My kind word geboelie

Dr. Trudie antwoord

Ek is baie bekommerd oor my kind. Ek is ʼn onderwyseres en moet hierdie jaar vir my eie dogter, Marinda, ook klasgee. Sy is stil en nederig en in graad elf. Een van haar vriendinne se broers wou die einde van verlede jaar ʼn verhouding met haar begin, maar sy het nie gereed gevoel daarvoor nie. Nou sit sy sussie, ʼn “vriendin” en klasmaat van Marinda, sedert die begin van die jaar telkens direk agter haar in die klasse. Marinda het egter hierdie jaar stelselmatig haar spontaneïteit verloor en selfs begin om angsaanvalle te kry. Haar keel trek in so ʼn mate toe dat ek haar verlede week hospitaal toe moes neem sodat sy behandeling kon kry, net om weer te sluk.

Toe sy hierdie week weier om skool toe te gaan, besluit ek om openlik met haar te praat oor die gedragsverandering wat sy ondergaan het. Na ʼn lang gesukkel het ek agter die hele storie gekom. Die wrede waarheid is dat die “vriendin” in al die klasse geniepsige, onwaar aanmerkings oor Marinda maak, wat hul direkte klasmaats rondom haar kan hoor.

Sy doen dit baie ongesiens. As hulle in my klas kom, dan maak sy ook oor my ongure aanmerkings, wat my kind uiteraard baie seer maak, en waarvan ek natuurlik glad nie bewus is nie. Marinda wou my nie daarvan vertel nie en was dus in alle opsigte die lydende party. Ek is so bekommerd oor haar en wil nie haar vertroue skend deur in te gryp nie. Is daar iets wat ek aan die situasie kan doen?

Dit is duidelik dat ons hier nie met ʼn gewone onderonsie tussen vriendinne te doen het nie. Jou dogter word op ʼn gemene wyse geboelie. Die belangrikste ding wat jy kan doen, is om haar te help om die situasie te hanteer. Boelies val meestal onder drie kategorieë: Hulle is óf narcissiste wat dink hulle is die belangrikste persone in hulle omgewing, óf hulle is agterbaks, ʼn tipe agteraf-boelie wat hatige genot daaruit put om mense stil-stil baie seer te maak, óf hulle is verslaaf aan mag en sal die persoon telkens onverwags voor ʼn groot gehoor verneder.

Daarteenoor is diegene wat geboelie word gewoonlik saggeaard en nederig. Dit klink vir my asof hierdie dogter wat jou kind so boelie, ʼn agteraf-boelie is. Sy breek jou kind se selfbeeld af, terwyl weinig mense dit agterkom.

Jesus Christus is hierin ons grootste voorbeeld: Hy is die hele tyd geboelie gedurende sy aardse omwandelinge. Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het voortdurend vir hom strikke gestel, omdat hulle hom gevange wou neem en doodmaak. Hy het hulle telkens met die grootste wysheid self uitoorlê, of bloot vermy. Dink byvoorbeeld aan die strikvraag oor belasting: Of hulle belasting aan die keiser moes betaal, of nie. Sou Hy gesê het dat die keiser dit nie verdien nie, was Hy in die moeilikheid by die Herodiane en sou Hy gesê het dat hulle dit wel moes betaal, was Hy in die moeilikheid by die Fariseërs. Wat Hy ook al sou antwoord, sou vir hulle rede gegee het om Hom gevange te neem. Ons ken sy antwoord: Die muntstuk behoort aan die persoon wie se kop daarop uitgebeeld is (Matt. 22:20-21), iets waarop niemand iets kon sê nie.

Boonop het Jesus sterk standpunt ingeneem as ander geboelie is: Dink byvoorbeeld aan Maria, Lasarus se suster, wat Jesus se voete gesalf het met nardusolie en toe voor almal berispe is deur Judas Iskariot, omdat sy die salf eerder kon verkoop en die geld aan die armes gee. ʼn Mens kan jou net indink hoe verneder sy moes gevoel het. (Hoe ironies dat Judas die geld wou steel). Maar Jesus het vir Judas onmiddellik gemaan om stil te bly en haar uit te los. Toe het Hy nog verder gegaan en haar daad geprys, en gesê dat dit ʼn voorbereiding is vir sy begrafnis (Joh. 12:2-7). Judas Iskariot se agteraf-boelie-geaardheid, kom natuurlik die sterkste na vore toe Hy vir Jesus in die tuin van Getsemane met ʼn soen verraai het.

Jesus het gedurende sy aardse omwandelinge nooit ʼn geboelie toegelaat nie: Eers aan die einde van sy bediening, toe Pontius Pilatus geen skuld in Hom kon vind nie en Hy eintlik daarop kon aandring om vrygelaat te word, het Hy geweldige onreg teenoor Homself toegelaat. Hy is verneder, gegesel, geslaan en gespot voordat Hy gekruisig is. Maar daardeur het Hy duur betaal vir ons stukkende sondige bestaan, die dood oorwin en ons weer met God versoen (Kol. 1:20).

Daarom moet Marinda onthou, sy is ʼn uitverkore, duurgekoopte en kosbare kind van God!

Maak jou kind bewus van die volgende:

  • Boelies teiken gewoonlik die stil saggeaarde kinders. Jou dogter moet egter besef dat nederigheid nie beteken dat sy nie beslis en assertief mag optree wat haar beginsels betref nie. As kosbare kind van God mag sy nie toelaat dat iemand haar emosioneel afbreek nie. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie… (2 Tim. 1:7).
  • Laat jou dogter nou oefen om met beslistheid, hard en duidelik standpunt in te neem teenoor hierdie boelie. Moedig haar aan om in die klasse op te staan en hard en beslis vir die boelie te vra om dit wat sy so pas gesê het, voor die hele klas te herhaal. Dit vestig die hele klas en onderwyser se aandag op die boelie, iets wat veral die agterafboelies nie kan verdra nie en huiwerig maak om weer so op te tree. Jou dogter kan selfs ferm daarop aandring om op ʼn ander plek te gaan sit.
  • Doen saam met jou dogter Bybelstudie en ondersoek en bespreek die verskillende persone wat volgens die Bybel boelies was, soos Kain, Farao, Goliat, Saul, Agab en Herodes wat Johannes onthoof het. Bespreek hulle agendas en bepaal watter tipe boelies hulle was, en wat hulle daardeur bereik het. So ʼn studie sal hulle die groter prentjie laat sien en laat verstaan dat sy nie ʼn slagoffermentaliteit moet aanneem nie.
  • As Christen moet sy die boelie vergewe, selfs sou dit 77 keer wees (Matt. 18:22), maar leer haar dat dit nie beteken dat sy die boelie sommer weer kan vertrou nie. Vertroue moet eers weer deeglik verdien word.
  • Maak seker dat die kletskamers op jou dogter se foon en rekenaar, haar nie ook teiken nie. Blok persone wat gemene dinge van haar sê uit. (Jongmense is geneig om dit oor en oor te lees, en dit veroorsaak baie pyn.)
  • Moedig haar aan om nog sosiaal te verkeer en gereeld sport te beoefen. Keer haar om haarself nou te isoleer.
  • Bid elke oggend saam met haar vir wysheid om met insig op te tree.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *