” was ’n vuur wat nie deur water geblus kon word nie.  Dit het geloop soos lawa.  Die manne het geglo dit smelt  die cholesterol weg  en vernietig al wat ’n kiem is.

As mense tóé kom kuier het, het hy graag vir hulle ’n botteltjie sous as ’n geskenk gegee.  Jy kon kies of jy die “Pous se sous” of “Vreesloos” wou hê.    Die trofee-jagters het klokslag almal ’n botteltjie  “Vreesloos” gekies.

“Het jy gesien ons het ’n sakkie tamaties gekry?” vra my man toe hy sien ek staan met die kaartjie in my hand.

“Ek gaan daarmee ’n groot pot sous maak vir Vrydagaand se ouderlingebraai,” sê hy opgewonde.

Vreesloos” of “Die Pous se sous”?” spot ek hom ’n bietjie.

Hy maak sy sous soos ’n  spesialis.  Hy werk metodies en alles word perfek in ewe groot  blokkies gesny.   Terwyl hy tamaties sny kyk hy na die kuifkophoutkapper wat in die moerbeiboom voor ons kombuisvenster kom sit.   Dié houtkapper kry  die skilletjies.  Die harde stukkies gaan in die komposblik.

Die sakkie tamaties se  vreugde rek  verder en verder.  Daar bly ook tamaties oor om later nog sous  vir ’n  paptert vir die diakoniebraai te maak.

Ons ouderlinge en diakonie geniet die braaivleiskuiers.  Almal kuier so lekker saam.  Die souspot is leeg en die paptert krimp tot ’n lekseltjie in die pan.

Met een omgee-sakkie tamaties het ons so baie reggekry.   Ons het dit gekry en weer uitgedeel.

En ek is dankbaar dat ek al die omgeelesse van kleins af kon leer: Ontvang en gee en ontvang is ’n  hand-aan-hand verrykende ervaring om gelowiges in ’n deurmekaar wêreld aan mekaar te bind.

Ek het amper vergeet om dankie te sê! Ek stuur daar en dan vir ons vriende ’n  selfoonboodskap:

“Dankie vir die sakkie tamaties.  Die Pous het toe sous gemaak!”

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *