Dra mekaar se laste

Deur Jaai du Plessis

Met Christus se hemelvaart is ons nie alleen gelos nie. Die Heilige Gees is by ons. Hy is ons Trooster. Tog moet ’n mens nooit dink dat jy niemand se hulp nodig het nie, of dat jy nie onder ’n verpligting staan om ander te help nie. God gebruik hulle om jou te help, en jou om hulle te help en by te staan. As ’n mens besef dat jy op hierdie manier ’n instrument in God se hand is, dat dit eintlik Hy is wat die werk deur jou doen, dan laat dit jou besef wat jou verantwoordelikheid teenoor jou naaste is. Jou totale optrede teenoor ’n ander persoon moet as’t ware ‘n demonstrasie van God se liefde gee ( vgl. Die Bybel in Praktyk;  p.1819).

Die opdrag is eenvoudig, maar die uitvoering daarvan baie ingewikkeld. Vir sommige persoonlikhede is dit moeiliker as vir ander. Twee voorbeelde uit die werklike lewe kan dalk ’n kersie opsteek waar die meeste van ons maar in die duister rondtas.

Geval 1: 

Santie kon haar Tannie Aga se verwysings na haar klein ou gesinnetjie nie langer verduur nie en het haar daaraan herinner dat sy vier kinders sou gehad het as twee nie gesterf het nie. Tannie Aga was baie verbaas, maar sê toe sy verstaan presies hoe Santie voel. Santie moet net onthou almal verloor soms iets. Sy self het haar beweeglikheid byvoorbeeld verloor, en neef Helmuth die meeste van sy geld. Sy redeneer toe dat Santie regtig nie so sleg moet voel nie, want dit is tog die Here wat besluit wie lewe en wie nie. Alles gebeur presies soos wat die Here dit wil hê en Hy beheer ook die natuur wat ontslae raak van dié wat nie heeltemal “reg” is nie. Die Here het self gesê: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, gaan lees dit maar in Matt. 8:22”.

Al was dit wat Tannie Aga gesê het seker waar, by liefdevolle empatie kon sy nie uitkom nie.

  • As jy te doen kry met ‘n babasterfte, eintlik enige krisis, is dit baie belangrik dat jy jou nie slim sal probeer hou nie.
  • Moenie die situasie gebruik as platform om jou siening van wat die Here poog om te doen, en hoekom, aan die beproefdes te probeer opdis nie. Daar is geen manier hoe jy kan weet wat sy “wat” en sy “hoekom” is nie. Moet veral nie lukraak en onsensitief Bybelversies aanhaal om gewig aan jou sienings te verleen nie.
  • Moenie sê: “Ek verstaan” of “Ek weet hoe jy voel” nie, want dit is eenvoudig nie waar nie. Selfs al het jy al iets soortgelyks ervaar sal die ander persoon nie presies voel soos jy gevoel het nie want ons is elkeen uniek.
  • Moenie die intensiteit van die smart probeer afmaak as iets onbenulligs nie  – dit kan jou dalk minder ongemaklik laat voel maar sal niks bydra tot die beproefde se welsyn nie.

Geval 2:

Hannes en Lena se babaseuntjie sterf binne ’n week na sy geboorte. Hulle is platgeslaan. Hy was hulle derde seuntjie, en die derde om so te sterf. Hulle dogtertjie, die agtjarige Adriana, is skool toe. Met uitkomtyd sien Oom Frans (’n familielid) Hannes is nog nie daar om haar te kom haal nie, en besluit om Adriana gou eers na haar ouerhuis toe te neem. Daar aangekom tref hulle die verslae Hannes daar aan wat pas met die nóg meer verslae Lena van die hospitaal af by die huis aangekom het.

Oom Frans se stem het vir Adriana net so vreemd geklink soos sy woorde toe hy vir haar ma sê: “Julle… ou watertjie… was maar diep, né?” Adriana en haar pa het styf teen mekaar gestaan en sy het verwonderd toegekyk hoe die reus van ’n Oom Frans haar ma heeltemal toevou in sy arms en roerloos staan terwyl sy stil trane weerskante oor sy wange loop, by sy ken afdrup en in haar ma se blonde krulhare val en verdwyn. Hy het so met haar bly staan totdat haar skouers nie meer geruk het nie en sy opgehou het om te bewe.

Hy het niks meer gesê nie. Niks meer gedoen nie. Dit was nie nodig nie. Dit wat hy op daardie stadium vir die bedroefde gesin kon doen, het hy gedoen:

  • Hy het na Adriana omgesien toe Hannes by Lena moes en wou wees.
  • Hy het in sewe woorde erkenning gegee aan die diepte van hulle smart.
  • In hulle familieverhouding was vashou om te troos 100% van pas.
  • Met sy beheersde emosie het hy tog ’n mate van kalmte gebring tydens die eerste uiters moeilike tuiskoms sonder die baba en die aanskoue van die wiegie en die kleertjies wat reggesit is vir die tuiskoms.

Die stil introvert met sy fyn waarneming, intuïtiewe aanvoeling en opregte emosionele meelewing het bygedra tot Hannes en Lena se uiteindelike berusting en genesing.

Die Here het daardie dag deur Oom Frans geTROOS.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *