Jou huis is waar jou hart is!

Deur Jo Van Rooyen

Soms bly ’n mens lekker in ʼn huis en soms bly jy maar net.

Die wyses verklaar “Waar die hart is, daar is die huis”, en ek is nogal geneig om saam te stem. Die huis waar ’n mens jou kinders grootgemaak het bly die lékker huis wat baie herinneringe vir ’n mens bewaar. Dáár is die boom wat hulle geklim het – elke verjaarsdagpartytjie, van groot en klein, is onder dieselfde ou groot boom gevier. Al die eerste skooldagfoto’s is op daardie stoep geneem, tassie in die hand en haasbekglimlag. Die vreugde van swembad bou, maar selfs die plekkie waar jy gewerk het toe Ma beroerte gekry het, vorm deel van ʼn huis se geheue en geskiedenis. Die lief en die leed bind jou aan jou huis, jou tuiste.

Maar die kinders is nou groot en getroud en dit het tyd geword om te verkoop, om “kleiner te gaan”. Daar is gewik en geweeg: die wyse vader des huis wil mos summier heel “kleiner gaan”, net die noodsaaklike behou; maar die moeder-hen wil darem plek hê as die kinders dalk almal gelyk wil kom kuier. Daar móét plek wees, al is dit in die karavaan in die motorhuis.

’n Mens trek moeilik wortels op, hoe ouer hoe moeiliker, maar as die besluit geneem is, gaan dit klaar beter. Alles hang van die “kopskuif” en die ingesteldheid af. Die kleiner plekkie bly lekker, hanteer makliker en kan nogal steeds die kuier-kinders hanteer. Nou waaroor al die kommer en besluitneming? Dis net ʼn gebou met ʼn dak en mure. Dis die mense wat die “huis” maak.

So dink ek ook aan eendag se groot verhuising, na die huis wat vir ewig sal bly staan, daardie huis met die baie wonings wat plek het vir al die kinders. Dit sal ʼn huis wees, sonder dak of mure, waar geen opknapping, verfwerk of aanbouings nodig sal wees nie. Geen mot of roes nie. Groot is die genade om hiervan te weet, en daarop te hoop – sonder twyfel – en om onvoorwaardelik op hierdie belofte te vertrou. Ons baksteenhuisies hier op aarde, groot of klein, mooi of lelik, is almal tydelik, maar net tente. Soos die swerwende Israel van ouds, woon ons, sy volk hier op aarde, ook maar in ons tydelike tente. Hier swerf ons in ons eie bose woestyn rond met die skroeiende son van sonde, en die droogte van die dreigende wêreld wat ons wil verswelg, terwyl ons oorleef van water uit twyfelagtige bronne.

Heerlik is die troos dat dit alles wel tydelik is, dat ons eendag hierdie woestyn sal kan ontvlug en van die water sal leef wat ons dors vir ewig sal les. ’n Mens sal dalk weer wil vasklou aan die kettings van die ou huis op aarde, maar die wete van wat in die groot, nuwe woning wag, breek daardie skynbaar onbreekbare kettings los soos sagte garedraadjies.

Christus, Seun van God, het aarde toe gekom en soos ʼn gewone mens gelewe in die huis van ʼn timmerman. Hy het gely, gesterf, opgestaan en toe, die grootste wonder van alles, teruggegaan na die huis van sy Vader om vir ons daar plek gereed te gaan maak. En Hy sal terugkom om ons sélf daarheen te neem. Watter groter troos en vreugde kan daar wees? Watter makliker manier om afskeid te kan neem van hierdie tydelike tentwoning met sy aardse, bindende bande?

Ons is maar vreemdelinge in ʼn vreemde land, immigrante ,weg van hulle Vaderland wat weer eendag sal kan terugkeer na hul Vaderland. Ons leef hier op aarde soos kinders in ʼn koshuis en ons moet onthou dat ons te eniger tyd sal terugkeer na ons kamer “by die huis.” Daarom moet ons gereed wees, tas gepak vir die reis, skoon klere, hare netjies gekam, spreekwoordelik, om die Vader te kan groet in sy huis met die baie wonings.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *