Ons leef omdat Christus leef

Deur Jo van Rooyen

Op ʼn sprankeloggend het ons OUer lidmate gaan stap – sommer vir die lekker! KlippekOUend, klOUterend, klOUend, as gevolg van die middelgedeelte van die woorde, klim ons swetend oor klip en boomwortel, rivierlangs op pad na ʼn bruisende waterval…

Pragtige bome het ons omvou, ons tot stilstand gedwing om óp te kyk na die digte blarekroon. Kort-kort het ons gaan staan om sommer net om asem terug te kry. So ’n stappie kan harde werk wees so in die somerhitte.

Kort op my hakke, het my klein Engelse, Johannesburgse kleindogter getrippel. Uitgelate, rats en vrolik het die vier jaar oue voetjies die paadjie al agter Oupa en Ouma aan gevolg – die mondjie vol klein, stadsdogtertjie vrae:

“Ouma what is this? Why?”

Toe kom die groot vraag, een van die baie langs die pad: “Ouma what do trees have inside them?”

Ouma was tegelyk verstom en dankbaar: Dankie Here dat haar klein ogies die wonder van U skepping raaksien. Dankie dat U haar klein koppie vul met vrae en dankie dat U altyd ʼn Ouma se kop vul met antwoorde. Twee treë verder lê haar antwoord in die paadjie, net reg vir Ouma om op te raap: ʼn Ou boom, sy hart aan flarde, vaal vesels, eens vol sap en omring van donker bas, nou leweloos besig om terug te keer aarde toe. Oopgeskeur wys die boom vir my kind “what a tree has got inside”. Ek glimlag wys, maar dankbaar. Male sonder tal is sulke vrae al vir my beantwoord. Klein, vrolike kindervragies en diep, seer, grootmensvrae.

En ek besef: Hy het ons nie alleen agtergelaat nie. Jesus Christus, wat eens gesterf het vir ons en in ʼn graf agter ʼn groot rots toegemaak is, leef want Hy het daardie rots voor die graf uit die pad gerol. Waarlik: Hy leef. Hy het gesterf om die dood te oorwin, sodat ek nie agter die rots van die dood en die sonde in die graf sou moes bly nie, sodat ek in Hom mag lewe. Christus leef uit die krag van God en saam met Hom sal ons ook uit die krag van God lewe” (vgl. Ef. 1: 19-20).

Die twee Marias het hartseer na die graf gegaan (Matt. 28) – hulle het geweet Jesus is dood. Hulle het beleef hoedat Hy verpletter is deur sy eie mense aan die kruis en toe deurboor is deur ʼn Romeinse spies. Dood.

Maar die graf was leeg en voor hulle het die lewende, opgestane Christus verskyn (Matt. 28:9).

Paulus praat oor die omvang en betekenis van die kruisgebeure wanneer hy sê: “Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe omdat julle een is met Christus Jesus” (Rom. 6: 8-11).

Deur sy dood en die fisieke opstanding van sy liggaam het Hy ons sy nuwe lewende liggaam hier op aarde gemaak. Ons leef omdat Christus leef. Soos my arms, hande, my bene my brein gehoorsaam, so moet ons, sy kerk, sy arms en hande hier op aarde, Hom (die Hoof van sy kerk) gehoorsaam, sy opdragte uitvoer en in nederige dankbaarheid sy werk hier op aarde doen.

In elkeen van ons leef ʼn stukkie van Christus deur die gawes wat ons van die Gees ontvang het om sy werk te kan doen, al is dit net om klein vragies te beantwoord. Elke deel van die liggaam het sy eie belangrike en unieke taak (vgl. 1 Kor. 12).

Die grootste gawe wat ons ontvang het is dat Hy vir my gesterf het, opgestaan het en vir my die dood en die sonde oorwin het.

Hy leef sodat ek in Hom mag leef en daarom kan ek en my witkoppie verstom staan voor sy almag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *